27 dae gelede
’n Ongenooide gas daag op om ‘die paartie’ te spoil
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

’n Koekblik vir ’n Beter Lewe is ESME CUPIDO se jongste skryfstuk. Geniet die vierde hoofstuk!

‘NAAND, Sersant. Dis ek, Jenny Koopman.

“Iemand het by ons flat ingebreek. Sersant het mos gesê …”

“Wanneer het dit gebeur?”

“Toe ons netnou by die huis kom, toe staan die deur oop en dis chaos hier binne.”

“Ek sien,” sê die speurder geïnteresseerd. “Ek is oor 20 minute daar.”

Jenny tel die kop en lyf van ’n gebreekte ornamentele Kersvader op en probeer die dele las.

“Uhm, gaan jy die sersant sê van die … geld?” vra Mia bekommerd.

Jenny sug en sit die koplose Kersvader op die koffietafel neer.

“Ek kan nie, Mia, want ons het van die geld gebruik. Dit sal my minstens ses maande se spaar kos om net die helfte van daai geld terug te sit,” sê Jenny swaarmoedig.

“Sê nou maar die geld behoort eintlik aan die moordenaars en hulle kom soek dit later?” vra Mia.

“Jy kyk te veel movies. Gaan stort en slaap. Onthou, dis môre Vrydag en dit beteken dis skool,” sê Jenny.

Sowat 15 minute later is daar ’n klop aan die deur.

Dis speurder Van Rooyen en twee polisiemanne wat vingerafdrukke kom neem.

Hy vra of hulle deur die huis kan stap. Ná ’n ruk kom hy weer die sitkamer binne.

“Sersant, is daar ’n verband tussen oom Mannie se moord en hierdie inbraak?” vra Jenny.

“Wel,” sê die speurder terwyl hy die koplose Kersvader optel, dit met ’n opgetrekte wenkbrou bekyk en op die tafel terugsit. “Die televisie is dalk te groot, maar ek sien ’n laptop op die kombuistafel wat nie gesteel is nie. Is daar enigiets anders weg waarvan julle weet?”

“Nee, Sersant. Daar is niks wat ons vermis nie. So … hulle het iets gesoek … en dit nie gevind nie?” vra Jenny en dink dadelik aan die koekblik met geld.

“Presies. Maar waaroor ek wonder, is: Hoekom kom soek hulle dit hiér? Het oom Manfred Jacobs in die laaste paar weke vir julle dalk iets gegee wat julle vir hom moes hou of kon hy iets hier kom wegsteek het?”

“Nee, Sersant. Oom Mannie was nooit verder as die deur die laaste twee kere toe hy hier was nie.”

“Kan ek gou vinnig met jou suster praat?” vra die sersant skielik.

“Sy studeer vir ’n toets …”

“Dit sal gou wees. Ek belowe.”

Mia is met haar foon besig toe Jenny by die kamer instap.

“Die sersant wil gou met jou praat. Onthou, jy sê niks van die geld nie,” fluister sy.

Mia ruk grootoog haar swirlkous af, trek ’n kamerjas aan en loop agter Jenny aan na die sitkamer.

“Naand, juffie. Ek verstaan jy het ook gereeld met oom Manfred Jacobs gesels. Het hy dalk enigiets gesê of vir jou gegee wat belangrik kan wees?”

“N-nee, Meneer.”

“Enige name van familielede of vriende genoem?”

“Oom Mannie het een keer toe ek by hom was met ’n vrou by die voordeur gesels. Ek was in die kombuis besig om vir oom Mannie koffie te maak. Ek dink hy het haar Gansie of so iets genoem. Hy was kwaad.”

“Jy het nie gehoor waaroor hulle praat nie?” Die sersant lig sy kop. Hy het opgehou skryf.

“Ek het net gehoor hy … oom Mannie vra: ‘Wat soek jy, Gansie?’ Hy het kwaad geklink. Toe … maak hy die deur agter hulle toe.”

Van Rooyen maak ’n aantekening en toe die twee polisiemanne die sitkamer instap, staan hy ook op.

“Dames, ek stuur later twee manne om ’n ogie deur die nag te kom hou. So, julle sal veilig wees.”

Jenny maak die deur toe en sluit dit onmiddellik.

Later, net voordat Jenny eindelik aan die slaap raak, sê Mia skielik: “Oom Mannie het vir die vrou met wie hy by die deur gepraat het, iets van klippe gesê. Hy gaan nie die klippe vir haar gee nie. Dis voordat hy die deur toegemaak het. Ek het nog gedink wie wil nou klippe hê?”

Maar Jenny het reeds in ‘n droomlose slaap verval.

Die volgende dag maak Jenny seker die deur is gesluit voordat hulle stap. Dit het in die nag begin reën en dit reën steeds.

Die wind tel ook op deur die loop van die dag totdat dit later stormsterk waai.

Toe Jenny die namiddag verby die eerste woonstel stap, gaan die deur oop.

“Meisie, wat sê die polisie? Weet hulle al wie ou suurknol Mannie doodgemaak het?”

Jenny draai om en kyk die vrou gesteurd aan. “ Mevrou, as hulle geweet het, het hulle die persoon al gearresteer! So, nee!”

“Vir wat ruk jy jou op?! ’n Mens vra net!”

Die wind waai haar kuif dat dit regop staan en sy vee dit vererg plat.

“Maar luister, die ou man het baie van julle twee gehou. Hy’t julle seker lekker bederf met geskenke, nè?” vra sy prontuit.

“Net lemoene … en so.”

“Ek hoop dis al. Julle’t gesien wat met die ou man gebeur het,” sê die vrou en maak die deur toe.

Die aand toe Jenny aan ’n quiz op haar laptop werk en Mia werklik vir ’n toets leer, is daar ’n klop aan die deur. Sy is skrikkerig om oop te maak, al weet sy dat twee polisiemanne buite waghou.

Toe Jenny oopmaak, staan ’n ouerige vrou voor haar.

Die vrou lyk bekend en sy wonder waar sy haar al gesien het.

“Goeienaand, kan ek help?”

“Naand, my kind. Ek’s Manfred Jacobs se suster, Winnie September.”

Jenny is erg verbaas.

“Kan ek ’n oomblik inkom?”

“Ons is ’n tweeling, identies,” sê die vrou.

Sy sak swaar op die bank neer en stoot haar bene voor haar uit.

“Ek wou sê u lyk bekend,” sê Jenny. “Kan ek vir ons ’n bietjie tee maak?”

Net toe is daar nóg ’n klop aan die deur. Toe sy oopmaak, staan ’n polisieman voor die deur om te kom kyk of hulle nog oukei is.

Toe sy minute later met die skinkbord in die sitkamer opdaag, sê die vrou verskonend dat sy nie wil pla nie, sy wou net kom kyk wie die twee meisies is oor wie Mannie so baie gepraat het.

“Hy’t so baie van julle gepraat en dit het my gerus gestel dat daar tog mense is wat vir hom omgee. Ek het gisteraand eers hier aangekom. Ek en my man woon al die afgelope vyf jaar in Gauteng.”

Jenny sien Mia om die hoek kom en stel haar aan die vrou voor.

“Mannie was geseënd om twee sulke pragtige jong dames se geselskap te hê in die laaste paar maande van sy lewe.”

Jenny sit verskonend haar koppie tee neer toe daar weer ’n ligte klop aan die deur is.

Sy het mos netnou vir die polisieman gesê dinge is oukei, dink sy.

Dis die vrou van woonstel 1 wat sonder meer instap toe Jenny die deur oopmaak.

“ ’n Lekker paartie wat julle hou en dit sonder my,” sê die vrou. Naand, Winnifred September. Hoekom het jy my nie laat weet jy kom nie?”

Ant Winnie gaap soos ’n vis op droë grond. “Gonsie?”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters