Verlede maand
’n Dowwe geluid in die nag laat Oros sy ore spits
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Evangelis Jenneker vra Oros om hulle te help om die hoof van hul kerk, Richard Borchards, op te spoor. Teen ’n lekker vet R200 000. Maar dit moet binne die volgende 24 uur wees voordat sy vrou, Mary, die kerk vir miljoene onder hulle uitverkoop. Sal Oros die job kan doen? Geniet nou die voorlaaste hoofstuk van ELDRIDGE JASON se verhaal “O. Phillip­”.

OROS is besig met sy tweede bier toe Mandy haastig langs hom kom sit.

Sy kyk afkeurend na die drank in sy hand voordat sy vir haarself ’n Schweppes Dry Lemon bestel.

“Hoe jy dit regkry om daai goed te drink, boggles die mind,” sê Oros. “Daai goed proe dan soos straf.”

“Ten minste is ek nie babelas die volgende dag nie,” kap Mandy terug. “Maar hoekom was dit so dringend dat jy my wou sien? Kon dit nie wag tot môre nie?”

Oros sug en vertel Mandy dan van ál die gebeure by die Borchards se kerk. Soos hy vertel, trek sy haar asem skerp in, maar laat hom toe om eers klaar te praat.

“Klink of daar sommer baie fun by daai kerk is,” sê Mandy kort nadat Oros sy storie klaar vertel het.

“Ek ken baie mense wat dáár sal wil kerkgaan. Mense soos my ma sal natuurlik ’n stroke kry as sy moet hoor van ál die sonde wat daar plaasvind.”

Oros grinnik voordat hy sê: “Ek sou nogal nie gemind het om daar kerk te gaan nie, maar dit lyk as jy ’n death wish het, dan moet jy na Ma Mary se kerk gaan. Sy gee ál die Marys ’n slegte naam.”

“Dit kan jy weer sê,” sê Mandy laggend voordat sy frons. “So, die evangelis wil hê jy moet Richard Borchards opspoor? En nog voordat die haan drie keer kraai?”

Oros vat eers weer ’n sluk van sy bier en vee sy mond met die agterkant van sy hand af voordat hy haar antwoord.

“Vir ’n koel R2o0 000. Is dit nie ’n miracle nie? Gister was ek nog ’n broke ass geskeide man en binne die volgende 24 uur kan ek lekker moola onder die matras het.”

“Jy bedoel in die bank het?” vra Mandy, maar Oros skud heftig sy kop.

“Dink jy regtig ek gaan Sars sponsor sodat politicians net weer bedrog kan pleeg?”

Mandy stamp amper haar glas koeldrank van die toonbank af van ontsteld wees.

“Maar dis die regte ding om te doen. Jy bedryf ’n besigheid. Jou boeke gaan mos nooit klop nie.”

“Solank Sars my nie klop nie,” antwoord Oros en vat weer ’n sluk van sy bier. Hierna klap hy sy lippe behaaglik teen mekaar.

“Jirre, hoekom moet drank dan so lekker smaak as ’n man nie baie geld het nie?

“But anyhow, ons het ’n job om te doen. Is daar enigiets anders in Mary Borchards se besoek aan jou wat dalk ’n clue kan wees oor waar haar man kan wees?”

Mandy dink diep. Oros sien die oulike fronsie tussen haar oë. Mandy is ’n stunning girl, dink hy. Bietjie vol draad, maar definitief ’n girl vir die langpad. Wie weet, as hy eendag weer op sy voete is ...

“Ek onthou!” gil Mandy. Oros wip van die skrik langs haar. Soveel so dat hy ’n bietjie van sy kosbare bier op sy hand stort.

Hy lek vinnig die paar druppels van sy hand af en draai dan beskuldigend na haar.

“Die Borchards huur ’n paar containers in die industriële gebied. Ek onthou, want Mary Borchards het daarvan gepraat. Glo shipping containers wat deel van hul sendingwerk na ander Afrika-lande gestuur word. Maskers en hand sanitiser-goeters. Toe ek meer hieroor wou weet, het sy toegeklap soos ’n boek.”

“Weet jy waar?” vra Oros opgewonde. Die paar druppels bier wat verlore gegaan het, is nou skoon vergete.

Mandy plooi haar neus soos sy kliphard probeer dink.

“Orihana, Olympia ... so iets. Ek is nie seker nie.”

“Orion,” help Oros haar reg.

“Ek onthou daai gedeelte van die industrial area baie goed. Dis daar waar die tikkoppe snags tokkies by die dosyne vang en die ladies van die nag besigheid doen.”

“Hoe weet jy?” vra Mandy. Oros gee ’n ongemaklike laggie.

“Een van my polisiepelle het my vertel. En ’n mens hoor mos maar die stories,” antwoord hy haar ontwykend.

Hy gaan haar nie sê dat hy al self ’n customer daar was nie.

“Mandy, jy is ’n darling – soos gewoonlik,” sê Oros en drink dan haastig sy glas leeg.

“Wees nou ’n soet meisie en gaan reguit huis toe.

“As alles volgens plan verloop, vat ek jou môre Spur toe.”

“Spur se menu is al sedert die geboorte van Moses dieselfde,” sê Mandy en sug. “Pay my liewers en koop ’n mooi bag vir my.”

“Dis ’n deal,” antwoord Oros. Hy grawe in sy sak, waarna hy ’n paar note op die toonbank gooi. Dis die laaste geld op sy naam, maar hopelik is hy een van die dae geld se baas. Hy plak ’n soentjie op Mandy se wang. Sy gril, want teen dié tyd weet hy al sy verafsku die reuk van bier.

Hy grinnik en probeer haar weer soen, maar hierdie keer skuif sy ’n ent weg van hom.

“Oh, Mandy. Well, you came and you gave without taking.

“But I sent you away. Oh, Mandy ...” begin Oros kliphard sing terwyl hy van haar wegloop. Mandy gee hom ’n paar pangakyke, maar hy is ashes.

Sy luck is besig om te turn. Hy voel dit so aan sy armgat ...

DIE Orion-gedeelte van die industriële gebied lyk regtig dodgy, om die minste te sê.

Waar die res van die gebied se straatligte werk, is dié gedeelte in donkerte gehul nadat tikkoppe basaar gehou het met die kabels in die gebied.

Oros skakel sy Tazz se hoofligte af en bespied die gebied. Of altans, dis wat hy try doen met die bietjie flou maanlig tot sy beskikking.

Hier en daar maak hy ’n sil­hoeët-figuur of twee uit. Voordat hy sy ligte afgeskakel het, het hy ’n paar ouens in hul karre gesien koes. Ouens met girls van die nag wat links voor voetjies hang. Onder andere. Getroude ouens wie se vroue vas glo dat hul mans in daai stadium ’n laat skof werk om op te maak vir die geld wat hulle weens Covid se short pay verloor het.

Oros skud sy kop. Hy’t die een ou se kar herken. Blokman by die slaghuis se kar. Hy remind homself om daai man nie meer met die hand te groet nie.

Hy bewe van die koue toe hy uitklim. Hy moes ’n paar happe OBS ingesit het; dis nou te laat vir dit. ’n Flits sou ook gehelp het.

Hy stap stadig tot by ’n klomp containers wat opmekaar gestapel is. In die flou maanlig maak hy ’n skoenlapper op een uit, maar is nie seker of sy oë tricks op hom speel nie.

Dan hoor hy ’n dowwe kap­geluid. Verbeel hy hom, of kom dit straight uit die container met die butterflies op?

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters