27 dae gelede
’n Gebeurtenis dryf Lucien na ander weivelde
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

’n Nuwe Lewe is Salmon Smith se jongste Lucien-skryfstuk. Geniet die eerste hoofstuk!

DIE skielike en tragiese dood van sy ma en haar verloofde het Lucien van Wyk hard getref.

Maria van Wyk en die speurder kapt. George Mentoor is op slag dood in ’n motorongeluk op die N1 net buite Worcester. ’n Vragmotor se tyre het gebars, die bestuurder het beheer oor die trok verloor en kop-aan-kop met hulle gebots.

Vir Lucien was die skok te groot. Hy was nog besig om lekker in te settle in sy nuwe job as data typist by die Rawsonville-kliniek.

Die onverwagse slag het hom in ’n donker put van depressie laat verval. Die enigste mense vir wie hy werklik omgegee en liefgehad het, is skielik nie meer daar nie – hy is nou alleen hier op aarde.

Hy het sy troos in die drankbottel gesoek en sy werk afgeskeep. Ná ’n kort dissiplinêre verhoor is hy in die pad gesteek.

Toe het hy éérs begin drink. Hy is van die een rehabilitasiesentrum na die ander.

Nou by die laaste rehab waar hy ingeboek is, sit hy pal met die ander pasiënte vas – in só ’n mate dat die bestuur van die sentrum op die punt is om hom daar uit te skop.

Tóé een aand verskyn sy jare lange beskermengel, ouma Saar Enoch, aan hom …

Hulle almal sit nog by die etenstafels, besig om hul aandete te nuttig. Lucien se eerste gewaarwording van haar teenwoordigheid is die yskoue atmosfeer wat skielik in die vertrek neerdaal. Hy loer in die vertrek rond en gewaar ’n helder lig ’n entjie bokant hul koppe. Hy loer vlugtig na die ander pasiënte en personeel. Nie een van húlle is bewus van die bonatuurlike teenwoordigheid nie.

Toe Lucien weer sy kop in die rigting van die helder lig draai, weergalm ouma Saar Enoch se stem deur sy kop.

“Lucien, maak toe jou oë!”

Onmiddellik sluit Lucien sy oë en hy is nie verbaas toe hy sy beskerm­engel deur sy geslote ooglede kan gewaar nie. Inteendeel, hy is al van sy kinderdae af hieraan gewoond.

“Lucien, jy is besig om jouself te vernietig!” weergalm haar stem weer deur sy kop. En sy klink baie moerig. “Jy gebruik die dood van jou geliefdes om jouself te bejammer en te vergaan van die ellende. Jy sal jouself moet regruk of anders gaan jou paadjie eindig in die dood!

“Jy het ’n doel hier op die aarde …”

Die feit dat Lucien die reïnkarnasie van sy ma se oorlede broer, Denver van Wyk, is, het hom wat Lucien is met spesiale gawes gelaat.

Hy kan in die toekoms sien en hy weet ook wat in mense se lewens aangaan deur net aan hulle te raak.

Verder kan hy die laaste oomblikke van dooie mense ervaar as hy aan hulle raak.

Dan is daar die gedurige visioene wat hom so treiter. Dít verhoed dat hy ’n normale lewe lei. En hy is nou siek en sat van dit alles.

“Ek wil nie meer my doel hier dien nie! Verwyder asseblief die gawes van my. Ek wil ’n normale lewe lei!” kla hy teenoor ouma Saar.

“Nee! Jy is die uitverkorene wat deur jou reïnkarnasie teruggestuur is om die mense hier van hulp te wees!” bulder ouma Saar se stem voort.

“As jy jou doel gaan opgee, dan moet jy dood!” Dié woorde stuur ’n elektriese skok deur Lucien.

“Jy moet Worcester verlaat en ’n nuwe lewe op ’n ander plek begin. Want hier lê te veel bitter herinneringe. Hiér sal jy nooit genees nie.

“Onthou, jy het net hierdie een kans!”

Met die woorde verdwyn sy weer.

Toe Lucien sy oë oopmaak, sien hy hoe die ander rehab-pasiënte en personeel hom grootoog aanstaar. Daar heers eers ’n ongemaklike stilte in die eetsaal. Toe vind daar ’n onderlangse gemompel rondom die tafels plaas.

“Yor! Die bra praat sommer met homself.”

“Dink julle hy is besig om mal te raak?”

“Nei, die ding sien spoke,” fluister hulle onder mekaar.

Die nurse in charge van die skof, suster Van Breda, kom skielik nader en sit moederlik haar hand op Lucien se skouer.

“Is alles oukei, jong man?” vra sy saggies.

Skielik gaan daar weer ’n elektriese skok deur Lucien, met die aanraking van die vrou. Sy oë rek groot soos pierings en hy staar die suster geskok aan.

Sy retireer verskrik toe sy in sy geskokte blik vaskyk. “W-Wat i-is dit nou?!” vra sy verskrik.

“J-Jou man … en kind …” hyg Lucien dit uit.

“W-wat van my man en kind?” vra die suster skielik paniekbevange.

“Hulle is vasgekeer in jul huis. En die huis is aan die brand! Jou man het ’n pan met visolie op die warm stoofplaat vergeet en gaan slaap!” bulder Lucien se stem deur die vertrek.

Daar daal ’n stilte in die vertrek neer. Jy kan ’n speld hoor val. Almal staar Lucien nou grootoog aan.

Almal wip van die skrik toe suster Van Breda se selfoon skielik begin lui. Sy plak dit vinnig teen haar oor.

“H-hallo?” antwoord sy versigtig.

Sy luister aandagtig na die stem aan die anderkant.

Toe kyk sy vlugtig na Lucien en daar is ongeloof op haar gesig toe sy die slegte tyding kry van haar man en tienjarige dogtertjie se branddood. Eers verstar haar gesig, toe trek haar smartkrete deur die vertrek.

Terwyl haar selfoon uit haar hand tuimel, is Lucien soos blits uit die vertrek.

Hy gaan aan die hardloop, by die hek van die rehabilitasie sentrum uit en in die pad af, sonder omkyk.

Dit was die laaste wat die rehab ooit van Lucien gesien het.

DIS twee jaar later. Lucien het sy ma se huis in Worcester verkoop en die boedel is afgehandel.

Hy het ’n aardige bedraggie geërf. Nou sit hy in sy motor met sy karige besittings en vat die pad – Weskus toe.

Hy het op dié streek besluit om ’n nuwe lewe te begin. ’n Plek waar niemand hom ken nie en waar hy in rus en vrede gelaat kan word.

In die verte doem ’n dorpie voor hom op. Sy oog vang die groen naambordjie “Konnoterville 5” langs die pad voordat dit verbyflits.

Die pad gaan teen ’n heuwel af en van hier het hy ’n goeie uitsig oor die dorpie. Dit lyk maar baie klein.

Die pad loop dwarsdeur die dorpie en vorm terselfdertyd die hoofstraat met die sakekern aan weerskante. Dan die huise wat van die sakekern af uitsprei en ’n rivier wat die oostelike grens vorm. Dan is daar plase wat dit omring.

Net voor die dorpie trek hy van die pad af. Hy wil eers alles in oënskou neem voordat hy die dorp binnegaan.

Sal hy ooit hier kan oorleef? Dit lyk asof die tyd stilstaan hier. Hy is al so gewoond aan die lewe in die groot dorpe waar alles tot jou beskikking is.

’n Skielike geklop aan sy karvenster ruk Lucien uit sy mymering.

Hy wip soos hy skrik en kyk regs.

Sy hart mis ’n slag toe hy vaskyk in die ernstige en nors gesig van ’n polisieman …

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters