15 dae gelede
’n Antie in die stad ontferm haar oor Koos
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Koos Jackpot jr. is moeg en besluit hy’s klaar met die skool. Die ma van sy crush soek hom anyway ook nie naby haar dogter nie. Hy pak sy sak, vat ’n lift met een van die inwoners en besluit om sy heil in die grote Kaap te gaan soek. Geniet nou hoofstuk 3 van ELDRIDGE­ JASON se verhaal “Koos Jackpot”.

AS VREK stadig ry al ooit ’n persoon was, dan was dit oom Arram.

Koos was skoon spyt hy het die geleentheid saam Kaap toe saam met dié oom gevat.

Dit het hulle langer gevat om Vredenburg te bereik as wat die swangerskap van ’n olifant duur.

Net anderkant die Louwville-indraai moes hulle ook aftrek toe die bakkie se radiator te warm na oom Arram se sin was.

Wat kon hy doen? Verder hike wou hy nie, want hy wou oom Arram nie in die gesig vat nie. Hy het maar ’n hele uur en ’n half langs die pad gestaan en snert gesels met ’n paar Hopefielders wat gestaan en huis toe hike het.

Toe hulle uiteindelik in die pad val, was die rit tot sy verbasing glad. Maar ook net tot voor Paardeneiland, toe die radiator besluit hy is nie lus vir die Kaap en sy sondes nie.

Koos het besef dit is ’n sign en het sy koebaais gesê.

Breed kon hy nie smile nie, want sy mond was nog taai van al die peanut-butter-en-jam-toebroodjies wat oom Arram hom op hul reis gevoer het.

Hy was ietwat bekommerd dat oom Arram nes die Moses van ouds sonder ’n GPS deur die stadswildernis sou moes swerf.

Oom Arram het egter sy vrese met ’n nonchalante waai van die hand eenkant toe geskuif en hom verseker dat hy fine sal wees.

Jare later het hy wat Koos is, uitgevind dat oom Arram eintlik op pad was na ’n strip club in Barrackstraat, maar dat ’n “barmhartige Samaritaan” wat hom langs die pad kom help het, sy bakkie gesteel en van alle parte gestrip het.

As Koos geweet het dít sou gebeur, sou hy nooit die oom alleen langs die pad gelos het nie. Hoe moes hy dan ook nou voorsien dat die Kaapse skelms so gewetenloos sou wees?

Anyway, sy voete was al seer geloop toe hy uiteindelik via die N1-snelweg die Moederstad per voetekar bereik het.

Die sweet het hom afgetap toe hy op Artscape se trappies gaan sit het om ’n bietjie asem te skep.

Hy het afgekyk na sy voete en gesien sy skoensole is in hul tjops geloop, maar dit was nie ál wat in sy tjops was nie. Sy wallet was ook in sy tjops ... weg.

Iewers langs die pad het sy wallet uit sy Karrimor geval.

Baie geld was daar nie in nie, maar Koos het besef hy het nie eens ’n sent op sy naam om iets te koop om te eet nie.

’n Kerkmuis was op daardie oomblik ryker as hy. Kop in die grond het hy na sy verslete skoensole bly staar. Totdat hy iemand naby hoor keel skoonmaak het.

Toe Koos sy kop lig, sien hy dat ’n gryse antie voor hom staan. ’n Moerse handsak in die een arm se mik. In die ander hand het sy ’n Shoprite-sakkie vasgehou.

Koos kon nie sien wat alles in dié sakkie was nie, maar hy het die reuk van ’n steak and kidney pie gekry. ’n Reuk wat hom skoon naar van die honger gemaak het.

Sonder om ’n woord te sê, het die antie met ’n bewerige hand in die plastieksakkie gegrawe en die pie te voorskyn gebring.

Sy het dit met ’n bewende hand na Koos uitgehou. Koos het nog nooit in sy lewe ’n bewende pie geëet nie, maar dit was nou nie die tyd vir uitsoekerig wees nie.

Soos iemand wat jare laas geëet het, het Koos die pie verslind dat die krummels waai. Toe hy klaar geëet het, het die antie ’n half gedrinkte botteltjie Jive na hom uitgehou.

Koos het ’n dankie gemompel en die koeldrank met een teug afgesluk.

Die antie het met groot gesteun en geskimp van jig en hoë bloeddruk langs hom op die trappies kom sit.

In stilte het hulle die gejaag van die stad voor hulle sien afspeel.

Koos het ’n bergie gesien met die kliphardste hakskene wat hy al ooit aanskou het.

Ook ’n sonbruingebrande jong klong wat met ’n fake Amerikaanse aksent verbygangers probeer oorreed het om hom met taxi fare te bless.

Dis met hierdie waarnemings dat Koos besef het daar is niks fair aan ’n lewe in die Kaap nie.

Langs hom het die antie gesug en haar kop geskud.

“Ek is antie Ruth. Ek bly in die Kleinvlei,” het sy gesê.

Dit was op die punt van Koos se tong om die ou vrou te vra of daar ’n Grootvlei ook is.

Antie Ruth vertel hom toe ’n storie oor hoe sy na die Sassa-kantore wou kom, maar tot by Arts­cape verdwaal het.

Sy het goed gepraat van die ry wat te lank was by number 42. Goed wat Koos nie verstaan het nie, want hy het ál die jare gedink die enigste nommers in die Kaap is die 27’s en 28’s.

Daar was deernis in antie Ruth se oë toe sy na Koos kyk.

“Ek het nog net een seun oor. My ander seun, Rudy, het ook op straat gebly en het net verdwyn.”

Koos wou sê dat hy nie op straat bly nie, maar het besef dat dit nie heeltemal die waarheid sou wees nie. Sonder geld en sonder enige heenkome was hy eintlik maar ’n bergie in training.

Die antie het aangehou praat oor haar ander seun, Frankie, wat suppose was om haar in die Kaap te kom haal.

Dit was net Frankie dit en Frankie dat en quite frankly was Koos al lekker dik van na antie Ruth se Frankie-omnibus luister toe ’n gehoot naby hulle opklink. Nie ver van Koos en die gryse antie nie het ’n spoggerige pikswart BMW opgetrek.

Die agterruit het spoggerig afgedraai: “Moet Mammie my dan so in die eyes steek deur hier te sit en bedel?” het ’n ietwat irriterende stem vanuit die kar gekom.

Antie Ruth het haar tong vererg geklik. Voordat sy egter iets kon sê, het die kardeur oopgegaan.

Eers het ’n man uitgeklim wat soos ’n bodyguard gelyk het, toe ’n man wat van kop tot tone met juweliersware bedek was.

Koos het hom aangegaap. Hy was te skaam om te vra of American Swiss dan nou mobiel geraak het. Netnou het die man gedink hy is affie-plaas-af.

“Wie’s dié jong?” het die man die woorde uitgespuug en Koos ’n sepie-reeks pangakyke gegee.

“A nee a, Frankie, waar’s jou maniere?” het antie Ruth die man berispe. “As dit nie vir hom was wat so mooi na my gekyk het nie ... Hy’s verlore. Ek het jou goed grootgemaak. Hy móét eenvoudig saam met ons kom.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters