Verlede maand
’n Onverwagse onthulling bring skok en trane
 ~ 

DIS weer tyd vir ESMÉ CUPIDO se “Joyride met Ma se As”. Geniet nou hoofstuk 4 van dié verhaal.

VROEG die volgende oggend, ná ’n nag van min slaap, lui Ouboet se foon.

Dis die sersant wat sê ’n man wat op pad werk toe was, het ’n kissie opgetel. Hy het dit toe vir die eienaar van sy werksplek gewys.

Die eienaar, wat by iemand anders gehoor het een of ander kissie is voor die hotel uit ’n kombi gesteel, het dit polisiestasie toe geneem.

“Julle moet kom kyk of dit julle s’n is,” sluit die sersant sy relaas af.

By die polisiestasie gekom, klim Ouboet en Mario uit. Mario voel om die houtkissie te soen toe hy dit in die sersant se hande sien.

“Miskien moet julle kyk of die as nog daarin is,” stel die sersant voor.

Toe Mario die kissie oopmaak, sien hy die as daarin. Of ’n gedeelte van Ma iewers uitgeval of uitgegooi is, maak nie nou saak nie. Daar is nog genoeg oor.

Hulle bedank die sersant en gooi nóg petrol in voordat hulle Vredespoort verlaat.

Dis stil in die kombi. Edna vroetel met haar foon en Amanda sien hoe die droë koppies verby haar vlieg.

“Moet ons ant Nonnie laat weet ons is op pad?” wil Mario weet.

“Seker. Ons kan nie net daar inval nie,” sê Amanda. “Ek sal gou bel.”

Amanda soek deur haar kontaklys en vind die nommer. Sy het jare laas met ant Nonnie gepraat.

“Hallo. Ant Nonnie?” Amanda hoor ’n vreeslike lawaai in die agtergrond en dan ’n uitasem stem.

“Hallo! Is dit jy, Petie? Waar neuk jy rond? Jy sal die hoenders moet kom help slag, jong. Die goed maak my mal!”

“Hallo, ant Nonnie. Nee, dis Amanda wat praat.”

Die asem word ingetrek.

“Klein Manda van oorle Helen. Jou mamma het ’n maand of wat gelede gebel om te vra of julle een aand hier kan oornag as sy …”

Die stem het sagter geraak.

Maar Amanda wip soos sy skrik toe ant Nonnie skielik skree: “Kom hier, jou vervlakste kat! Basjaaaaan! Maak toe die deur, anders maai die kat weer onder die spul hoeners!”

“Ja, ant Nonnie. Ons is eintlik al op pad. Ons sal seker so …”

Sy kyk na Ouboet wat ’n vier met sy vingers wys. “… vieruur by ant Nonnie wees.”

“Dis reg so, my kind. Bring sommer vars brood as julle verby die kafee ry. Ek het nog nie kans gehad om te knie nie.”

Dis weer ’n rukkie stil nadat Amanda die gesprek beëindig het.

“Ek wonder hoekom Ma en ant Nonnie vir jare nie gepraat het nie. Ek dink darem nie dit kon net gewees het oor die name wat hulle mekaar genoem het nie.”

Mario draai hom om na die susters. “Ek dink ook dis oor meer as dit. Dalk was daar ’n man betrokke!”

Ouboet lag saggies.

“Jy dink altyd jy’s snaaks,” sê Edna bitsig.

“Hou op, julle twee!”

Mario sit die radio kliphard.

“Mario, sit gou sagter. Hoor jy ook die geluid?”

Ouboet skakel oor na ’n laer rat en ry stadiger.

“Jip, dis ’n kapgeluid. Dit smaak my dis hier by die regtervoorwiel.”

Ouboet hou langs die pad stil en gooi die deur hard agter hom toe.

“Wat’s dit nóú weer?” vra Edna met ’n frons.

Ouboet en Mario stap om die motor, stamp hier en krap daar. Nie een van hulle is meganies aangelê nie.

Toe hulle weer inklim, verduidelik Mario dat die wiel redelik pap is. Gelukkig is hulle net 60 km van Klawersdrif. Hulle sal stadig moet ry.

Sowat 4 km buitekant Klawersdrif kom die kombi weer op die skouer van die pad tot stilstand.

Edna en Amanda word wakker. Edna rek haarself uit terwyl sy gaap en soek dadelik haar selfoon.

“Hier is nie ’n sein nie,” sê sy fronsend.

“Presies,” sê Ouboet. “En nog erger, ons kan nie verder ry nie.”

“Wat nou?” Amanda kyk rondom haar.

“Julle het ’n keuse. Sit hier en wag vir hulp, of … loop saam met ons die 4 km na die dorp.”

Met ’n laaste voel aan elke deurhandvatsel, stap die vier in die rigting van die dorp.

Mario dra Ma se as.

“Hierdie gemors is heeltemal onnodig. Ma was hardegat verby. Vir wat moet ons halfpad om die aardbol ry om as te gaan strooi?”

“Hier gaan ons alweer.”

Amanda verander gou die gesprek. “Kyk, daar loop ’n lot koeie oor die pad.”

Hulle skuur verby die herkouende trop en sien uiteindelik die eerste ry huise.

Toe hulle vaal van die stof en moeg by die garage kom, sien Amanda dat sy weer ’n sein het. Sy bel ant Nonnie en dié sê sy sal Petie stuur om hulle te kom haal.

LATER die aand, nadat almal geëet en gestort het en die kombi laat haal is, sit hulle in ant Nonnie se sitkamer. Ant Nonnie bring vir elkeen ’n beker swart koffie.

“Kinders, daar is ’n rede hoekom jul ma wou gehad het dat julle hier moes kom slaap,” begin ant Nonnie.

“Ek het so gedink,” sê Ouboet glimlaggend.

“Ja, ek dink sy wou maar net hê julle moes weet dit wat destyds gebeur het, is dinge van die verlede.”

“Ons het nogal gedink daar’s meer, ant Nonnie”, sê Amanda sag.

Ant Nonnie staar in die verte. “ Oom Henry, my oorle man, en jul ma het ’n verhouding gehad ná jul pa se dood.”

“Wat?!” Edna sit haar beker hard op die tafel neer. “Ek glo dit nie!”

Die ander drie is sprakeloos.

“Dit was ’n moeilike tyd. Jul pa is toe net in die jaar oorlede en ek nooi sus Helen toe om Kersfees hier op Klawersdrif te kom kuier. Hier is die ooptes en julle sou lekker kon speel.

“Sy was hartseer, en ek was besig met my hoenders. En Henry … toe ek weer sien, is hulle in mekaar se arms.”

Edna spring op en hardloop die vertrek uit.

“Los haar eers. Kom ek vertel gou verder,” sê ant Nonnie. “Helen is met julle terug huis toe die dag ná Kersfees, maar dit het oom Henry nie verhoed om daar by Helen te gaan kuier nie.”

“Ek onthou vaagweg hoe ons daai laaste Kersfees so vinnig moes oppak en huis toe gaan,” sê Ouboet verwonderd. Ek was seker 13 of 14.”

“Ons het ook gewonder hoekom oom Henry sonder ant Nonnie kom kuier het. Onthou julle?” vra Mario.

“Voor ek nog kon keer, was dit te laat. Oom Henry het een aand op pad na Klawersdrif verongeluk, soos julle weet. Ek was vir jare verbitterd teenoor jul ma en Henry. Vir jare.”

Sy vee met haar voorskoot oor haar oë. “My hoenders en my twee seuns het my staande gehou.”

Mario staan sonder ’n woord op en stap na buite. Hy tuur in die donkerte totdat hy sagte snikgeluidjies langs hom hoor.

“Ednatjie, wat pla?” vra hy.

“Mario, my huwelik is verby! Hy verneuk my met daardie …”

Dan stroom die trane.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters