22 dae gelede
Misoes is moerig oor die pastoor so orders uitdeel
 ~ 

HALLO, Sonlanders! Ons lees vandag verder aan Pastoor Moenie Mors”, ’n uitstekende verhaal van SALMON SMITH. Geniet nou die slothoofstuk.

‘PASTOR Moenie Mors, vanaand gaan ôs vi djou wys djy moenie mors mettie Evil Kids nie!” gil een van die jongens daar buite voor Maarman se huis.

Toe bombardeer hulle weer die huis met klippe. Maarman koes vinnig by die huis in en maak die deur toe.

Magteloos kyk hy toe hoe die klippe deur sy ruite trek en die glasplinters die hele wêreld vol spat.

Vir ’n oomblik weeg hy sy opsies op. Toe maak hy plak vas…

Hy gaan krap in sy tool-boks in die spaarkamer en pluk ’n baseball­ bat uit. Doelgerig loop hy na die voordeur.

Hy pluk die deur oop op die oomblik toe polisie-sirenes in sy straat opklink.

Die jongens laat spat in die rigting van Keeromstraat toe die polisievên met flitsende blou ligte voor sy deur stilhou.

Een van die polisiemanne spring flink uit.

Hy probeer agterna hardloop, maar besef dit gaan ’n hopelose poging wees, want die jongens is soos springbokkies.

“Meneer, het jy seergekry?” vra die sersant baie besorg.

“Nee, Sersant, dis net my vensters wat baie lelik seergekry het,” skerts hy en forseer ’n glimlag uit.

“Dankie dat julle so gou hier opgedaag het.”

“Ons was besig met roetine-patrollies in die area toe ons die kabaal hoor. Dit smaak my daai jongens haat jou vurig.

“Het u darem enige een van hulle herken?” vra die ander polisieman terwyl hy ’n docket uit die vên haal.

“Nee, dit is te donker hier in die straat. Maar ek weet sommer dit was daai Evil Kids-gespuis,” sê hy.

“Oukei, Meneer, ons gaan jou saak vat, natuurlik vir insurance purposes ook. Dan sal ons kyk wat ons hieraan kan doen.”

“Dankie, Sersant, ek soek eintlik net ’n saaknommer vir die in­surance­. Los maar die ondersoek.

“Ons sal daai jongens seker nooit kry nie,” sê Maarman.

Sy gedagte is nou in die hoogste versnelling. Hy het nou klaar sy mind opgemaak wat hy gaan doen – tomorrow, first thing in the morning. En dit is ook toe net so...

KLOKSLAG agtuur is pastoor Maarman op die drumpel van Misoes, die leier van die Evil Kids, se huis. Daar staan twee vuilgatte voor die hek en gluur Maarman so uit die hoogte aan.

“Ja, wat soek djy?!” vra een rof.

“Kykie, boeta, as jy nie nou vir my om verskoning gaan vra vir jou onbeskofgeit nie, dan laat ek jou nou doedoes!” waarsku Maarman die vuilgat.

Die jong gluur past. Maarman woedend aan. “Hei, djou ma se...!”

Voordat hy nog ’n kragwoord kan uiter, tref Voorberg hom vol in sy bakkies.

Hy tuimel agteroor en skuur met sy rug so ’n netjiese pad in die sand oop. Hy is sommer onmiddellik in droomland.

Sy makker keer gou vir sy bakkies en staan vinnig eenkant toe.

“Oukei, ek sien jy’s wys!” sê Maarman en storm by die hek in.

Binne-in die jaart spring Misoes se manskappe verskrik van hul bankies af op toe past. Maarman die jaart binnekom.

“Hei, hie’s daai pastor Moenie Mors!” gil iemand dit uit.

“Ek soek daai misbaksel van ’n Misoes!” kom Maarman sommer vinnig tot die punt terwyl die jongens ’n kring om hom maak.

“Kykie, outoppie, djy’t nogal ’n vuil plak om hie’ in te storm en ôs lanie te kô beledig!” sê Saloet en sy gesig trek grotesk van woede.

Maarman staan nader aan Saloet en kry sy gesig mooi in fokus. Hy wil Voorberg mooi tussen die oë en die neusbrug van die boef vasskiet.

“Laat hom deurkom, manne!” klink ’n growwe stem van die voordeur se kant af.

Almal ruk om en daar staan die groot boefleier, Misoes.

Hulle eerbiedig vinnig hul leier en maak ’n pad sodat Maarman kan verbykom. Binne-in die huis gaan staan Misoes voor Maarman. “Ja, wat is jou storie, Pastor?” vra hy.

“Jou manne het gisteraand my huis se vensters uitgegooi,” sê Maarman. “Jy moet betaal vir die skade. Dan moet jy jou manne opdrag gee dat hulle nie met my moet mors nie.

“Hulle gaan dit diep berou!”

’n Spiertjie spring in Misoes se regterooglid. Iets wat altyd gebeur as hy moerig is.

“Djy’t nogal ’n vuil plak om die k*k vi my te ko’ vi’tel, hie’ in my huis!” ontplof hy. “Djy rand my manne aan daar in die public, djy vat hul guns af, djy maak dreigemente teen my bende! Nou ko’ gee djy nog orders ook hier!”

Maarman se oë is donker, yskoue poele terwyl hy Misoes aangluur.

“Ek gee jou kans tot môre om my huis se ruite te fix en vrede in Kleinvlei te bewerkstellig!”

Met dié woorde loop hy uit.

“Djy’sie ee’s bang ek laat djou sommer net hie’ val nie, Pastor!” dreig Misoes agterna.

In die hek steek Maarman vas en draai om. “Jy het jou misbaksels agter jou, maar ek het my God agter my!” sê hy, draai om en verdwyn na buite.

Later die middag vergader Misoes en al sy manne in sy woning. Daar is so ’n stuk of 30 manne.

Hulle is nou besig om te beraadslaag oor hoe hulle met pastoor Maarman kan klaarspeel.

Hulle het ál die opsies oorweeg, soos om hom te ontvoer en dan iewers van kant te maak. Maar Mankas, Misoes se regterhand, het ’n briljante idee…

Tussen hulle staan ’n 12 kg-gastenk wat hy hierheen gebring het.

Mankas sê: “Kykie, manne, my plan is dat ek en so vier manne vanaand met dié tenk na die pastor se huis toe gaan.

“Ons draai dan eers die gas oop en stoot dan die tenk deur een van daai stukkende vensters.

“Ons wag dan so ’n minuut dat die gas lekker deur die hele huis trek. Dan staan ons op ’n afstand en gooi ’n petrolbom na die huis.

“Dan – kaboem! Die hele huis met pastor en ál hemel toe!”

Misoes se gesig helder op. “Mankas, dis mos nou vir djou ’n briljante idee!” skree hy opgewonde.

Hy ondersoek die groot gaskan en peuter aan die kopgedeelte.

“Manne hou maar jul neuse gou toe, laat ek gou kyk of die gaskan darem werk,” sê hy en draai die gaskan oop.

’n Sterk suisgeluid klink op toe die gas uit die kan ontsnap. Gou gryp almal na iets om voor hul neuse te hou vir die sterk gasreuk.

Misoes is opgewonde. “Jislaik, manne, vi’naand k*k daai pastor!” gil hy dit uit en vroetel in sy sak. Hy bring ’n lighter en ’n dagga-zol te voorskyn. “Wag laat ek gou ’n zol rook!”

Voordat sy manne hom kan keer, steek Misoes die lighter aan – sy laaste dom daad hier op aarde.

Die slag wat die Evil Kids-gespuis die ewigheid instuur, kan ver gevoel en gehoor word. Iewers in Keeromstraat staan pastoor Dawid Maarman. Sy hart maak bokspringe.

“God is goed,” prewel hy saggies, draai om en loop huis toe.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters