8 dae gelede
’n Geluid by antie Magrieta se deur laat haar oë rek
 ~ 

SONLANDERS! Die staat se saak teen Will is omtrent deurmekaar en landdros Q.N. Uys is glad nie impressed nie. Die landdros gelas – tot groot vreugde van antie Magrieta – dat Will vrygelaat moet word totdat die staat sy saak agter­mekaar kry. Hy gee hulle ’n week kans om dit te doen. Will se lawyer, V.J. Knowles, maan antie Magrieta om nie te gou excited te raak nie, want die staat gaan terugkom met ’n bang. Geniet nou hoofstuk 5 van ELDRIDGE JASON se “Die Verhoor van Will E. Hoorie”.

TOE Antie Magrieta die volgende oggend opstaan, is Will skoonveld.

Sy loop paniekerig deur die huis en gaan kyk selfs buite, maar sy kry hom nêrens nie.

Antie Magrieta gaan weer binne en loop Maggie se slaapkamer met kosyn en al oop.

“Waar’s jou broer?” vra sy terwyl Maggie nog sukkel om tot verhaal te kom.

“Yoh, Ma,” kreun Maggie en rek haar uit. “Hoekom is Mammie so vroeg op my case? Kan ’n mens nie eens bietjie laat slaap nie?”

“Jy slaap anyway jou lewe weg. Wanneer gaan soek jy vir jou ’n werk?

“Hier moet Will by die huis bly, maar hy is nie hier nie. Daai kind wil nie hoor nie.

“Die hof het gesê hy moet nêrens heen gaan nie.”

“Miskien is hy net winkel toe, Ma.”

“Met watse geld?” braak antie Magrieta weer gal. “Hy het skaars k*k in sy maag, wat nog van geld.

“Nee, ek sê jou, hy het weer loop en stront aanvang. Toe, toe, op. Ons sal hom moet gaan soek.”

Maggie gooi die duvet vies van haar af. Antie Magrieta sit haar hande in haar sye en betrag haar dogter op en af.

“En nou? Noem jy daai klein dingetjie wat jy aan het pajamas? Is jy nie bang vir verkoue nie?”

Maggie klik haar tong, vlieg op en skuur verby haar ma.

“Jy kan maar jou tande raas vir my!” skree antie Magrieta agterna. Sy sug swaar, stap by die kamer uit en gaan kombuis toe waar sy die ketel aansit.

’n Brou-ding is wat sy nou nodig het vir haar nerves. Will kan mos nooit so maak met haar nie.

Hy weet dan hy is reeds op die dunste van dun ys.

Nee, kyk, hy aard beslis na daai sleggat pa van hom. Dié se ore was ook mos maar net ornamente.

Net toe die ketel afslaan, hoor sy die voordeur. “Will? Issit jy?” vra sy. Geen antwoord nie.

Antie Magrieta los ’n kragwoord, vee haar hande aan haar uitgebleikte voorskoot af en stap brommend voordeur se kant toe.

“Vader van genade,” prewel sy toe sy die man in haar huis aantref.

“Dief, inbreker, ek bestraf jou in die wonderlike naam van...”

“Hokaai! Stop die lorrie!” sê die man en hou sy hande omhoog. “Is ek, Clive. Kan jy nie sien nie?”

Antie Magrieta trek haar oë op skrefies. Sy staar na die man met die klomp blessies op sy kop en die grys langs sy slape. En dan tref dit haar soos ’n vuishou tussen die oë: Dis Clive, haar wegloop-man, die kinders se pa...

“Nee, gotta! O, jirre, Clive. Wat sal jy dan nou so vroegoggend hier kom staan en spook? Wyk, Satan! Wyk! Gaan rus, Rex. Gaan rus. In die naam van Je–”

“Ek is nie dood nie, Magrieta,” val Clive haar in die rede. “Waar kom jy daaraan?”

“Onkruid vergaan sowaar nie,” prewel antie Magrieta. “Clive? Jirre! Dis rêrig jy. Wat soek jy hier?

“Oor die 20 jaar nie ’n woord van jou gehoor nie en nou wil jy hier kom staan en uitsteek soos masels?”

Oom Clive gee ’n verleë grinnik. “Ek... ek het verlang,” sê hy skamerig.

“Wat?!” gil antie Magrieta so hard dat haar valstande amper uit haar mond skiet.

“Jy verlang?! Vat dit jou meer as 20 jaar om te verlang?

“Nee, jong. Jy is mos wragtig ’n sleg etter van die eerste water.”

“En ek het in die koerante gelees Will is in die moeilikheid,” sê oom Clive vinnig. “Ek wou hom kom support.”

Antie Magrieta snork onvroulik deur haar neus. Daai gesnork wat sommige mense doen en dan heel ingedagte staan terwyl almal hulle met afsku aangluur. Daai gesnork wat daar knap langs die longe uitgehaal is.

“Wat praat jy van support?!” tier antie Magrieta voort. “Hier het jy dan nie eens jou kinders toe hulle nog klein was selfs met ’n druppeltjie water support nie!

“Nee, wag! Soontoe! Uit! Uit my huis uit! Moet jou nie hier supporter van die jaar kom wil staan en hou nie!”

Antie Magrieta kry die verbaasde oom Clive aan die arm beet en beur met hom voordeur toe. Op daardie oomblik verskyn Will E. Hoorie by die deur. Hy gaap die prentjie voor hom aan.

“Pa?” vra hy half verdwaas. “Issit jy?”

Will maak vinnig die voordeur oop en storm op sy pa af. Hy gryp sommer albei sy ouers in ’n omhelsing vas. M

aggie, wat kom kyk het waaroor die commotion gaan, los ’n gilletjie toe sy die prentjie voor haar sien. Sy storm vorentoe en spring sommer op die groupie van uitbundigheid.

Antie Magrieta wurm haar met moeite los. “Was kamma-likes in die badkamer, maar ek kan ruik jy het nie tande geborsel nie,” brom sy in Maggie se rigting.

Dan draai sy haar na oom Clive, wie se blessies nou glad skeef sit ná ál die group huggings.

“Clive, jy kan nie soos Lasarus ’n comeback wil maak nie. Ek gaan dit nie entertain nie.

“Jy het nou die kinders gesien, gee vir hulle elkeen ’n tjoklit se geld, of airtime-geld, en dan skoert jy.”

“Ma, moenie so wees nie!” laat hoor Maggie geskok. “Daddy het dan nou net hier aangekom. Was ma nie nou besig om koffie te maak nie?”

“Weet jy hoe duur is suiker en koffie?” vra antie Magrieta kwaai. “Dink jy regtig ek moet my suiker en koffie mors op ’n jong wat nooit ’n 5 c vir julle gestuur het nie?”

“Is... is oukei,” sê uncle Clive in ’n verleë piepstemmetjie. “Dis duidelik dat ek nie hier welkom is nie.”

“Ek is bly om te sien dat jy darem verstand gekry het in die 20 jaar wat jy so witweg was,” kap antie Magrieta terug. “Ek gaan nie clinic toe stap vir ’n verband vir my gesonde vinger nie.

“Ons deal met ’n krisis op die oomblik. Will is in die grootste van stront. Ons kan nie nog ook fokus op stray cats wat nou eers uitgefigure het waar die huis sit nie.”

“Dis hoekom ek hier is. Om te help,” antwoord uncle Clive.

“Die Jirre help net dié wat hulself help,” antwoord antie Magrieta. “Sjoe... Ek sal ’n no loitering-bordjie voor moet opsit.”

Uncle Clive sug en draai dan na Will.

“Ek het inligting oor daardie aand,” sê hy. “Dit het al my connections gevat, maar ek dink ek weet hoe jy geframe is.”

“Hoe, Daddy? Hoe?” vra Will opgewonde.

“Hoe-hoe, sê die uil,” chime antie Magrieta sarkasties in.

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters