Verlede maand
’n Verrassing wag op Stone toe hy sy groot move maak
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag is dit hoofstuk 9 van CEDRIC AFRICA se verhaal Bloedgeld. Geniet die leesstof!

HY GOOI Boef se lewelose liggaam op ’n vuil sponsmatras in ’n sinkhokkie agterin die jaart van Trane se maisonette.

Nou sal hy moet gou speel voordat hier nóg customers opdaag.

Hy beweeg geluidloos deur die deurmekaar kombuisie.

Iemand kreun onder ’n kombers in die voorkamer. Hy lig die kombers op. Dié ou is op die uitcut met sy gun voor by sy jeans ingedruk.

Hy glimlag wrang toe hy na die tatoeëermerk op sy kaal bors staar: “Get rich or die trying.”

“Ek dink jy verdien laasgenoemde,” fluister Stone amper onhoorbaar. Sy vlymskerp jagmes se lem sny soos ’n warm lem deur botter deur Smiley se gorrel. Hy sal nooit weer die son sien opkom nie.

TRANE is net besig om die laaste pakkie R200-note in die reeds vol kussingsloop in te prop toe hy bewus word van Stone se teenwoordigheid in sy slaapkamer.

Hy ruk soos hy skrik. Vrees is duidelik sigbaar op sy vuil, getjapte gesig.

“Awê, masekind. Ek kom vir daai deal wat jy met my wou maak.”

Trane antwoord nie, staar net vreesbevange na die Glock se loop.

“Dit smaak my jy het vergeet van onse deal. Miskien moet ek jou so ’n bietjie remind.”

Hy ken dié frans; hulle twee het lank saam geoperate. Hy het nie daai guts om ’n witbene uit te haal nie. Ek moet net soe ’n bietjie in sy mind klim, da’ sal hy afkoel.

“Masekind, ja, jy sien: Daai oggend, toe moes jy my hie’ by my kraal kô meet. Ma’ toe jy hie’ kô, was hie’ mos niemand nie. Ek en my boys moes self daai oggend flee vi’ onse liewens,” sê Trane.

“Die block het toe hoeka mos al vroeg geskroei … Djy wiet mos hoe issie ouens hie’ oor territory.

“Shame, en ek het nogals va’ ou Boertjie gelikes. Altyd soe ’n oulap in sy hande gesit wanne’ hy my kar gewas het.

“Mr. Meintjies het nogal sy ou girl kwaai uitgesort met ’n fancy kis en al daai anne goetes.”

Met sy hande steeds hoog bokant sy kop en die volgestopte kussingsloop tussen sy bene wag hy roerloos vir ’n reaksie van Stone.

Dan besef die arrogante adjudant van Hilton Meintjies dat sy skills nie gewerk het nie. Die volgende oomblik ontplof ’n bullet sekuur tussen Trane se oë.

HY IS steeds die enigste gas by Olga se gastehuis, maar die aandete wat sy berei het, was ’n feesmaal. Vanaand was sy maar aan die stil kant ... Seker bekommerd oor sy nog nie nuwe gaste ingekry het nie. Shame, en hierdie plek moes ’n kleinhuisie vol geld gekos het.

Stone kom dadelik orent toe hy voetstappe in die gang hoor. Dan wag hy dat sy klop, maar die voetstappe verdwyn weer.

Snaaks, dink hy terwyl hy uit sy bed klim en die deur oopmaak.

Sy oë val dadelik op die twee koerante wat voor sy kamerdeur lê.

Hy lees die voorbladberigte vlugtig.

“Kapt. Wimpy Willemse, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het die moord op drie vermeende druglords bevestig.

“ ’n Kussingsloop met ’n onbekende bedrag in, vermoedelik dwelmgeld, is by een gevind. Niemand is nog in verband met die moorde gearresteer nie.”

Stone gooi die koerant voor sy bed neer en kyk na sy selfoon, wat liggies op sy bedkassie vibreer.

Dit beter daai majoor wees. Hy sukkel al vandat hy hier aangekom het om hom in die hande te kry, want skielik bestaan sy nommer nie meer nie. ’n Sug ontsnap moeisaam.

Dit is ’n boodskap van Sharon. Sy het toe vir ou vet Giepie gekonfronteer oor sy connection met Hilton Meintjies. Hy het eers zip gekap, maar met die hele sak patats uitgekom nadat sy gedreig het om hom te los.

Hy was glo in so ’n toestand dat sy suiker die hoogte ingeskiet het.

Hy het haar ook ’n WhatsApp-boodskap van kapt. Rollison gewys. Daar’s vanaand ’n meeting by sy huis en die baas het gesê hy moet ook daar wees.

Stone stuur vir Sharon ’n kort boodskap dat hulle na ’n veilige plek moet vlug; Hilton Meintjies en sy gespuis kan jy nie vertrou nie. Daarvan kan Stone Stenekamp getuig.

DIÉ aand is dit donker en bewolk. ’n Reënbui dreig om uit te sak.

Stone, in swart kamoefleerdrag, staan naby ’n T-aansluiting in die donker skadu’s. Die trokkie sal nou enige tyd hier wees.

Hy vryf sy hande teen die koue.

As daardie majoortjie se selfoonnommer dan nou ewe skielik nie meer bestaan nie, sal hy op sy eie moet aangaan. Dít was nog altyd sy probleem: Hy vertrou mense te gou.

Maar hy het tot hier gekom en hy gaan sy mission klaarmaak, sonder daai majoor of enige een se hulp.

Hy spits sy ore. Dan hoor hy dit. Die dreuning van die broodlorrietjie se dieselenjin klink vanaand soos musiek in sy ore. Nou moet jy ’n wetsgehoorsame burger wees en stop by die stopstraat.

Lional se kop skud op die maat van die musiek uit sy oorfone toe hy by die stopteken stilhou. Die volgende oomblik ontplof Stone se vuis teen sy kaak en hy word uit die kajuit gepluk.

“Awê, my broe’. Wat is dié wat jy da’ nou hie’ dala? Wiet djy saam wie jy nou hie’ k*k soek?”

Nog ’n hou met die gun se kolf teen sy slaap laat die verwarde Lional inmekaarsak.

Dinge gebeur vinnig. Met Lional agterin die trokkie vasgebind klim Stone agter die trokkie se wiel in.

“Surprise, surprise, Mr. Meintjies,” fluister hy met ’n lagstem toe hy deur die groot sekuriteitshekke van Hilton Meintjies se huis ry.

’n Hele ruk later parkeer Hilton Meintjies met sy motor voor sy voorportaal.

Hy is salig onbewus daarvan dat sy twee wagte en lorriedrywer êrens langs Bloubergstrand agter in ’n broodlorrie vasgebind lê.

Hy het sy deel gedoen. Daardie klomp slapgatte aan die Weskus moet hul gemors self verder skoonmaak. ’n Sterk dop whisky is ál wat hy nou nodig het.

Hy drafstap fluks op met die trappe. Skok en vrees is ’n stuwende deurmekaarspul in sy kop toe hy die studeerkamerlig aanskakel.

Daardie sleg gemorste daar onder het duidelik weer gaan vrek die oomblik toe ek my rug draai.

Sonder om te wag op ’n bevel van Stone sit Hilton Meintjies sy hande agter sy kop. Die uitdrukking op Stone se gesig is onpeilbaar, maar as hy wil leef, moet hy probeer.

“Stone, ek weet jy is nie ’n moordenaar nie. Daar is R500 000 in kontant in daardie kluis–”

“Hou jou bek! Ek stel nie belang in jou bloedgeld nie.”

Hilton Meintjies maak sy oë toe toe hy die bekende klik van Stone se 9 mm-pistool hoor.

“Los hom, Stone. Dis nie die moeite werd nie.”

Stone se gedagtes is in ’n warboel toe hy omkyk en Olga in die deur van die studeerkamer sien staan. In haar hand is ’n pistool. Dis op Hilton Meintjies gerig.

  • Hy staar haar in ongeloof aan toe sy met vasberade treë nader kom en die steeds verslae Hilton Meintjies se hande agter sy rug boei. Môre: Slot

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters