13 dae gelede
’n Stombesope Reggie word in die nag ontvoer
Oom Sonnie  ~ 

Hallo, Sonlanders! Vandag skop ons af met ’n nuwe verhaal, “O. Phillip” uit die pen van ELDRIDGE JASON. Geniet die eerste­ hoofstuk!

DIT is donker. Pik, pikdonker. ’n Donkerte waarvan Eskom se loadshedding-nagte net kan droom. Een van daardie aande wat jy nie eens moet waag om te kyk of jy jou hand voor jou oë kan sien nie. In súlke donkerte gáán jy jou laat maak.

Dis ’n verlate ou straat waarin vervelige ou geboue staan. Byna ál die geboue is in donkerte gehul. Hulle is nie net vervalle nie, maar business het al lank voor Covid die pad gevat en eenvoudig net nooit teruggekeer nie.

In die hele straat is daar net een gebou waarin die lig helder skyn. ’n Hele paar karre is voor die gebou geparkeer. Die bordjie “Dick’s Tavern” hang windskeef voor die venster. ’n Paar neonligte wat die eienaar duidelik deur ’n backdoor connection gekoop het, skyn flou in die donker nag.

Van tyd tot tyd gaan die ligte aan die flikker en skep dan ’n spookagtige prentjie vir die banggat wat dit hierdie tyd van die aand op straat waag.

Daar kom musiek uit die gebou op die aandlug aangesweef. Sulke tandekners-musiek wat jou ma jou as tiener verbied het om na te luister.

Musiek wat sal maak dat die pastoor die duiwels uit jou wil dryf. Musiek wat selfs die duiwel sy ore sal laat toedruk.

Waar hy in die skedonk van ’n Tazz sit, bewe hy van die koue. Sy tande klap so van tyd tot tyd op mekaar. Hy is net nie seker of dit heeltemal die koue se skuld is en of dit die musiek is wat hy nou al ure lank na moet luister nie. Maar iets is besig om sy sisteem aan te tas.

Die verdomde kar van hom het nie eens ’n heater nie en die jas wat hy aan het, help nie veel teen die bibberende koue nie.

Winter is sterk op pad, hy kan dit aan sy yskoue bas voel.

As dit nie was dat hy die geld nodig gehad het nie, sou hy nou eerder in sy woonstel wou gewees het. In sy bed. Met ’n moerse glas OBS in die hand, natuurlik. Sommer so lê-lê aan die drink.

Maar pleks daarvan sit hy al ure lank voor Dick’s Tavern en het al hóéveel Toms, Dicks en Harrys huis toe sien strompel.

Die kroeg is in ’n dodgy gedeelte van die dorp. Dis hier waar misdaad floreer en dis ’n plek wat elke druggie sy huis noem. Hierdie hele gebied is hemel op aarde vir al wat ’n tikkop is. Hy sug swaar.

Beggars can’t be choosers. Business is swak. Hy het hierdie job broodnodig. Mandy, sy sekkie, het hom dit laat verstaan.

Mandy is twee maande laas betaal, maar sy daag elke oggend klokslag by die werk op.

Dis nagte soos dié dat hy wonder of hy nie maar in die polisie moes gebly het nie.

Dit was immers easy money om te maak toe hy misdaad moes beveg. Baie beter om sy eie speurdiens te begin – veral in ’n tyd soos lockdown, wanneer baie besig­hede besig is om te vou.

Hy vryf sy hande teen mekaar en loer vies na sy swart handskoene wat op die sitplek langs hom lê. Daai R20-special help eenvoudig niks teen die bytende koue nie. Hy leun vorentoe om die wasem met sy voorarm van die ruit af te vee.

“ ’n Easy job,” het Mandy dit genoem. “ ’n Paranoïese huisvrou wat vermoed haar man jol. Hy kom elke aand laat huis toe. Sy soek net die bewyse sodat sy hom in ’n egskeidingsaak leeg kan suig.

“Sy bankbalans,” het Mandy vinnig bygevoeg. “Sy wil sy bankbalans leeg suig.” En toe raak sy bloedrooi soos wat net ’n All Gold tamatie kan raak. Wat anders kon hy doen as om maar die job te aanvaar? Hy het diep skuldig gevoel omdat daar nie geld is om Mandy se salaris te betaal nie. Sy eie egskeiding het sy sak geruk.

Charné het alles gevat: die huis, sy pensioenfonds, die kinders en selfs die hond.

Ál wat hy uit die deal gekry het, was ’n ou geboutjie in die nywerheidsgebied. Die geboutjie moet as sy kantoorruimte dien en sommer ook sy slaapplek. Hier moet hy nou die meeste aande slaap, want die rent vir sy flat is ook maande agterstallig.

En hier moet hy nou in die koue sit terwyl ou Reginald White, die vermeende joller, hom in die pub gate uit geniet.

Hy klik sy tong. Ou Reggie is ’n opregte suurknol. Wat hy in so ’n lawaaierige kroeg soek, verstaan hy nie so lekker nie.

Hy volg Reggie se doen en late nou al amper ’n week. Klokslag 17:30 elke middag kom hy ná werk hier aan en suip sy gat lekker dronk.

Daar is egter nooit ’n girl wat Reggie na sy kar toe bring nie.

Hy begin vermoed as Reggie waarlik jol, dan jol hy met die drankbottel.

Waarom Reggie se vrou dink hy jol, kan hy net nie uitfigure nie. Reggie werk by die poskantoor. Hy mean, wat kan so opwindend of selfs agterdogtig daaraan wees om seëls te verkoop?

Die meeste mense pos deesdae nie eens meer briewe nie. Van pos gepraat … Reggie is klokslag 08:00 elke oggend op sy pos. Hy het al ’n paar keer by die poskantoor gaan inloer net om te sien waarmee hierdie vaal mannetjie met die ronderaam-brilletjie hom besig hou.

Maar Reggie se werk blyk so opwindend te wees soos om reëndruppels teen die venster te sien val. Hy wil dit nie aan homself erken nie, maar dit lyk nie asof daar veel van dié speur-job gaan kom nie. Ou Reggie is dan so vaal soos ’n grondpad in die Karoo. Watter vroumens sal in hóm belangstel?

Nee wat, dit lyk beslis soos nóg ’n maand sonder ’n inkomste.

Hy is op die punt om tou op te gooi en sy kar aan te skakel toe Reggie by die deur uitgestrompel kom. Hy is weer lekker onvas op die bene en het ’n vroumens wat aan sy arm hang.

Hy sit dadelik regop. Iets is aan die gebeur. Sy luck is besig om te draai. Nuuskierig volg sy blik die bewegings van Reggie en die meisie wat heel verlief aan hom hang.

Reggie slinger na sy kar toe met die meisie wat hard probeer om hom regop te hou. Dan loer die meisie ’n paar keer rond.

Haar optrede laat hom nóg meer regop sit. Wat voer sy in die mou? Is Reggie ’n easy target? Wil sy sy sakke ruk? Reggie ruk hom meteens uit haar greep uit los. Weens die harde musiek kan hy nie lekker hoor wat hulle sê nie, maar van die wilde handgebare lei hy af dat die twee lovebirds stry. Dan, uit die bloute, pluk die meisie iets uit haar sak en slaan Reggie oor die kop. Die vaal brilletjieman plof op die grond neer.

Binne oomblikke stop ’n ou paneelwa by hulle. Twee mans spring uit en help die meisie om Reggie in die wa te laai. Dan trek hulle met ’n stink spoed weg.

Die speurder lê agteroor in sy sitplek en blaas sy asem hard uit.

Wat het sopas gebeur? Hoe lyk dit dan of ou Reggie nie so vaal is soos wat hy gedog het nie?

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters