20 dae gelede
’n Hele ander wêreld gaan oop by die haarsalon
 ~ 

HALLO, Sonlanders! Vandag gaan ons voort met die lekker verhaal “Die Geheim” uit die pen van NICOLETTE FOULDIEN. Geniet nou die derde hoofstuk.

SHAUN se vriendskap doen my goed. Benewens Mandy het ek nie juis iemand om mee te praat nie en soos dit vir my lyk, is sy glad nie van plan om haar baie aan my te steur nie.

Ek wil probeer afskaal met die drinkery. Ek dink nie dit gaan op die duur goed vir my gestel wees nie. Veral nie as ek sien hoe Donna op 49 lyk nie.

Mandy en Donna lyk asof hulle deur ’n trein getrap is en ek kry skoon lekker oor hulle so siek voel. Hulle wil mos hul lewe om suip. Hulle is egter skaars uit die bed, toe staan elkeen weer met ’n glas bier. Ek moet hoor hoe lekker hulle die vorige dag by ’n gay outjie in die flêtse gekuier het.

Dié bedryf glo nie net ’n haarsalon nie, maar ook ’n smokkelbesigheid uit sy plek en as ou vriendin het hy Mandy die hele dag op gratis drank getrakteer.

Hulle help my darem die huis skoonmaak voordat hulle net voor 12 verdwyn.

Ek besef dat ek hier op my eie is en my eie ding sal moet doen.

Die dae van heeltyd aan Mandy se rokpante vasklou, is verby. By die huis was sy my enigste vriendin, maar hier het sy ’n lewe van haar eie en dit sluit my beslis nie in nie. Nie as ek nie bereid is om soos Donna die hele dag agter haar aan te tou en my disnis te suip nie.

Die weer is effens koel en ek besluit om ’n pot groentesop te kook. Terwyl dit prut, sit en lees ek op die bank ’n liefdesroman en teug aan ’n koppie tee. Ek voel behoorlik soos ’n huisvroutjie, maar een sonder ’n man wat haar bemin en op die hande dra soos met die vroulike karakter in die boek. Ek besef dadelik ek het ’n fout gemaak om die boek te lees.

Riaan is skielik weer pertinent in my gedagtes. Of dalk was dit net die drank wat my die hele tyd in ’n toestand van semi-vergetelheid gehou het. Snaaks genoeg is dit net die goeie tye wat nou deur my brein flits. Riaan se ontspanne gelaat terwyl hy slaap. Die skaars glimlag en die sagte, donker oë. Die teer klank in sy stem as hy my van sy liefde verseker. Ek wil dit eers nie erken nie, maar ek mis hom! Ten spyte van ál die seer wat hy veroorsaak het. Die gevoel is so intens dat my oë vol trane skiet.

Op die oomblik wil ek hom so graag haat, maar ek kan nie. Ek verlang na hom. Na sy aanraking, sy liefkosings, die manier hoe hy met my liefde gemaak het in ons seldsame mooi tye saam. Ek huil stil en bedaard. Die trane maak nat kolle op die boek se half vergeelde blaaie en vlek dit donker.

Ek wonder meteens of hy ook soms aan my dink. Verlang hy ook partymaal na my en maak dit hom ook so verskriklik seer?

Ek sukkel om my gedagtes van Riaan weg te skeur en is bly toe die mans huis toe kom sodat ek net ontslae kan raak van die vreemde gevoel van verlies wat ek ervaar. Toe Shaun my later nooi om saam na die spaza shop om die draai te stap, is ek bly om bietjie uit die huis te kom.

Ná vandag voel dit behoorlik asof die mure my vasklem. Hy koop ’n pakkie sigarette en vir albei ’n suigstokkie. Ons loop stadig terug en toe ek byna oor ’n effense helling op die sypaadjie struikel, neem hy my hand styf in syne. Die skielike aanraking skok my en ek wil eers my hand terugtrek, maar besluit dan daarteen. Die gevoel is vir my vreemd en ek besef hoe min ek deur mense aangeraak word. Ek het al vergeet hoe dit jou ’n gevoel van samehorigheid kan gee. ’n Gevoel van behoort en omgee. Ek sukkel om die lastige knop in my keel af te sluk en is bly die skemerte verdoesel die troebelheid in my oë.

Mandy en Donna is darem terug en ek drink net twee biere saam met die gesin voordat ek gaan slaap. Vrydae wil die twee vroue niks daarvan weet dat ek by die huis bly nie. Dis die begin van die naweek en volgens hulle partytjietyd. Asof hulle nie elke dag partytjie hou nie! Ek laat my ompraat en stap gedwee saam na die flêtse wat asvaal die lug intoring. Oral wemel die mense.

Jong manne vorm luidrugtige groepies onder trappe en agter kragbokse. Vir my wat van die platteland kom, lyk dit maar taamlik woes en my hart klop bang in my binneste terwyl ek op Mandy en Donna se hakke deur die nou stegies volg.

By die gay ou se plek gaan dit nie beter nie. In die sitkamer wat gedeeltelik in ’n haarsalon omskep is, sit ’n paar vroue met hul hare in rollers. ’n Vuil kleuter kruip huilend op die grond rond terwyl iemand besig is om die ma se hare voor ’n groot spieël teen die muur uit te blow. Mense kom en gaan uit ’n ander vertrek waar die sjebeen bedryf word. Die gay ou skakel onmiddellik die haardroër af toe hy van ons bewus word en kom op hoë platformskoene na ons aangemince.

“Oh my dear, but you’re a lovely woman!” maak ek met Martinecia kennis en hy soen my op albei wange.

Hy neem ons deur na die ander vertrek waar ons op deftige leerbanke gaan sit.

Hy beveel ’n jong man om vir ons bier te skink. Ons sit en drink langer as ’n uur terwyl ek my verkyk aan al die karakters wat kom drank koop. So hier en daar ken Mandy van die mense wat eers ’n rukkie vertoef vir ’n geselsie voordat hulle weer loop. Dit lyk egter of Martinecia ’n streng beleid van koop en loop het. Duidelik is Mandy ’n baie spesiale gas.

Donna word eerste geroep en kom kort daarna met stokstyf geblowde hare terug. Sy lyk sommer dadelik vyf jaar jonger en die gesiggie straal behoorlik. Hierna is dit Mandy se beurt. Dié se skouerlengte hare word in ’n byderwetse styl geblow wat haar gesig perfek pas en dronk of te not, vanaand slaap Russel vir seker by haar.

Ek is effens senuweeagtig toe Martinecia met my begin. Ek versorg my eie hare en worry nie veel meer as om dit net te was en in ’n ponytail te bind nie. Maar nou ja, dit lyk nie asof ek hier veel van ’n keuse het nie. Hy draai my weg van die spieël toe hy begin besig raak, met die belofte dat hy vir my ’n verrassing het.

Ek laat hom begaan omdat ek teen dié tyd al weet hoe melodramaties hulle kan wees. Ek ontspan volkome onder die bekwame hande en laat my die bederf welgeval.

Ná my hare raak hy met my gesig doenig en ek gee kort-kort ’n gilletjie toe hy my wenkbrouhare begin pluk. Dít het ek nog nooit vantevore laat doen nie en ek kan net hoop dat ek nie soos ’n geplukte hoender gaan lyk nie.

Hierna wend hy liggies grimering aan en roep na Mandy-hulle voordat hy my na die spieël draai.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters