28 dae gelede
’n ‘Legende’ word begrawe, maar nie die waarheid nie
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vanweë die lekker vakansiedag waarna ons almal uitsien, gaan dit maar ’n kort week wees hierdie.

Ons skop vandag af met ’n verhaal van CHRISTO MEYER. Hy noem dit Die Geheimsinnige Skrywer. Geniet die eerste hoofstuk!

‘DIE lewe hier buite is nie net maanskyn en rosegeur nie.”

Só het Jaap Bollenhoven op ’n dag vir my gesê.

“As daar nie struikelblokke en dorings op jou pad kom nie, is daar iewers groot fout. Sulke tye moet jy selfondersoek instel en probeer vasstel waarom alles net seepglad verloop.”

Jaap het natuurlik geweet waarvan hy praat. Dit was wyse woorde uit die mond van ’n wyse man.

Hy’t my vertel hy’t ’n arm kinderlewe gehad en dat swaarkry deel was van sy daaglikse bestaan.

Sy pa was ’n alkoholis en sy ma moes alleen sukkel om die pot aan die kook te hou. Gelukkig was hy die enigste kind. Hy weet nie wat van hom sou geword het as daar broers en susters óók was nie.

Elke sent wat sy pa verdien het, het hy op alkohol uitgegee. Hy het absoluut niks bygedra tot die huishouding nie.

Vanselfsprekend het dit wrywing tussen sy ouers veroorsaak.

Al was daar nie veel nie, het Jaap se moeder seker gemaak hy gaan nooit honger slaap nie.

Jaap het al in sub B besluit hy gaan hard leer en eendag bo sy omstandighede uitstyg.

Hy moes ook dikwels hulpeloos aanskou hoe sy pa in sy dronkenskap sy ma te lyf gaan.

Maar waarmee is ek besig? Hoe kan ek, Gielman Zoesvogel, ’n storie skryf oor iemand wat self ’n kranige skrywer was?

Iemand by wie ek my skryftande geslyp en soveel geleer het.

Hoe bring ek hulde aan ’n man wat só ’n groot indruk op my gemaak het?

Skrywers is mos nie veronderstel om mekaar te beswadder nie.

Moet ek eerder die gedeelte uitlaat wat lank onbekend was, of dit insluit? Gaan dit nie heeltyd aan my vreet as ek net stilbly nie? Ek ken myself en ek weet sommer my gewete gaan my pla.

As ek niks daaroor sê nie, sal dit soortgelyk wees aan die onlangse berig oor ’n groep musikante wat verkies het om te swyg terwyl hulle glo bewus was een van hul vriende molesteer jong seuns.

Ek het nagte aaneen rondgerol en gewonder wat my te doen staan. Ek wil nie as ’n rugsteker uitgekryt word nie, veral omdat die persoon ter sprake nie meer hier is om homself te verdedig nie.

Ongelukkig is dit so dat ’n mens in hierdie lewe soms moeilike besluite moet neem. Besluite waarmee almal nie noodwendig gaan saamstem nie.

JAAP Bollenhoven is in die eerste week van Maart oorlede.

Sy dood was vir almal ’n geweldige skok. Nie net vir sy vriende en familie op Woltemadevlei in die Koue Bokkeveld nie; vir almal in die land wat oor die jare sy boeke verslind het.

Ongelukkig was daar slegte nuus vir diegene wat beweer het Covid-19 het iets met ou Jaap se heengaan te doen gehad.

Op sy doodserti­fikaat was dit swart op wit dat natuur­like oorsake die rede was.

Die man was darem al 77 en hy is rustig in sy slaap weg op sy reis na die hiernamaals.

Jaap was nie, soos talle van die ouer garde, aan ’n siekbed gekluister nie.

Die doodsengel het net op ’n aand ’n draai kom maak en besluit om Jaap saam met hom die vreemde in te neem. Dat sommige mense selfs in die tye van die dood steeds niks anders het om te doen as skinder nie, bly maar ’n nare ding.

Jaap het ’n voorbeeldige lewe gelei. Hy het nooit gerook nie, maar hy het geglo ’n rooiwyntjie af en toe hou die hart aan die gang.

Oumenskwale soos suikersiekte, gout of rumatiek is nooit by hom gediagnoseer nie. Hy was seker die gesondste bejaarde van sy tyd.

Die oggend toe Jaap ter ruste gelê is, het die begrafnisgangers hulle nie veel aan die reëls van die lockdown gesteur nie.

Hoe kon in elk geval verwag word dat net 50 per­sone so ’n gesiene man se begrafnis bywoon? Niemand rep dan ’n woord wanneer iemand van ’n sekere politieke party tot sterwe kom en mense in groot getalle na die graf stroom nie.

Toe Jaap daar in sy kis gelê het, het hy gelyk soos een wat slaap en enige oomblik sou wakker word. Daar was iets soos ’n effense glimlag om sy mondhoeke. Was daar dalk nog iets wat hy voor sy afsterwe wou sê? Dalk die een of ander bekentenis?

Jaap se oudste dogter, Japoliena, het ’n hartroerende huldeblyk gelewer. Almal het aandagtig na haar geluister, met trane in hul oë.

Sy het afgesluit deur ’n inspirerende gedeelte uit een van haar pa se vele publikasies voor te lees.

Jaap het in sy lewe nooit ’n jeug- of spanningsroman of selfs ’n digbundel die lig laat sien nie.

Hy het as kortverhaalskrywer bekendheid verwerf.

Van sy boeke is aan hoërskole voorgeskryf en hy is gereeld uitgenooi om motiveringspraatjies te gaan doen.

Vir my was Jaap een van die interessantste persone met wie my paadjie al gekruis het.

Nie net was hy bedagsaam, vriendelik en vol grappies nie, hy kon oor enige onderwerp onder die son gesels.

En kon daardie man vir jou ’n hond uit ’n bos praat! Wanneer hy eers losgetrek het, was dit byna onmoontlik om hom stil te kry.

“Soms voel dit of ek my man met die res van die wêreld deel,” het die ewe saggeaarde Gerda Bollen­hoven gereeld gespot.

Jaap kon net sy kop skud, sy arms om sy vrou gooi en lag.

Jaap was al diep in die 50’s en ek in my 30’s toe ek hom die eerste keer ontmoet, maar op die oog af sou jy dit nooit sê nie.

Die gewese taalonderwyser het nog gereeld gedraf en strek­oefeninge gedoen.

Selfs op sy ouderdom was hy fikser as die meeste van vandag se oorgewig polisielede.

Hy’t ook so af en toe by die plaaslike rugbyklub handjie bygesit met afrigting.

Boonop was daar niks met sy geheue verkeerd nie.

Hy kon oor gebeure van lank gelede praat asof dit die dag tevore plaasgevind het.

Oud en jonk het aan sy lippe gehang. ’n Bobaas storieverteller. Dis hoe almal na Jaap Bollenhoven verwys het.

Hy was egter só beskeie dat hy op ’n keer gevra het: “Hoekom oordryf die mense so?

“Almal het talente gekry. Ek gebruik maar net myne tot die beste van my vermoë. Daar is niks spesiaals aan my nie.”

Ek glo nie Jaap het geweet hoe sy stories my oor sekere aspekte van die lewe laat wonder het nie.

Sy skielike dood het ’n leemte gelaat, maar ek glo sy nalatenskap sal bly voortleef.

Mense sal nie sommer van hom vergeet nie.

Ek wonder net of hy gedog het die waarheid omtrent hom gaan nooit op die lappe kom nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters