10 dae gelede
’n Ander cop kom getuig in die hof oor Will. E. Hoorie
 ~ 

SONLANDERS! Oe, jinne! Antie Magrieta wil ook nie hoor nie. Maar haar kapsie teen die ondersoekbeampte se getuienislewering werp vrugte af, want dié kaptein is ’n eks van haar seun en die hof het gelas dat iemand anders moet kom getuig in dié ondersoekbeampte se plek. Tydens die kort pouse konfronteer sy Will en hy sê vir haar hy is onskuldig en geframe. Maar praat hy die waarheid? Geniet  nou hoofstuk 3 van ELDRIDGE JASON se “Die Verhoor van Will E. Hoorie”.   

‘GEFRAME?” vra antie Magrieta in ’n skerp stem. Almal loer nuuskierig na haar.

“Geframe?” vra sy weer. Dié keer in ’n fluisterstem. “Soos die raam van ’n portret?
“Nee, wag, Will E. Hoorie. Jy moet nou vir my sulke stront kom staan en vertel. Dink jy wragtig ek moet glo dat jy en hierdie maergat-lyf van jou in ’n portret pas?”

Will E. Hoorie skud heftig sy kop. Sy ma kom nog uit die tonteldoos se jare.

“Ma kan gaan google wat ge­frame beteken,” antwoord hy dan. “Ek kan sien Ma weet nie wat ek bedoel nie.”

“Google? Google? Wat virre ding is dit?” vra antie Magrieta.

“Vir wat moet ek vir Goggles watsegoeters gaan vra oor die goed van my kind? Het daardie goggles jou in die lewe gebring?”

Will E. Hoorie sug swaar. Gelukkig vir hom kom Maggie, sy suster wat intussen ook nader gestaan het, tot sy redding.

“Will bedoel iemand het hierdie aanklagte teen hom opgemaak, Mammie,” verduidelik Maggie geduldig, soos iemand wat iets aan ’n kleuter verduidelik.

“Ek verstaan dit,” kap antie Magrieta vies terug. “Ek verstaan net nie wat goggles hiermee te doen het nie. Is dit dan nie waarvoor daar plekke soos Spec­Savers is nie?”

Voordat Maggie kan antwoord, merk sy Dickie Lake, die staatsaanklaer, op wat vinnig in hul rigting gestap kom. Toe antie Magrieta hom gewaar, blaas sy ’n gasket.

“Dickie Lake, die sonde. Ek het jou gat help grootmaak en nou wil jy kliphard my seun se gat tronk toe werk.
“Hy is geframe. Sonder ’n raam. Jy sal jou werk reg m

oet doen. Ek kan nie glo–”

“Ek doen maar net my werk, Antie,” val Dickie haar in die rede.

“Die hof sal bepaal of Will onskuldig is, nie ek nie.

“Ek–”

Hy bly stil en byt sy onderlip vir ’n wyle vas. “Ek is maar net hier om te sê ons begin binnekort weer. Die ander ondersoekbeampte is amper hier.”

Antie Magrieta gluur hom aan, maar sê wonder bo wonder nie ’n woord verder nie.
Sersant Wilfred Kapilfred staan ook versigtig nader. In die hof likes hy sy gewig rondgooi, maar vir antie Magrieta en haar vlymskerp tong is hy diep bang.

In ’n baie bedeesde stem vra hy Will E. Hoorie om terug na die beskuldigdebank te keer. Will gee traag gehoor. Antie Magrieta en Maggie draai ook om en gaan sit op hul sitplekke.

Hulle het skaars hul sit gekry, toe bulder sers. Kapilfred weer: “Staan in die hof!”
Antie Magrieta gee hom haar beste panga-kyk terwyl sy swaar orent beur, maar die cop kyk anderkant toe.

Landdros Q.N. Uys kom haastig die vertrek ingestap en gaan sit. Die mense in die hofsaal gaan sit ook.

Landdros Uys loer na Dickie Lake, wat blitsvinnig van sy stoel af opspring. “Bring hom in,” sê hy dan aan sers. Kapilfred.

Dié stap na buite en oomblikke later kom hy weer ingestap met ’n polisiebeampte kort op sy hakke.

Antie Magrieta gluur die cop aan. Hul oë ontmoet. Sy wil haar vererg vir die vermakerige trek in sy oë toe hy verby haar stap.

Dié jong ken sy baie goed. Toe dit nog swaar gegaan het en sy altyd skelmpies drank moes smokkel om die pot aan die kook te hou, was dié cop altyd die voorbok by die raids by haar huis.

’n Cop wat kamma-likes alles volgens die boek wou doen, maar sy weet hy was naweke smoordronk van háár gekonfiskeerde wyn. Die etter! Haar oë wyk nie van die cop af toe hy gaan stelling inneem in die getuiebank nie.

“Reg, U Edele. Soos vroeër genoem, is sers. Eugene Konstabel ook lid van die ondersoekspan.”

Dickie Lake draai na sers. Konstabel.

“U volle naam en van, asseblief.”

“Eugene Levi Konstabel.”

’n Geproes klink vanuit die hofgalery op. Landdros Uys gluur oor die crowd.
Almal kyk na antie Magrieta.

“Dit was regtig nie ek nie,” prewel sy aan Maggie, wat haar ewe beskuldigend aangaap.

“Maar ek kan jou wel sê dat ek nog nie daai jong Levi-jeans sien dra het nie.”

Soos gewoonlik vul antie Magrieta se klipharde gefluister die hele hofsaal. Dickie Lake sukkel self kliphard om sy pose te hou.

Sers. Konstabel probeer self kliphard sy adamsappel insluk.

“En is ek reg as ek sê u is lid van die ondersoekspan in die klagte waarop die beskuldigde tereg staan?”

“Dis korrek,” antwoord Konstabel.

“Kan u ons ’n bietjie agtergrond van die ondersoek gee?” vra Dickie Lake aan hom. “Ek besef julle wil nie in hierdie stadium van die ondersoek te veel uit die mou laat nie, maar wat is daar wat u met die hof kan deel wat die polisie en staat se teenstaan van borgtog kan regverdig?”

Sers. Konstabel maak kliphard sy keel skoon en draai dan na landdros Uys.
“U Edele, op die aand van 25 Augustus 2021 was ek op stand-by toe ek ’n oproep van ons polisiestasie gekry het om na ’n sekere huis in Tinktinkie-straat te gaan.

“Die huis is bekend aan ons, want dis ’n bekende suikerhuis.”

“Suikerhuis, maar hy loop ook naweke daar,” klink dit uit die gehoor uit op.

Sers. Konstabel raak bloedrooi in sy gesig. Dickie Lake draai na die hofgangers. Antie Magrieta draai haar lyf ook half na agter. Die Here kan haar maar straf, maar hierdie keer was dit ook nie sy nie.

“Mense, jul kommentaar is ongevraagd,” sê landdros Uys bot. “As ek die persoon vang wat so hof-kommentator wil speel, gaan ek ’n voorbeeld van hom of haar maak. Gaan asseblief voort, sersant Konstabel.”

“Dankie, Edelagbare. Soos vroeër gesê, is ek toe uit na die betrokke suiker ... err ... huis. Daar gekom, was daar ’n hele commotion van mense wat buite gestaan en skel en baklei het.

“Binne was daar twee vroue wat in die sitkamer gesit het. Hul klere was half van hul lywe geskeur en albei was in ’n toestand. Hulle het beweer dat hulle onsedelik ... Hoe sê mens nou weer ... uh ... dat hulle verkrag is.”

“En was die beskuldigde ook daar?” vra Dickie Lake.

Sers. Konstabel knik.

Dan sê hy: “Die beskuldigde het daar eenkant kaalbolyf gestaan met ’n tiklollie in die hand.”

Lees môre verder

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters