23 dae gelede
Mieta gedy as ’n kluisenaar, maar dit pas nie almal
 ~ 

DIÉ week se lekker storie kom uit die pen van NICOLETTE FOULDIEN. Sy noem haar verhaal “Vloek”. Geniet nou hoofstuk 2.

MIETA Booi steun toe sy van die velkaros opstaan. Haar 93-jarige oumenslyf voel stram.

Ongeduldig plak sy die pikswart keteltjie op die oop vuurherd en krap tussen gisteraand se kole op soek na ’n gloeiende een.

Sy buk vooroor en begin vurig blaas voordat sy droë blare oorstrooi. Dit vat vinnig vlam. Sy gooi fyn houtjies op die hoop en sit die ketel daarop. Met die eerste haan se kraai drink sy haar eerste koppie wildeals-en-boegoe-tee.

Die oosterkim verkleur bloedrooi toe sy die kleihut se lendelam deur oopstoot.

Sy kies koers na die kraaltjie, waar haar vyf bokke staan en blêr.

Hulle weet sy kom. Sy gaan maak eers ’n draai by die hoenderhok. ’n Gulsige rooikat het laas week twee van haar henne doodgebyt. Hulle lyk darem orrait.

By die groentetuin steek sy vas. Die kool kom mooi aan en die uie wieg saggies in die oggendwind.

Die beet en wortels se blare dans vrolik saam. Sy gaan hierdie jaar ’n goeie oes hê. Verlede jaar se pampoene lê nog haar hele kookskerm se dak vol.

Sy haak die melkemmer van die draad af, sak op haar knieë langs een van die bokke neer en begin melk. Die son se kop begin net oor die berg se rant uitsteek toe sy terugloop na haar hut.

Sy tel die velkarosse van die vloer af op. Haar lyf ken nie ’n bed nie. Sy het grootgeword op ’n velkaros voor ’n vuurherd en dis waar sy steeds haar lewe lank slaap.

Sy gooi die velle oor die wasgoedlyn langs die hut en kry dan haar goed bymekaar. ’n Goiingsak met die visnet, haar waterbottel en loopstok. Sy stryk flink aan met die voetpad af na die rivier terwyl die bokke weiend agterna drentel.

Daar waar die rivier ’n draai maak, laat sak sy die visnet in die water.

Sy maak seker dis goed geanker voordat sy verder aanstryk na die berg se kant.

Dis byna namiddag toe sy die terugtog aanpak. Die bokke loop stadig. Dikgevreet van al die sappige gras.

Mieta glimlag breed met haar tandelose mond. In die visnet is drie groot visse. Sy maak dit versigtig uit die net los en gooi dit in die goiingsak. Naby die hut gaan sy by die wip langs. Haar glimlag word groter. Ystervark se kind beloer haar met groot oë.

Die vabond dink mos hy kan verniet vreet uit haar groentetuin! Sy wag al lank om hom te vang.

By die huis werk sy vinnig. Sy stook ’n vuur buite in die kookskerm en gou-gou sing die drom vol kookwater. Sy slag die ystervark se vel behendig af nadat sy die penne uitgetrek het. Terwyl die vel kook, sny die lang repe van die vleis af en lê dit neer in ’n bak met sout, asyn en kruie.

Dan vlek sy die vis. Plak dit met growwe sout en hang dit aan ’n haak om te droog. Die grate en visreste gooi sy in ’n drom. Sy sal dit later in die kloof gaan gooi waar die wildehonde aas.

Dan begin sy sorgvuldig skoonmaak. Dit word al skemer toe sy na die hoenderhok stap om eiers te gaan uithaal.

Die aand braai sy die saggekookte ystervarkvel oor die kole. Sy smak haar lippe behaaglik. Dis ’n dis vir die gode dié.

Ná ete steek sy haar pyp op. Sy rook ’n spesiale mengsel van self­gedroogde blare.

Ná ’n ruk staan sy op. Haar oumenslyf begin beweeg. Stadig en ritmies. Dan word die pas vinniger. Haar voete stamp en haar lyf krul. Ligvoets beweeg sy al om die vuur. Die gloed van die vlamme gooi strale op haar gesig.

Die sweet begin haar aftap en sy begin onverstaanbaar prewel. Haar pas word ál vinniger en vinniger; haar geprewel ál harder en harder.

Dan, eensklaps, val sy op haar knieë neer.

Haar kop sak moeg op haar bors, maar haar hart voel lig. Die voor­vaders is goed vir haar.

Mieta is nog half beneweld toe sy op haar velkaros neersak en haar oë sluit. ’n Uil begin onheilspellend skreeu, maar sy hoor dit nie. Sy is reeds in ’n diepe slaap.

DICK Smit sug diep. Hy voel geïrriteerd. Die pad is sleg en stowwerig. Hoe op aarde kan enige mens so wil leef?

Die antie is horingoud en sy bly stoksielalleen in die gopse. Die naaste dorp is 10 km ver.

Wat gebeur as sy iets oorkom? Niemand sal weet nie.

Hy grinnik by die gedagte. Ja, niemand sal weet nie, maar hy gaan wragtig nie sy nek so ver uitsteek vir Peet Venter nie!

Dis genoeg dat hy al jare die man se vuil werk vir hom doen en dan nog soos ’n vloerlap behandel word.

Boonop sal die mense begin wonder as die antie nou skielik iets moet oorkom kort nadat hy oor haar kom navraag doen het.

Almal hou van geld. Hy moet net die antie se kop swaai. Sy kan die res van haar oudag in ongekende weelde leef. Hy ril toe hy dink aan hoe die antie leef.

Die vorige keer dat hy hier was, kon hy nie gou genoeg hier wegkom nie. Sy is heeltemal afgesny van die buitewêreld en tog lyk dit nie of dit haar pla nie. Sover hy kon sien, is sy heeltemal selfonderhoudend. Sy het ’n groentetuin, bokke en hoenders en sy mond het skoon gewater toe hy daai lekker biltonge sien wat van die dak af hang. Ook droë vis. Dit beteken daar is volop vis in die rivier, wat nóg ’n voordeel vir hul beplande projek is. Manne kan hier rustig kom sit en visvang.

Hy is so ingedagte, hy kyk byna die afdraaipaadjie mis. Dit is bykans onbegaanbaar en die Jeep skud soos Dick die gate en slote probeer ontduik. ’n Volle halfuur lank verduur hy die nagmerrierit en vloek in sy binneste.

Dick slaak ’n sug van verligting toe die opstal – as jy dit so kan noem – voor hom opduik. Hy hou stil so na as wat hy aan die hut kan kom.

Die plek is omring deur groot bergagtige rotse en bome. Hulle moes ’n helikopter gebruik om te kom kyk na die ligging, anders sou hulle dit nooit kon opspoor nie.

Hy moet egter erken: Dis ’n weggesteekte paradys. Alles is lowergroen en die berg en rivier maak dit die ideale bestemming vir enige een wat ontvlugting uit die besige stadslewe soek.

Hy klim uit en bespied die wêreld. Dis doodstil. Net die vrolike geluid van voëltjies en die kabbelende rivierstroom bereik sy ore.

Nêrens sien hy ’n teken van die antie nie. Hy stap huiwerig nader.

Langs die hut staan twee donkies rustig en wei. Die bokkraal is leeg. Hoenders skrop op die erf rond.

Toe hy laas hier was, was hier geen teken van honde nie, so hy stap gerus verder. Hy vrees honde.

Langs sy gesig tot in sy nek loop ’n lang litteken. Hy was sewe jaar oud toe sy oom se pit bull byna sy nekslagaar afgebyt het. Hy was gelukkig om te oorleef.

By die hut se deur huiwer hy. Dit voel of hy oortree. Hy kry ook die snaakse gevoel dat iemand hom dophou. Hy draai om en sy oë dwaal oor die werf. Alles lyk rustig.

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters