19 dae gelede
’n Aandjie van opgewondenheid lei tot gedagtes
 ~ 

HALLO, Sonlanders!

Vandag gaan ons voort met die lekker verhaal “Die Geheim” uit die pen van NICOLETTE FOULDIEN. Geniet nou die vierde hoofstuk.

EK VAL byna van die stoel af van skok en hoor net vaagweg Mandy-hulle se verbaasde uitroepe.

Voor my in die spieël is die mooiste jong meisie wat ek al ooit gesien het! My hare hang los tot onderkant my skouers.

Die geplukte wenkbroue gee my ’n heel ander voorkoms. My gesig het meer definisie. Dit stel my hoë wangbene ten toon. Die grimering is lig en byna onsigbaar en dit lyk asof my wange van nature blosend is.

Ek besef vir die eerste keer dat ek mooi is. As ek net die masker van die verlede van my kan afskud, sal ek vir seker tot my volle potensiaal kan kom.

Ek huil byna van dankbaarheid en Martinecia keer vir ’n vale sodat ek nie sy harde handewerk met my trane tot niet maak nie.

Noudat ek weet watter mens ek kan wees, het ek sommer my lank verlore selfvertroue terug.

My selfbeeld is in só ’n mate herstel dat ek byna soos dieselfde Layla voel as voordat ek in Riaan se kloue beland het.

Die aand kyk Shaun met openlike bewondering in sy oë na my. Kuiltjies vorm in sy wange toe hy goedkeurend vir my glimlag. Ek is verbaas toe hy my vra om saam met hom te gaan stap. Mandy loer net betekenisvol in ons rigting toe hy my hand vat op pad na buite.

Op my vraag waarheen ons gaan, antwoord hy net: “Jy sal sien.”

Ons draai by ’n padwinkel in waar hy vir ons draairoomys koop. Ons loop hand aan hand en dit voel vir my bloot natuurlik.

Ek herken die stasie toe ons dit nader en sien die byna verlate taxi rank, die leë stalletjies waar nou net vuil papiere ronddwarrel.

In die Parow-winkelsentrum dwaal ons deur die verlate gange verby geslote winkeldeure en druk ons neuse teenaan ruite om die inhoud te bewonder.

Ons kies trouringe en juwele uit by American Swiss, meubels by Joshua Doore, klere by Edgars en Markham en selfs vir my ’n droomtrourok by ’n klein boetiek.

Saam met Shaun betree ek ’n droomwêreld en dit word ’n aand wat ek nooit sal vergeet nie.

My borrelende lag val vreemd op my eie ore. My asem jaag van opgewondenheid oor die verrassings wat in elke nuwe winkelvenster op ons wag.

Ek trippel haastig voort en trek die laggende Shaun met my saam. As ek afdwaal, kruip hy in donker hoekies vir my weg.

Hy maak my skrik van agter groot pilare en elke keer voel ek hoe die lag diep uit my maag borrel en my hele wese met vreugde vul.

Ek drink in soveel ek kan. Ek voel sorgeloos en vry. Sterre skitter helder in die hemelruim toe ons moeg maar gelukkig die terugtog aanpak.

Toe ons tuiskom is dit net Charl wat ons vas aan die slaap in sy bed aantref. Dis ná 22:00 en Shaun gooi Russel en Mandy se matras op die vloer sodat hy die laataand-movie kan kyk. Dan haal hy ’n bottel likeur uit die yskas. Ek maak my op die bank tuis. Ons sit vasgenael voor die aksie op die kassie en sluk aan die inhoud in ons glase.

Die bank is nogal ongemaklik en ná ’n ruk oorreed Shaun my om langs hom te kom lê.

Die skielike nabyheid ontsenu my en vir ’n lang ruk kan ek glad nie op die movie konsentreer nie. Ek moes ingesluimer het en word wakker van iets wat swaar op my heup druk. Ek stoot dit weg. Shaun se arm gly slap van my lyf af, maar hy slaap ongestoord voort. Hy of iemand moes ons gedurende die nag met ’n kombers toegemaak het en ek wikkel my saggies daaruit voordat ek opstaan. Ek sluip op my tone na die kamer – net om Russel en Mandy in my bed aan te tref. Op die ander bed snork Donna. Net een kyk in haar rigting laat my afsien van die voorneme om by haar in te kruip. Dan maar liewer terug na Shaun, al probeer my gewete my sê dis verkeerd.

Ek skuif weer versigtig langs Shaun in.

Hy prewel iets in sy slaap en draai dan sy rug op my. Ek lê ’n ruk doodstil en my gedagtes fladder na die onvergeetlike tyd wat ek saam met hom gehad het.

Hy’s wonderlik en ek sal my kop bymekaar moet hou. Daar’s nie ’n manier hoe ek hom by my gemors van ’n lewe gaan betrek nie.

Ek sal eers moet probeer rigting kry. Maar nou het ek sy nabyheid nodig en terwyl hy slaap, gaan ek skaamteloos daarvan gebruik maak. Ek kruip styf teen hom en slaan my arm liggies om sy lyf sodat my hand teen die sagte vel van sy ontblote maag tot ruste kom. Sy lyf voel warm en die vae geur van sy deodorant kleef in die holte agter sy nek waar my neus rus. My voete skop nes tussen sy bene en ek kleef soos ’n parasiet aan hom vas om nog te tap van die warmte en vreugde wat hy my so onverwags kon bied. Ek drink sy intieme nabyheid in totdat ek aan die slaap raak. Iewers in die nanag draai hy na my en ek draai op my ander sy. Ek voel sy hand om my lyf kruip en ’n been wat bo-op myne tot ruste kom voordat ek weer in ’n diep slaap wegsink.

Ons word byna saam wakker en Shaun vlieg verskonend op.

“Sorry! Layla, man! Ek moes aan die slaap geraak het.” Ek maak hom met ’n glimlag stil en hy verdwyn haastig toilet toe.

Hoe sê ek vir hom dat ek sy nabyheid geniet het? Dat ek hom vir eie gewin gebruik het?

Hy kom terug en bied aan om vir ons koffie te maak. Ek kyk hom agterna en meteens is hy die aantreklikste man wat ek al ooit gesien het. Met sy gekreukelde T-hemp, jeans en kaal voete maak hy iets in my wakker wat ek dadelik probeer onderdruk.

Riaan se beeld flits vlugtig voor my oë verby en ek verwerp dit dadelik.

Terwyl die koffiewater kook, verdwyn Shaun weer in die bad­kamer in en kom dié keer kaalbolyf terug.

Net een kyk na hom verseker my dié man is lankal nie meer ’n kind nie. Hy het spiere op ál die regte plekke en ’n fyn strepie pikswart hare loop sexy van sy bors tot oor sy naeltjie en verdwyn in sy broek. Ek sien weer die beeld van ’n ander man en besef hulle is nie vergelykbaar nie. Die een donker, die een lig. Die een, Riaan, ’n duiwel, die ander ’n regte sonstraal. Ek weet nie hoekom my gedagtes gedurig in dié rigting neig nie. Is dit omdat Shaun die eerste ordentlike man is wat my pad kruis? Is ek besig om in ’n tweede Mandy te ontaard wat vir almal val wat ’n broek dra?

Ek wil niks met Shaun te doen hê nie! Hy’s voorlopig net ’n vriend en klaar, berispe ek myself toe hy die stomende beker koffie aan my oorhandig.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters