28 dae gelede
Ná hul inkopietog wag daar ’n skok op Jenny en Mia
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

’n Koekblik Vir ’n Beter Lewe is ESME CUPIDO se jongste skryfstuk. Geniet die derde hoofstuk!

‘MAAR dis nie koekies nie!” sê Mia geskok. “Kyk al die geld …”Hulle ruk soos hulle skrik toe iemand aan die deur klop.

“Sjuut.” Jenny kyk na Mia se koeëlronde oë en druk haar vinger op haar lip.

“W-wie is dit?”

Mia kyk weer verstar na die blik.

Die klop aan die deur is harder. Jenny staan op, kyk rond en druk die blik in die kas onder die sink.

“Ek dink dis die sersant. Moet niks hiervan sê totdat ons dit uitgefigure het nie.

“Gaan kamer toe en moenie uitkom voordat ek so sê nie.”

Toe die derde klop opklink, maak Jenny die deur oop.

“Naand, Juffrou. Ek het vir ’n oomblik gedog hier is niemand nie,” sê die speurder met ’n effense glimlag.

“Naand, Sersant,” sê sy senuagtig. “Kom binne. U is vroeg. Of … of laat. Dalk is dit omdat dit so gou donker word.

“Ek bedoel, 19:00 is nie eintlik so laat nie, maar in die winter…”

“Dankie, Juffie,” stuit die sersant Jenny se woordevloed.

Hy gaan sit en en voel-voel in sy bosak na ’n notaboekie.

“Manfred Jacobs is vermoor,” sê die sersant terwyl hy Jenny stip in die oë kyk.

“Nee! Nie oom Mannie nie! W-wie sou so iets doen?” vra sy ontsteld.

“Dis presies wat ek gaan uitvind. Sê my, Juffie, wanneer was die laaste keer dat u Manfred Jacobs lewend gesien het?”

“Oom Mannie was gister, nee eergisteraand hier by ons. En hy het vir ons uh … lemoene, net lemoene, gebring. En toe’s hy weg.”

“En u het hom nie weer gesien nie?”

“O ja, ek het hom weer die oggend gesien, gisteroggend,” onthou sy.

“Hy het toe baie vreemd opgetree. Hy’t my nie soos altyd gegroet nie,” sê sy nadenkend.

“Het u enigiets verdags opgemerk in die laaste paar dae?”

Sy dink ’n oomblik na en skud haar kop. “Nee, Sersant, hy was maar soos altyd.”

“Hy’t nie melding gemaak van enige familie of vriende nie?”

“Oom Mannie het al van sy suster gepraat, maar ek kan ongelukkig nie haar naam onthou nie. En hy en die man in die eerste flat gesels ook met mekaar.

“Ek het sy vrou gister vir die eerste keer gesien.”

Die speurder skryf iets neer en maak sy boekie toe en sê: “U sal my op hoogte hou as u van enigiets onthou, sal u?

“Natuurlik, Sersant, maar daar is n-niks anders nie.”

Sy voel skuldig en bestudeer eerder die bont skildery teen die muur asof sy dit vir die eerste keer sien. Hy haal sy boekie weer uit, skryf iets neer en skeur die bladsy uit.

“Hier, dis my nommer. Bel my.”

“Dankie,” sê sy bewerig.

Sy gaan val met ’n sug op haar bed neer nadat die speurder weg is. Die een skok op die ander.

“Mia, oom Mannie is vermoor!”

“Wat?” Mia sit geskok regop.

“Oom Mannie was so ’n liewe, gawe oom. Wie sal so iets doen?”

Jenny skud haar kop. “Ek weet nie, maar wat ek wel weet, is dat ons nie hierdie geld kan hou nie.

“Ons moet die polisie daarvan sê.”

“Ek het nog nooit in my lewe so baie geld gesien nie,” sê Mia.

“Kan ons nie net ’n deel daarvan hou nie? Dink net wat ons alles daarmee kan koop!”

“Vergeet dit, Mia,” sê Jenny streng. “Dis nie ons s’n nie.”

“Maar oom Mannie het dit vir ons gegee!” pruil Mia. Dink net aan al die klere en skoene wat ons kan koop.

“En oe, wat van vakansies? Sommer oorsee,” raak Mia in vervoering.

“As ons die geld kon gebruik, het ek eers ons skuld betaal,” sê Jenny suur. “Maar nee, die regte ding sal wees om die geld aan die polisie te oorhandig.”

“Hoekom moet ’n mens altyd die regte ding doen?” sug Mia en tel haar selfoon op.

Jenny staan op om haar slaapklere aan te trek. Sy kan haar suster nie sê dat sy dit wel oorweeg om van die geld te leen nie. Ja, te leen, want sy gaan dit weer terugsit.

Sy huiwer ’n oomblik. Wat as die geld die rede vir die moord op oom Mannie is?

Die volgende oggend terwyl Mia in die stort is, haal Jenny sorgvuldig die koekblik onder die sink uit. Sy sluit ’n oomblik haar oë en haal diep asem voordat sy die blik oopmaak en twee stapels note uithaal.

Sy steek dit vinnig in haar handsak voordat sy die blik weer diep agter die skoonmaakmiddels bêre.

Sy móét Mia se skoolfonds betaal en die woonstelhuur. Sy sal dit weer terugsit, dink sy skuldig. Sy verstyf toe sy Mia na haar hoor roep.

“Kyk hier,” sê sy.

Mia hou haar skoolskoen onderstebo. Die sool het heeltemal losgekom van die hak.

Toe Jenny die deur later agter hulle sluit, het sy nóg van die note uitgehaal. Geld wat sy weer gaan terugsit, belowe sy haarself. Die middag ná skool gaan Mia en Jenny winkels toe.

Nadat hulle skoolskoene gekoop het, koop hulle ook ’n paar stukkies winterklere vir elkeen. Jenny probeer nie dink daaraan of skuldig voel oor die geld nie.

Hulle besluit om in ’n restaurant te gaan eet.

Dis hemels vir hulle om nie te wonder of hulle genoeg geld gaan hê nie en net te bestel.

Toe Jenny en Mia moeg met klomp pakkies in die hande by die woonstel kom, sien hulle die deur staan op ’n skrefie oop. Jenny frons, want sy maak altyd dubbel seker die deur is gesluit voordat sy loop.

“Bly jy buite,” sê Jenny sag.

“Kom ons roep eerder daai ander man van nou die aand,” sê Mia.

Net toe stoot die vrou van woonstel een die deur van binne wyer oop. “Waar loop julle rond? Ek het jul deur oop gesien staan en ek dag julle …”

Jenny kyk haar oopmond aan.

“Hoe’t mevrou by ons flat ingekom?”

“Ek het ’n loper,” sê sy en lag heerlik toe sy hul gesigte sien.

“Nee, ek sê mos toe ek wil klop, toe sien ek die deur staan hoeka oop. Julle is vergeetagtig en hier stap ’n moordenaar rond,” sê sy terwyl sy verby hulle na buite skuur.

“En julle twee susters is ook maar lekker morsig. Jul plek lyk erger as ’n varkhok.”

Toe Jenny en Mia instap, begroet ’n deurmekaarspul hulle. Jenny sit haar arm om Mia toe sy begin snik.

Die TV staan windskeef op die tafeltjie, die skildery hang aan ’n draadjie, hul ma se mooi ornamente lê gesaai oor die vloer.

Jenny stap vinnig kombuis toe.

Kaste staan oop, maar gelukkig is niks gebreek nie. Toe Jenny agter die skoonmaakmiddels kyk, staan die koekblik nog op sy plek. Sy sug van verligting.

In die kamer lê hul klere in hope op die vloer. Selfs Mia se groen spaarvarkie lê oopgesny, die sente wat daarin was, is eenkant gesmyt.

  • Mia kyk haar suster met groot oë aan en sê: “Ek is bang, Jenny.” Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters