Verlede maand
’n Klein knapie laat army-ouens se oë groot rek
 ~ 

GENIET vandag hoofstuk 6 van nog ’n verhaal deur die ou hand SALMON SMITH. Hy roep dit “Die Vreemde Klong”.

‘DAAR is ’n vreemde laitie in my huis!” gil Nelie Oppelt aan die weermagouens op die weermagvoertuig toe dit langs hulle tot stilstand kom.

Die army-latte kyk grootoog na mekaar voordat hulle soos een man van die voertuig afspring.

’n Sersant gryp Nelie wild aan die arm en beveel rof: “Gaan wys my onmiddellik waar jy bly!”

Sy wink Lena nader en sê: “Ko’, Lena, ko’ ons gaan wys dié onbeskofte goed waar daai laitie is.”

Sy loop vinnig vooruit, met Lena wat agterna trippel en die ses army-ouens wat, lang gewere in die hande, agterna marsjeer.

Saam bars hulle by Nelie se voorhuis in. Hulle tref die vreemde klong plat op sy stert op die voorhuisvloer aan.

Hy sit egter doodstil en staar hulle met sy donker kraalogies aan.

Die soldate gaan staan in ’n linie voor die klong, gewere in hul hande, gereed vir enige iets.

Die sersant in bevel wys met ’n handgebaar vir Nelie en Lena om uit die huis pad te gee.

Die twee vroue laat hulself nie twee keer nooi nie. Hulle verdwyn met ’n spoed na buite.

Die sersant bekyk die seuntjie, wat intussen opgestaan het, ondersoekend aan. Hy sien die outydse klere wat hy aan het. Hy weet sommer onmiddellik dat dít die seuntjie is wat hulle, volgens kolonel van Deventer se opdragte, moes opspoor.

Die sersant wys aan die ander lede om hul gewere te sak en sit skielik ’n fake glimlag op sy gesig.

“H-Hallo, seun!” sê hy. “Ek is sersant Voight. Sê vir my, wie is jy en waar kom jy vandaan?”

Daar is geen reaksie van die seuntjie se kant nie. Hy staan net daar en staar hulle aan.

Sersant Voight bring versigtig ’n handradio na sy mond. Hy huiwer met die radio voor sy mond en hou sy oë op die laitie gefokus.

“Alpha Bravo 1, kolonel Van Deventer, kom in vir Alpha Bravo 6,” praat hy saggies in die radio.

Daar is ’n stilte...

“Kolonel van Deventer, kom in vir sersant Voight!” probeer hy weer. Weer ’n stilte.

Skielik kraak die handradio.

“Dis Alpha Bravo 1, stuur!” kraak die stem van kolonel Van Deventer oor die handradio.

Die seuntjie skrik toe hy die geluid hoor. Hy staar grootoog na die handradio in sersant Voight se hand en uiter ’n geluid.

Onwillekeurig lig die ander weermaglede hul gewere, maar Voight beduie met sy wysvinger dat hulle dit moet laat sak. Sy oë is steeds op die laitie gefokus.

Hy bring weer stadig die radio na sy mond en sê: “Kolonel, ons het daai vreemde klong opgespoor.”

“Kan jy bevestig dat dit hý is, sersant?” kraak Van Deventer se stem terug oor die radio.

“Ja, volgens die beskrywing van daai polisieman, is dit hy, Kolonel.”

Skielik begin die seuntjie opgewonde babbel en woes beduie.

Verstar staan die soldate daar en kyk na die seuntjie terwyl dié voortgaan in sy vreemde dialek.

“W-wat de donner sê jy nou eintlik, klonkie?” vra sersant Voight, meer teenoor homself.

“Sersant, hy praat in tale!” klink ’n stem skielik agter hulle op. Almal swaai om en sien die grys omie wat daar in die voordeur staan. Hulle merk ook die skare wat nou daar buite in die straat vergader het.

“Ek dink dis ’n taal wat die mense in die Bybelse tyd gepraat het!” gaan die ou man voort.

Voight se mond hap oop en toe terwyl hy die ou man aanstaar.

“W-wie is jy, ou man?!” vra hy vinnig.

“Ek is pastoor Allan Ockhuys van die Goeie Nuus Ministerie daar op die bult. Ek is ’n gesalfde. Dís hoekom ek weet!”

“O, um... oukei... en weet jy dalk wat die laitie hier kwytraak?” vra Voight.

“Nee, maar ek ken ’n oud-professor van die kweekskool daar in Stellenbosch wat sal weet,” antwoord pastoor Ockhuys. “Hy is ’n kenner van die Hebreeuse tale wat mense destyds in die Nuwe Testament gepraat het.”

Nou kyk hy die laitie hier voor hulle ondersoekend aan. “Die seuntjie lyk ook maar weird en daardie klere wat hy aan het, lyk soos dié wat mense in die Bybelse tyd gedra het. “Waar kom hy vandaan?”

“Ons weet nie, pastoor,” sê Voight en skud sy kop.

Die seuntjie kyk nou met nuwe aandag na pastoor Ockhuys. Skielik loop die klong tot voor die pastoor en begin gesels in sy vreemde taal.

“Ek is jammer, seun, maar ek kan jou nie verstaan nie,” sê Ockhuys en daar is ’n trek van hartseer om sy mondhoeke.

Die klong se hande skiet skielik uit en vou om pastoor Ockhuys se slape. Die weermagouens retireer verskrik.

Wat tóé gebeur, sal seker vir ewig in diegene teenwoordig se geheue ingeprent wees …

Die seuntjie se hande begin skielik te skyn. Dit lyk deurskynend, kompleet soos ’n X-straal, met die handbeentjies duidelik sigbaar.

Die lig wat dit afgee, word oorgedra na die pastoor se kop. Dít terwyl dié die ritteltits kry.

Almal in die vertrek staar in stomme verbasing hoe die pastoor se kop ook deurskynend raak, met sy brein wat stadigaan deur sy kopbeen sigbaar word.

Nie een van hulle kan ’n spier verroer nie. Dis asof ’n vreemde mag hulle gevange hou.

Die seuntjie maak sy ogies toe en begin praat.

Dit lyk nou asof hy met pastoor Ockhuys kommunikeer. Toe hy reageer met ’n knik, haal die seuntjie sy hande weg van sy kop af. Daar daal ’n stilte in die vertrek neer.

Die skare voor Nelie se huis rek hul nekke om te probeer sien wat binne-in die huis aangaan.

“Alpha Bravo 6 kom in!” blêr Van Deventer se stem oor die radio.

Voight ignoreer Van Deventer en staar die pastoor oopmond aan.

“W-wat h-het sopas hier gebeur, pastoor?” stotter hy die vraag uit.

Ockhuys draai na Voight en sê: “Sersant, die seun het my sopas ’n kykie gegee in sy lewe. Hy het my mind op ’n bonatuurlike manier oopgemaak om hom te verstaan. Hy praat ’n Aramese taal.”

Weer daal stilte in die vertrek neer terwyl die weermagmanne Ockhuys en die seuntjie geskok aanstaar.

Weer weerklink die geroep van kolonel Van Deventer oor die radio.

Voight bring die radio na sy mond. “Staan by, Kolonel. Ek gaan nou uitslag gee!”

Hy kyk vlugtig na die seuntjie, wat roerloos staan. Toe kyk hy grootoog na pastoor Ockhuys.

“Pastoor, wat gaan hier aan?”

Die seuntjie sê iets aan pastoor Ockhuys wat die ander nie kan verstaan nie. Ockhuys knik sy kop instemmend.

Toe kyk hy na die groepie weermagmanne hier voor hom.

“Sersant, ek dink julle manne beter sit!” sê die pastoor nadruklik. “Want wat ek julle nóú gaan vertel, gaan julle skok tot diep in jul fondamente!”

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters