23 dae gelede
’n Nagmerrienag laat Jane besluit om wraak te neem
 ~ 

HALLO, Sonlanders!

Ons skop die nuwe week af met ’n splinternuwe verhaal uit die pen van GWEN KORDOM. Die titel is Vergelding. Lees nou gerus die eerste hoofstuk.

DIT is ’n koue nag in Witfontein. Die kamer is in skemerte gehul toe Jane ontwaak.

’n Sterk wind pluk aan die gordyn en laat die vensterrame kraak. Sou haar man, Kevin, dan vergeet het om die venster toe te maak?

Jane swaai haar bene van die bed af en loop dan kaalvoet op die venster af. Haar hand vries in die lug toe die buitelyne van ? figuur buite sigbaar word.

Die gekrap van metaal laat haar staan en haar rug trek stokstyf toe sy die gedempte stemme hoor. Totdat sy besef dis die diefwering waaraan daar gesaag word.

Sy vlieg om en duik langs Kevin op die bed neer. Dit neem ’n rukkie om hom wakker te skud.

Dan moet sy haar hand oor sy mond slaan toe hy hardop begin babbel.

In die skemerlig beduie sy na die venster. Dit neem ’n oomblik voordat hy snap wat sy aan hom uitwys.

Dan gryp hy haar hand en storm vir die kamerdeur.

Hy het skaars die deur oop gepluk toe hy weer agteruit steier.

’n Gemaskerde man staan op die drumpel en beduie met sy kop hulle moet in. Jane gil hardop toe nóg een verskyn.

Dis op daardie oomblik dat die twee op hulle afstorm. Kevin spring voor haar in.

“Hardloop, Jane!” hoor sy hom skree net voordat een hom aan die skouer gryp.

Jane staan roerloos en kyk hoe die twee haar man takel. Die blink van ’n lem weerkaats in die halfdonker kamer.

Dan roep Kevin uit in pyn. Toe die gevoel van iets nat teen haar vel en die reuk van bloed in haar neus.

Sy staar in afgryse hoe Kevin kort daarna op die vloer neerslaan.

Haar bene knak en sy val op die vloer. Toe voel sy twee sterk hande wat haar ophys en op die bed neergooi. Haar nagrok word wild van haar liggaam afgeskeur.

Jane staal haar vir wat kom.

Warm trane drup uit haar oë.

Dit meng met Kevin se bloed op haar gesig. Haar liggaam het afgeskakel en sy verbeel haar sy is nie hier op die bed nie waar die twee allerhande goed met haar aanvang nie.

Toe die nagmerrie uiteindelik verby is, wag Jane vir die dood om te kom. Dit kom nie. Haar ore spits toe die twee praat.

“Wat maak ons nou met haar, Boena?”

“O’s kan haar altyd saamvat. Dink watter lekker tyd o’s met haar gaan hê,” antwoord Boena.

“Nie ’n slegte idee nie.”

Jane verstyf toe sy naderende voetstappe uit die gang hoor. ’n Derde gemaskerde figuur verskyn. Deur haar wimpers sien Jane hy is langer as die ander twee en rietskraal daarby.

“Wat maak julle?” vra hy. “Ek dog dié is ’n rooftog?

“Ek wil nie deel hiervan wees nie.” Sy stem klink soos een wat nog nie manlikheid bereik het nie. ’n Blote kind.

Jane hou haar blik afwaarts terwyl sy woordeloos bid vir ’n uitkoms.

“Kom vat jy liewer die sak op die vloer en hou jou groot mond. Jy is klaar deel hiervan of jy dit nou likes of nie,” sê Boena.

“Wat maak ons met die vrou, Boena?” vra die een wat hy Tandjies genoem het.

“Sy het nie ons gesigte gesien nie. Dit lyk anyway asof sy wil vrek.

“Besides, my mission is com­plete. Laat ons spat. See you around, sweetheart,” sê Boena en glip met die ander by die deur uit.

Lank nadat hul voetstappe verdwyn het, hoor Jane die geloei van sirenes.

Haar blik fokus op Kevin se liggaam waar dit roerloos lê.

’n Tydjie daarna skyn ’n helder lig in die gang. Toe tree ’n groot geboude offisier oor die drumpel

“Liewe genade,” sê hy en soek met sy hand na die ligskakelaar. Sy hoor toe hy oor Kevin tree, dan die geluid van die kasdeur wat oopswaai. Toe voel sy iets sag om haar lyf vou.

“Toemaar, Mevrou, u is veilig. Volgens die bure het hulle ’n gegil gehoor, maar niks daarvan gedink nie.

“Justin Koopman, die buurman, het ’n paar minute later ’n snaakse gevoel gekry en deur die venster geloer.

“Hy het ’n donker figuur in jul voorerf gesien en onmiddellik die polisie gebel.

“Kan u my vertel wat hier gebeur het?” vra hy sag.

Jane staar teen die plafon vas.

“Toemaar, alles gaan oukei wees,” paai hy toe sy net stilbly.

Kevin is dood en sy is verkrag deur twee gesiglose monsters. Buite loei die wind nog steeds.

Sy was nie voorbereid op hierdie wrede aanval nie. Ook nie op Kevin se skielike en ontydige dood nie.

Die res van die nag gaan in ’n dwaal verby. Die simpatieke beampte het getrou aan haar sy gebly tot by die hospitaal.

Daar is sy aan toetse onderwerp.

Toe die ellelange ondervraging totdat die suster aanbeveel het sy moet rus. Die speurder aan diens het belowe om terug te keer.

Nou lê sy hier op die hospitaalbed met ’n duisend vrae in haar kop. Die klank van die TV in die hoek laat haar kop daarheen draai.

Covid-19 is nog hier. Maar wat van die ander pandemies wat onder die mensdom woed?

Moord en verkragting het ’n alledaagse verskynsel in dié land geword.

En niemand doen iets daaromtrent nie ...

As die wette strenger was, sou dié tipe misdade selde gebeur het.

Dan sou Boena, Tandjies en die jongeling nie haar huis binnegedring het nie. Nie haar menswaardigheid so wreed geskend het nie, en ook nie haar liefdevolle Kevin doodgemaak het nie.

Kevin, wat nie ’n vlieg skade sou aandoen nie. Kyk watter wrede dood moes hy sterf – 14 steekhoue.

Hy het nogtans soos ’n ware held voor haar ingespring. Sy sal sorg dat hy geregtigheid kry.

As die regstelsel nie met die barbare kan afreken nie, sal sy dit doen. Al neem dit haar ’n leeftyd. Waar haar hart ure gelede was, is daar nou net ’n leë kol. Een wat vergelding soek.

Al sou die barbare gevang word, sal tronkstraf ooit genoeg wees? Oor ’n aantal jaar doen hulle aansoek om parool en is kort voor lank weer buite, besig met dieselfde dade.

Kry slagoffers werklik die geregtigheid waarna hulle soek?

Hoekom kry hierdie monsters soveel kanse?

As sy kon, sou sy die dood vir hulle kies. Vooraf sorg dat hulle dieselfde vrees ervaar wat sy moes deurmaak. ’n Donkerte het van haar besit geneem en sy weet nie of dit ooit beter sal word nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters