Verlede maand
’n Nuuskierige verslaggewer laat Kabamba sweet
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders!

“Gebeure Rondom ’n Hofuitspraak” is CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk. Geniet nou die derde hoofstuk!

PAULUS Kabamba se selfoon lui. Die nommer op die skermpie is onbekend. Dit behoort nie aan iemand op sy kontaklys nie.

Moet hy antwoord? Sê nou dis iemand wat ...? Sy hart gee ’n ruk. Nee, hy hoop nie so nie, maar waarom dink hy nou juis daaraan? Is dit dalk ’n voorgevoel?

Een van sy kollegas het lank terug dreigoproepe ontvang. Dit was kort voor die uitspraak van ’n saak teen ’n dwelmhandelaar.

Alles het daarop gedui dat die dwelmbaas skuldig was. Sy kollega het hom agterna in sy vertroue geneem en gesê al wou hy nie, moes hy die beskuldigde vryspreek. Die lewe van sy kollega se vrou en kinders was in gevaar.

“Agterna was daar ’n bruin koevert met net my naam daarop in my posbus. Toe ek dit oopmaak, was dit vol banknote. Ek het vir niemand daarvan gesê nie.”

Sy kollega het drie maande later Johannesburg toe verhuis.

Miskien bekommer jy jou verniet, sê Paulus vir homself. Dis seker net iemand wat ’n verkeerde nommer geskakel het.

Laat hy maar antwoord en hoor wie dit is.

“Good evening.”

“Jy hoef nie Engels te praat met my nie, regter Kabamba. Ek weet jou huistaal is Afrikaans. Spaar maar jou Engels vir die hof.”

Paulus Kabamba frons. Dis ’n vrouestem en sy weet wie hy is, maar wie is sy?”

“Met wie praat ek?” vra hy huiwerig.

“Verskoon my. Waar is my maniere? Ek is Bianca van Eck, Snuffel-verslaggewer.”

Kabamba se moed sak in sy skoene. Verslaggewer? Snuffel? Wat wil sy van hom hê?

“Ek ... waarmee kan ek help?”

“Ons koerant wil graag ’n onderhoud met jou voer ná die uitspraak in die Carol Bonthuys-saak.”

“Maar hoekom met my?” wil hy weet.

“Hoekom nie? Dit is tog ’n hoëprofielsaak. Almal sal wil hoor wat deur jou gedagtes gegaan het in die aanloop tot die uitspraak.”

“Ek bespreek nie my sake met die media nie. Probeer verstaan.”

“Ek kan jou natuurlik nie dwing nie, regter Kabamba. Dis jou demokratiese reg om nee te sê. Maar my redakteur, boeta Solly, gaan teleurgesteld wees. Hy vat nie sommer nee vir ’n antwoord nie.”

“Jou redakteur moenie onredelik wees nie.”

“Nou maar goed dan. Maar ek het ook ’n opdrag om ’n bietjie in jou verlede te gaan rondkrap indien jy nie jou samewerking wil gee nie. Wie weet? Dalk kom ons op ’n paar geraamtes af. Mooi aand verder, regter Kabamba.”

“Wag!” keer Kabamba haastig.

Hy kan nie toelaat dat daar in sy verlede gekrap word nie. Daar is definitief geraamtes wat hy nie opgegrawe wil hê nie.

“Ons kan die onderhoud doen.”

“Wat het jou dan nou so vinnig van deuntjie laat verander, regter?”

“Ek is net onder geweldige stres voor die uitspraak,” sê hy. Dis maar al.”

“Jy hoef mos nie te stres nie, regter. Jy weet en ék weet Carol Bonthuys is onskuldig.”

“Die vrou het ’n lewe geneem!” verhef Kabamba sy stem.

“Nie sonder rede nie,” kap Bianca terug. “Jy het tog na haar getuienis geluister. Dit was nie moord met voorbedagte rade nie. Carol Bonthuys het uit selfver­dediging opgetree.”

“Bianca van Eck, moet jou asseblief nie met regsake bemoei nie. Laat my toe om my werk te doen sonder om in te meng.”

“Ek meng glad nie in nie. Die feite spreek vir hulself. Maar ons gesels beslis weer.”

Kabamba is verlig toe Bianca die oproep beëindig. Hy sak in ’n stoel neer, sy keel droër as iemand wat al dae lank sonder water in ’n dorre woestyn dwaal.

Hy het nie veel van ’n keuse behalwe om saam te speel nie. Maar eers moet hy ’n sterk dop skink om sy senuwees te kalmeer.

Hoekom moet daar ’n koerant soos Snuffel wees? Hulle krap waar dit nie jeuk nie. As sy geheime nou uitkom, sal dit nie net die einde van sy loopbaan wees nie, maar sy huwelik ook.

Charmaine sal niks verstaan nie. Sy sal wil weet waarom hy vir só lank die waarheid weerhou het. Nie eens die groot bedrag geld wat hy onlangs in die Lotto gewen het, sal sy vrou se hart kan versag nie.

Wat Kabamba nie weet nie, is dat Bianca van Eck reeds in sy verlede gaan krap het. Sy het reeds dinge oor hom uitgevind wat lesers na hul asem sal laat snak.

So byvoorbeeld het Kabamba al vir jare ’n dobbelprobleem. Maar dis nie ál nie. Hy het ook ’n buite-egtelike kind by ’n ou skoolliefde. Die seun is vanjaar in matriek. Kabamba betaal elke maand getrou onderhoud.

“Dis nie genoeg nie,” sê die kind se ma toe Bianca met haar gaan gesels. “My seun soek nie net geld nie. Hy wil graag sy pa leer ken. Ek soek nie moeilikheid nie, maar ek kan ook nie langer vir hom lieg nie. Hy weet sy pa lewe ...”

Boeta Solly lag van oor tot oor toe Bianca die nuus met hom deel.

“Goeie werk, Bianca. Ek het mos gesê jy gaan nog een van ons bestes word. In ’n kort rukkie het jy vir jou ’n reputasie as ’n vreeslose joernalis opgebou.

“Hou so aan. Hierdie gaan ’n groot storie wees. Ek kan al die opskrif sien: Regter se geraamtes tuimel uit kas.”

TERWYL Carol Bonthuys in die donker oor die toekoms lê en tob, sluk sy swaar aan die knop in haar keel. Dis omtrént ’n gesukkel om die trane binne te hou.

“Die lewe issie fair nie,” het sy as kind die grootmense hoor praat. Nooit het sy regtig geweet wat hulle daarmee bedoel nie. Nóú verstaan sy. As dit net moontlik was om die horlosie terug te draai, sou sy beslis.

Dan was sy waarskynlik nie in die situasie waarin sy haar nou bevind nie. Sy het bly glo haar lewensmaat sou verander, dat die mishandeling sou ophou. Maar dit het nie en een aand het sy alle selfbeheersing verloor.

Iets in haar binneste het geknak. Sy kon nie langer stilstaan terwyl Clayton van haar sy slaansak maak nie. Min het sy geweet haar op­trede sou tragiese gevolge hê.

Dis laatnag en die geklap van skote buite haar ouerhuis in Elsiesrivier breek Carol se hart. Die geweld hou net nie op nie. Watter onskuldiges beland vanaand weer in die kruisvuur van bendes?

Sy wens sy het geweet waar die vuurwapens vandaan kom. Wanneer kom dit tot ’n einde?

Die volgende gedagte laat haar sidder. Is dit nie miskien beter dat ’n dwaalkoeël haar in die kop tref en ’n einde aan als maak nie? Dan hoef sy nie Vrydag voor regter Kabamba te verskyn en te hoor hoe hy haar skuldig bevind aan die moord op haar man nie.

Haar prokureur sê sy moet moed hou, maar sy weet hy sê dit net om haar beter te laat voel.

’n Koeël deur haar kop sal veel genadiger wees as lewenslange gevangenisstraf.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters