Verlede maand
’n Ma van sewe is al mens langs die ou tannie se graf
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Nicolette Fouldien se Kers-kortverhaal, "Ada se Geskenk", begin vandag. Geniet gerus hoofstuk 1.

ADA se geboë skouers ruk soos sy snik. As die lewe jou soveel dwarsklappe gee soos vir haar, sal jy ook die een of ander tyd ’n boggel begin groei.

Sy probeer die trane wat teen haar wange afrol met verfrommelde toiletpapier keer. Flenters wit klou teen haar nat ooglede vas.

Oorkant ant Tina se oop graf staan die begrafnisondernemer met sy hande oorkruis agter sy rug gevou. Hy tuur stip na die eenvoudige kis in die graf.

Hy voel aardig. Dis min dat hy ’n begrafnis waarneem waar net een begrafnisganger teenwoordig is. Kragtens Covid-19-regulasies mag 50 teenwoordig wees. En al het die tannie weens Covid-19 gesterf, het niemand behalwe die vrou oorkant hom opgedaag nie. En soos hy verstaan, is die vroutjie nie eens familie van die oorledene nie.

Hulle het reguit van sy onderneming hierheen gekom. Op pad hierheen het sy sommer langs hom in die lykwa gesit. Arme vrou.

Haar swart rok is verslete en haar sloffies het ook al beter dae geken.

Tog is daar iets statigs aan haar houding. In haar jonger dae moes sy ’n mooi vrou gewees het.

Nie dat hy dink sy is oud nie. Dalk iewers in haar laat 40’s.

Die droefheid lê ingekeep in haar gesig. Sy het duidelik vir die afgestorwene omgegee. Hy wens hy het meer oor haar geweet, maar die omstandighede maak dat hy haar nie kan uitvra nie.

Skielik word dit donker en groot druppels plof op die kleigrond neer.

Ada en die ondernemer kyk verbaas na die lug. Oomblikke tevore was dit sonder ’n wolkie.

’n Harde bui reën sak uit. Die ondernemer stap om die graf en neem Ada aan die arm. Hy lei haar versigtig terug na die lykwa. Die klipgrond is ongelyk en nie gemaak vir sloffies nie.

Hy hou die deur vir haar oop en klim langs haar in. Hy beduie vir die grafgrawers eenkant onder ’n sipresboom hulle kan maar toegooi. Dan trek hy stadig weg.

Hy laai Ada by haar huisie af. Kinders peul by die deur uit toe hulle die lykwa gewaar. Hy tel sewe. Drie meisiekinders so tussen 6 en 15. En vier seuns. Dié skat hy tussen 2 en 10 jaar. Die jongste seun is op die oudste meisiekind se heup. Kan dit almal haar kinders wees? wonder hy toe hy wegry.

Oorkant Ada se Hop-huisie trek ant Doortjie die kantgordyn versigtig weg om beter te kan sien. Oor haar buig Siena en stamp byna van nuuskierigheid ant Doortjie se kop teen die vensterbank vas.

“Sie djy, meid! Loep loer deur djou eie blerrie venster, man! Ampe’ stamp djy my om!”

“Skies, ant Doortjie. Dan vat ekke ma’ my wyn en loep,” vervies Siena haar.

“Nee, wag djy! Ka’ mensie ’n joke makie? Kom loer djy ma’ lekke.” nooi ant Doortjie boetvaardig en staan tru dat Siena haar plek kan inneem.

Vir veiligheid gaan sit sy op die verslete rusbank en gooi vir haar nog ’n dop van die liter rooiproppie.

Sy neem een diep teug voordat sy haar lippe behaaglik smak en haar nat snor afvee.

“Djong, wat issit met Ada? Sy’s sieke’ ma’ agte’ ou Tina se huis ’an, ma’ sy maak ha’ very late.

“Daai huis behoort aan daai skollie-klong van haar. Haai, om te dink die stuk sleg hettie eens na sy ma se begrafnis gekom nie. Kamstig bang virrie virus, ma’ hy smokkel innie Kaap lattie honne hyl. Blerrie gamors!”

Ant Doortjie se dop trek nou. Sy skink weer vinnig haar glas vol terwyl Siena vir Ada en haar hoop kinders oorkant die pad dophou.

“Wiet djy, nou lat ek só dink, hoeko’ ko’ vat daai stuk sleg nie vir Ada as vrou by sy ander 100 vroue nie? Dan kan hy mos vir haar 100 kinners sorg.

“Jirre, die vrou kry mos swaar en sy het dan kamstig soe mooi na sy ma gekyk.”

Siena draai weg van die venster. Oorkant die pad is Ada en haar klomp kinders die huis in en daar is niks meer om te sien nie.

“Haai nee, ant Doortjie, ek dink darem nie Leon … Dit is mos sy naam, nuh?”

Ant Doortjie knik.

“Ek dink nie Leon sal Ada wil hê nie, maar daai langbeen-meisietjint lyk of sy binnekort gaan man vat. As sy nie klaar doen nie. Met dié spul weet ’n mens nooit.”

Ant Doortjie knik weer. Vir nou stem sy saam met enige iets wat Siena sê. Die wyn word min en Siena is goed met loaf. Sy kan netnou weer ’n paar rand oppie kantienstoep gaan skarrel. Daarvoor is sy wat Doortjie is al te oud.

“Om te dink, ant Doortjie, sewe kinners en geen pa nie! As jy ma’ sien, dan het Ada ’n tjint. Lyk my die manne kan ma’ net na ha’ kyk, dan is sy mettie lyf. En ’n mens wiet nie wie’s die pa’s nie.”

“Ja-nee, dié Ada is plein sleg en sieke’ vrot vannie corona oek. Vi’ wat sy kamstig vir ou Tina opgepas het, wiet die Jirre alleen. Sy en daai gebroedsel van ha’ kommie naby my met hulle virusse nie!”

“Ja, okkie naby my nie! Hulle sal ’n mens met allie siektes aanstiek,” beaam Siena en gooi vinnig die laaste dop voordat ant Doortjie dit gryp.

“ Toe, toe! Djy moet nou loep; ek wil my huis skoonmaak.” raak ant Doortjie haastig. Siena staan vies op. Dis nes ant Doortjie is. Altyd onbeskof assie wyn op is. Sy sal maar gaan skarrel vir nog ’n kopskiet.

ADA sit klein Riekie neer voordat sy moeg op die verslete rusbank neerplof. Sy gaan ant Tina mis.

Die afgelope maand het sy na die siek vrou omgesien. Toe die mense hoor ant Tina het corona, sou jy kon sweer die mense dink sy het die pes. Niemand wou naby die ou tannie kom nie en hier bly geen familie nie.

Ada weet net van ant Tina se enigste seun, Leon, wat in die Kaap woon, maar hy het geen moeite gedoen om te kom nie, al het die dokter hom laat weet sy ma is ernstig siek. Hy’t nie eens vandag vir die begrafnis opgedaag nie.

Niemand in die hele dorp het eens moeite gedoen om na ant Tina se begrafnis te kom nie. En sy het meer as 30 jaar hier gewoon. Geen vriende nie, niemand ...

Sy wat Ada is, kom goed sonder vriende klaar. Hierdie plek se mense het haar in die vyf jaar dat sy hier woon nog net beskinder.

Ant Doortjie hier oorkant die pad is tog so erg. Loer heeldag en aldag deur haar vuil kombuisvenster om te sien wat by ander se huis aangaan. Pleks sy vee liewer voor haar eie vuil deur.

Ada staan op en haal twee blikkies tamatievis uit die byna leë koskas. Dit sukkel om elke dag agt mae te voed. Die kinders eet soos wurms. Partykeer is die Sassa-geld te min om als bymekaar te hou.

  • Gelukkig hou die kinders haar bymekaar. Sonder hulle sou haar lewe uitmekaarval. Hulle is die rede dat sy elke oggend blymoedig opstaan. Volgende week is Kersfees. Sy wens daar was genoeg geld vir Kersgeskenke vir hulle.Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters