26 dae gelede
Ná al die hartseer kry die susters ’n soete nuwe begin
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders!

’n Koekblik vir ’n Beter Lewe is ESME CUPIDO se jongste skryfstuk. Geniet die slothoofstuk!

‘GANSIE … of Gonsie, die vrou met wie oom Mannie by die deur gepraat het? Maar dis dan die antie van flat 1,” sê Mia verward.

“Dis reg, skattebol.”

Skielik staar almal in die loop van ’n rewolwer vas.

“Net een geluid en dis koebaai, Meraai.”

Dis nie nou meer die nuuskierige antie van woonstel nr. 1 nie, maar ’n koel, berekende vrou wat voor hulle staan.

“Almal op daai bank,” blaf sy ’n bevel.

“Glo my, ek sal nie huiwer om dood te maak nie.” Sy glimlag.

“Daarvan kan ou Mannie en Karel getuig.”

Jenny trek haar asem skerp in en sit haar arm beskermend om Mia.

“Jy is ’n siek mens, Gonsie,” sê ant Winnie met veragting. “Hoekom het jy Mannie vermoor?

“Hy het my belowe hy het niks meer met jou te doen nie. Al van laas jaar af.” Ant Winnie se stem breek en sy huil saggies.

“As hy my die klippies gegee het, het hy vandag nog geleef,” sê sy koud.

Mia kyk vinnig na Jenny. “Die klippe wat oom Mannie nie vir die antie wou gee nie,” sê sy.

“Presies. En ek het rede om te dink daai klippies is hier, in hierdie flat. So, hoe gouer julle tweetjies dit vir my bring, hoe beter.”

Van iewers kry Jenny haar stem terug. “So, al die tyd het jy oom Mannie geken?”

“Niks met jou te doen nie, maar ons kan seker vinnig ’n chit-chat inwerk.

“Ek en Karel het Mannie leer ken deur die diamanthandel. Al die jare saam gewerk. Totdat hulle twee besluit het hulle wil uitlap. Karel en Mannie.”

“Is Karel jou man?” vra Jenny.

“My broer. Ek moes van hom ook ontslae raak. Net betyds ook, want die aand nadat ek Mannie vermoor het, wou hy al die polisie sê. Hy’t geweet dis ek.

“Maar dit was eers nadat ek die klippies hier in julle flat kom soek het dat hy die polisie wou bel.

“Ek het hom met chloroform oorval en toe versmoor. Ou Mannie dieselfde,” vertel sy asof sy oor alledaagshede praat.

“Ek het geweet daar gaan moeilikheid wees toe Mannie en Karel albei woonstelle in dieselfde kompleks kry,” snuif ant Winnie.

“Soos ek sê, ou Winnie, as ou mank Mannie net die klippies vir my wou gee. Dit was nog die laaste besending gewees.

“Maar toe raak hy skielik soos ’n saint; wou dit op ’n naamlose manier aan die polisie gee. Ga!”

“Gonsie, binne in jou is daar tog ’n goeie mens wat wegkruip onder al die lae boosheid. Gee jouself aan die polisie oor,” pleit ant Winnie.

Gonsie lag skril.

“Jy’s stapelgek, ou Winnie. Dié lekke ekke nou in die tronk sit? Nee, ou vrou.

“Eers gaan ek daai klippies kry. My contacts is op stand-by en voordat julle kan sê ‘klippies’, is ek landuit.”

“Hier’s nie klippies nie. Jy kan die hele flat deursoek.

“Miskien is dit in oom Mannie se flat of … of hy het ...”

“Ek het klaar die ou man se flat deursoek. Nee, dis hier,” sê sy ferm.

Die deur swaai skielik oop. ’n Jongerige man val amper oor sy voete toe hy by die deur instap.

“Waar was jy so lank, jou sot?” vra Gonsie woedend en gee hom ’n hou agter sy kop.

“Auw, ’n man moet mos eet ook,” sê hy terwyl hy sy agterkop vryf.

“Jy vreet terwyl ek vir jou wag. Is die twee hier buite vasgebind?”

Hy knik, maar gluur haar gebelg aan.

“Toe, begin soek vir daai klippies. Begin daar in die girls se kamer, dan die badkamer en kombuis. Soek deeglik, jou stommerik.”

Die man verdwyn die gang af en Jenny sug toe sy hoor hoe die kaste en laaie oopgeruk word.

Dis toe Jenny glas hoor breek in die kombuis dat sy aan die koekblik dink. Sê nou die man kry dit?

Haar moed sak in haar skoene toe sy die man hoor uitroep.

“Aweh, jackpot! Gonsie, kyk hier!” roep die man opgewonde uit.

Jenny en Mia kyk mekaar grootoog aan. “Ek kan verduidelik,” begin Jenny, maar Gonsie maak haar met ’n kragwoord stil.

“Ek het geweet jy lieg! Het jy gedink ek is ’n fool?”

Die man kom triomfantelik met ’n swart sakkie by die sitkamer in.

“Waar was dit?” Gonsie vat die sakkie by die man en gooi die inhoud in haar hand uit.

“In die hoek lê ’n sak lemoene en ek wou een vat, want ’n man is lus vir ’n lemoentjie …”

“Ja, ja,” maak Gonsie hom stil.

Sy kyk met glinsterende oë na die handvol diamante.

“Ons gaan ryk wees,” sê die man en vryf sy hande teen mekaar.

Gonsie grawe in haar jassak en haal ’n kleinerige pistool uit.

“Dè, jy hou hulle hier totdat ek jou bel. Die manne wag,” sê Gonsie terwyl sy na die deur beweeg.

“Hoe gaan ek weet …”

“Ek gaan jou bel, swaap!”

Toe bars die deur oop. Skielik is die vertrek gevul met blou uniforms en Jenny-hulle hoor sersant Van Rooyen se stem.

“Dis verby, Gonsie, alias Ger­truida Witbooi.”

AGTERNA, toe Gonsie en haar handlanger geboei en verwyder is, vertel Van Rooyen dat die ondersoek na oom Mannie se dood daartoe aanleiding gegee het dat die polisie ’n groot diamantsmokkelsindikaat oopgevlek het, een waarvan Gonsie steeds ’n lid is.

Jenny maak keel skoon.

“Sersant, daar is eintlik nog iets wat ek … wat ek wil sê. Oom Mannie het nie net die diamante in die lemoensak weggesteek nie, maar hy het ook geld daarin versteek.”

Sy staan op en kom twee minute later met die koekblik terug.

Sy hou dit na die sersant uit.

“Die koekblik!” lag ant Winnie.

“Nee, my kind. Daar is niks onwettigs aan daai koekblik se inhoud nie. Toe ons pa ’n paar jaar gelede gesterf het, het Manfred sy erfgeld getrek en in die koekblik gebêre.

“Hy’t gesê dis vir eendag.”

“Is ant Winnie seker? Want ons het al van die geld gebruik,” sê Jenny skuldig.

“Kind, Mannie het seker besef dat sy lewe in gevaar is en die mense vir wie hy sy spaargeld die graagste sou wou gee, is julle twee.”

“ ’n Brief,” sê Van Rooyen.

Onder die hope note het die sersant ’n opgevoude velletjie papier uitgetrek. Hy hou dit na Jenny uit.

Dit lyk asof die brief haastig geskryf is en bestaan uit net ’n paar reëls. Toe sy ná ’n rukkie die brief weer opvou, blink haar oë.

“Hy sê die koekblik is ons s’n en die sakkie met diamante moes ons aan die polisie oorhandig. Hy is jammer oor … alles.”

Van Rooyen oorhandig die koekblik aan Jenny en maak aanstaltes om te loop.

Jenny kyk na Mia en glimlag.

“Wie sou kon dink dat ’n koekblik die begin van ’n beter lewe vir ons sou wees?”

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters