24 dae gelede
Ná ’n besoek aan die skool is Mercia ook vuur en vlam
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

“Mense en hul Dinge” is CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk. Geniet die vierde hoofstuk!

DIE kolonel moes seker die verbasing op my gesig gesien het, want hy wil dadelik weet of hy iets verkeerd gesê het.

“Glad nie, Kolonel,” gooi ek haastig wal. Dis net...”

“Wat is dit, Sersant?” val hy my skerp in die rede. “Spoeg dit uit, anders gaan jy die hele tyd daaraan sit en verstik. Moenie info wat waardevol kan wees van my weerhou nie.”

“Dis Ricky Grootboom, Kolonel. Ek kan my nie indink dat hy by iets soos human trafficking betrokke kan wees nie.”

“Vergeef my as ek onsensitief klink, maar iemand wat sy ou skoolvriend se verloofde kan afvry, is seker tot enige iets in staat. Dink jy nie ook so nie?”

Dis ’n lae hou. Is dit nodig dat die kolonel so persoonlik moet wees? ’n Man het ook mos gevoelens.

“Dit behoort nie ’n probleem te wees om ’n ogie oor Ricky te hou nie,” kom Mercia tot my redding.

“As hy hom met iets onheiligs besig hou, sal ons dit uitvind.

“Ek en my kollega maak ’n gedugte span, nie waar nie, sersant Groentak?”

Verdomde Mercia. Moet sy my ook verder op die spot sit? Ek probeer nog my kop rondom die Ricky-ding kry. Hy is dan hoof van sekuriteit by ’n versekeringsgroep. Goeie salaris, maatskappymotor.

Hoekom kinderhandel? Dit maak nie sin nie. Iewers moet daar ’n misverstand wees.

“Sal seker nie skade doen om te kyk waarmee Ricky hom alles besig hou nie, Kolonel. Ek is in.”

“Dankie, julle twee. Ek het geweet ek kan op julle reken. Hou my op hoogte. Julle is verskoon.”

Toe ons uitstap, voel ek ’n ligte krieweling in my nek. Meteens sien ek uit na hierdie opdrag van die kolonel.

Ek het nog altyd geglo daar brand iewers ’n vuurtjie as jy ’n rokie sien trek. Ek is nie die wraaksugtige tipe nie, maar dit sal lekker voel as ek kan bewys Ricky is doenig met die goed waarvan hy verdink word.

Nog beter sal wees as ek hom op heter daad kan betrap. Van nou af sal jy in jou spoor moet trap, Ricky Grootboom. Ek gaan jou soos ’n valk dophou...

“LYK my ons twee is nou in dieselfde bootjie, Kaptein,” probeer ek ’n geselsie aanknoop toe ek en Mercia by die hek uitry. Ons is op pad na die Stelrivier Hoërskool om te gaan hoor waaroor die skoolhoof wil gesels.

Ek sit agter die stuurwiel, Mercia aan die passasierskant. Ek kyk in die truspieëltjie en sien hoe sy haar oë vir my rol.

“Jy soek geselskap, lyk dit my. Is jy dan so eensaam sonder jou geliefde Roslin?”

“Ouch, dis nie nodig om nog olie op die vuur te gooi nie, Kaptein. My hart is reeds gebreek.”

“Jy’t daarvoor gevra. Jy kan nie jou mislukte verlowing met my egskeiding vergelyk nie.

“Die twee verskil hemelsbreed. Eintlik is ons veronderstel om oor polisiewerk te praat, nie oor liefdesprobleme nie.”

“Nou goed. Hoe gaan ons Ricky Grootboom se bewegings dophou sonder dat hy iets agterkom?”

“Maklik. Ons gaan hom nie dophou nie.”

“Maar die kolonel het–”

“Vergeet van die kolonel. Hy probeer net sy gewig rondgooi.

“As ons moet reageer op elke anonieme oproep wat hy ontvang, gaan ons nooit ons enige sake oplos nie. Ons is speurders, sersant Groentak. Nie spioene of under­cover agents nie.”

Wat is fout met Mercia? Sy het nog nooit van ’n uitdaging weggeskram nie. Ek ken haar nie so nie.

“Kaptein, jy het dan die kolonel belowe–”

“Dit was net om hom van ons case af te kry. Ek is gatvol van mans in magsposisies wat wil maak nes hulle wil. Ek gaan my nie meer laat voorsê nie.”

Ek kry die idee dat Mercia nie hier na kolonel Mbeki verwys nie, maar ek besluit om liewer my mond te hou.

In stilte ry ek verder. As Mercia die kolonel se opdrag gaan ignoreer, is dit haar saak. Ek sal op my eie gaan kyk waarmee Ricky Grootboom doenig is.

Miskien trek ek hom vas en ek kan vir hom én Roslin tong uitsteek. Die een wat laaste lag, lag die lekkerste.

Die skoolhoof van Stelrivier Hoër, juffrou Hanekom, glimlag vriendelik toe ons haar kantoor binnestap.

Ek en Mercia stel onsself voor en sy beduie ons moet sit.

“Ons sit met ’n probleem hier by die skool,” sê die hoof.

Wie van ons het nie probleme nie? wil ek vra, maar bedink my.

“Laat ons hoor wat die probleem is,” kom dit van Mercia. Verbeel ek my of is daar iets soos irritasie in haar stem?

Genugtig, ek wens Mercia wil weer haar ou self wees. Die egskeiding is verby. Dis tyd om aan te beweeg. Sy kan nie haar moods op almal uithaal nie.

“Een van ons gr. 9-leerders word sedert gister vermis. Sy is ná skool by die hek uit, maar het nooit by die huis opgedaag nie.

Volgens die leerder se ma het hulle gisteroggend ’n argument gehad en sy was onder die indruk dat haar dogter by ’n familielid oorgeslaap het.”

“Vermoed u die leerder is dalk ontvoer?” vra Mercia.

“Ek hoop nie so nie... maar ek glo dis moontlik.”

“Wat laat u so dink?”

“’n Wit minibustaxi met donker ruite word gereeld in die omgewing gesien, veral soggens voor skool en smiddae teen huistoegaantyd. Ek vermoed daardie taxi het iets met die leerder se verdwyning te doen.”

“Weet iemand dalk wat die taxi se registrasienommer is?” tree ek ook tot die gesprek toe.

“Só kan ons uitvind aan wie dit behoort.”

“Ek glo nie iemand het daaraan gedink om dit neer te skryf nie.”

Mercia gee ’n diep sug. “’n Mens kan nooit te versigtig wees nie. Wat is die leerder se naam?”

“Shireen Grootboom.”

Onmiddellik gaan daar gevaarligte in my kop aan. “Weet Juffrou dalk of sy familie van Ricky Grootboom is?”

Die skoolhoof dink ’n rukkie.

“Die naam klink bekend. Ja, Ricky Grootboom en Shireen se pa is broers. Maar wat het hy hiermee te doen?”

“Ons sê nie hy het iets hiermee te doen nie, Juffrou. Ons wou net weet of daar ’n verwantskap tussen hulle is. Ricky Grootboom was saam met my op skool,” sê ek.

Sy skryf die adres van Shireen Grootboom op ’n papier en bedank ons dat ons tyd gemaak het om haar te kom sien.

Voordat ons in die kar klim, verander Mercia van deuntjie.

“Sersant, ek glo die kolonel was reg. Ons het rede om Ricky Grootboom se bewegings dop te hou.

“Ek dink hier is iewers ’n slang in die gras.”

Ek kan amper nie glo dis dieselfde persoon wat vroeër niks van Ricky Grootboom wou weet nie.

  • Lees Maandadg verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters