Verlede maand
Mercia voel sleg oor haar intieme nag met Candice
 ~ 

HALLO, Sonlanders! Ons gaan vandag voort met Tussen Drome en die Werklikheid”, ’n nuwe verhaal van CHRISTO MEYER. Geniet nou hoofstuk 4.

MERCIA se kop voel asof dit wil bars. Dan hoor sy stemme. Haar hart begin vinniger klop.

Is hier besoekers in die huis van wie sy nie weet nie?

Ruk jou reg, Mercia, dink sy. Nou is nie die tyd om te panic nie. Jou lewe is dalk in gevaar. Jy moet net kalm bly.

Sy haal haar vuurwapen uit die kluis in die bedkassie waar sy dit elke aand bêre. Sy klem die skietding in haar regterhand en loop op haar tone in die gang af.

Woede stoot in haar op. Sy haat misdadigers. Sy verafsku mense wat dink hulle kan die wet oortree en daarmee wegkom.

Vir sulkes het sy geen respek nie. Hulle hoort agter tralies. Nie in die samelewing nie.

In haar 15 jaar in die polisie was sy nog nooit genoodsaak om iemand te skiet nie, maar as sy regtig moet, sal sy nie huiwer om die sneller te trek nie.

In die sitkamer ontdek Mercia dat die stemme wat sy gehoor het, nie dié van ongenooide gaste is nie.

Sy kan haarself skop oor haar nalatigheid.

Hoe kon sy slaapkamer toe gaan sonder om die TV af te sit? Waar was haar gedagtes? Haar oog val op die leë wynbottel en die twee leë glase. Sy’t ’n besoeker gehad.

Wie was dit? ’n Lig gaan vir haar op. Candice, haar beste vriendin, was hier.

Sy het Candice oorgenooi omdat sy eensaam gevoel het. Haar man is Bloemfontein toe vir ’n seminaar met oorsese joernaliste. Sy en Candice het ’n bietjie gekuier.

Hulle het grappe gemaak, gelag en gedrink. Sy is nie seker hoe laat Candice huis toe is nie.

Iets anders tref haar. Was sy so aangeklam dat sy en Candice hulle gisteraand soos stoute tieners gedra het? Het hulle weer oor die tou getrap soos lank gelede? Dit kan mos nie wees nie... of kan dit?

Sy het haarself immers by ’n vorige geleentheid belowe dit sal nie weer gebeur nie. Of is dit maar hoe ’n meisiekind optree wat sonder ’n pa grootgeword het?

Die wete dat sy en haar beste vriendin bewustelik intiem verkeer het, knaag verskriklik aan Mercia se binneste.

Dit laat haar soos ’n goedkoop slet voel; soos iemand sonder enige waardes; sonder respek vir die huwelik.

Sy onthou skielik haar ma se woorde van lank gelede: “Die huwelik is heilig en moet te alle tye so benader word. Geen derde party mag ooit tussen julle kom en onmin saai nie.

“Wees waaksaam en bid gereeld sodat jy nie swig voor die wêreld se versoekings nie.”

Mercia kou skoons haar naels van senuweeagtigheid. Sy kan nie glo sy was so onnosel nie. In almal se oë is sy dié gedrewe speurder sonder ’n bang haar op haar kop, maar in werklikheid is sy eintlik ’n swakkeling.

Sy voel so skuldig soos die misdadigers wat sy daagliks aan die pen laat ry. Nee, erger as hulle. Baie van hulle erken hul verkeerde dade as hulle in ’n hoek gedryf word.

Sal sy ooit die moed hê om haar man van Candice te vertel? Nee, want sy is te lafhartig.

Sy kan egter met haar hand op die Bybel sweer dit was nie iets wat sy vooraf beplan het nie.

Daar was geen verkeerde idees in haar kop toe sy vir Candice oorgenooi het vir ’n drankie nie. Geen bybedoelings nie.

Sy wou net hê hulle moes ’n slag weer kuier omdat hulle mekaar so min sien. Die verbode daad het net gebeur en sy kon niks doen om dit te keer nie. Of dalk kon sy, maar sy was nie daartoe in staat nie. Haar ontrouheid gaan vir altyd by haar spook.

Sy, as ’n gelukkig getroude vrou, moes van beter geweet het. Maar soos die spreekwoord sê: It takes two to tango.

Candice het geweet wat hulle doen is verkeerd, maar sy het dit nie probeer keer nie. Dit was asof sy elke sekonde geniet het en nie vir ’n oomblik aan die gevolge gedink het nie. Is Candice dan so harteloos?

Mercia gaan staan voor die spieël en sien die gesig van ’n Delila. Warm trane rol oor haar wange. Sy sal op haar knieë moet gaan en haar Skepper om vergifnis smeek, maar hoe gaan sy dit regkry om haarself te vergewe?

Sy gaan stort en probeer haar walg­like daad met ’n sponsie skoon was. Sy kan nie ophou om daaraan te dink nie, al weet sy dat sy eintlik daarvan moet vergeet.

Dinge moes nooit so handuit geruk het nie. Hoekom het sy toegelaat dat dit so ver gaan? Was daar iets in die wyn wat haar bedwelm het? Sy onthou dan nie hoe sy ontklee is nie.

Mercia besluit om voor werk ’n draai by Candice te gaan maak. Hulle moet oor gisteraand praat, anders gaan haar gewete haar heeldag ry. Wat tussen hulle gebeur het, was ’n fout.

Dit mag nie weer gebeur nie. Nooit weer nie. As dit op die lappe kom, kan dit lelike gevolge hê.

Mercia kry haar gereed, stel die huis se alarm en gaan klim in haar Corolla. Sy ry uit by die elektriese hek, wag totdat dit agter haar toeskuif en sit voet in die hoek.

Natuurlik kan sy vir Candice oor die telefoon sê wat sy op die hart het, maar dit sal nie dieselfde wees nie. Sy wil dit van aangesig tot aangesig doen.

Hulle albei moet weet waar hulle met mekaar staan. Mercia hou in die straat voor Candice se huis stil.

Voordat sy uitklim, bly sy ’n rukkie sit om alles te oordink.

Doen sy die regte ding? Gaan dié nie die einde van hul jare lange vriendskap beteken nie?

Moet sy nie net wegry en maak asof gisteraand nooit gebeur het nie?

Nee, as sy die probleem gaan ignoreer, gaan dit net vererger.

Sy moet nou ’n einde daaraan maak voordat haar man snuf in die neus kry.

Sy klim uit, slaggereed om te gaan doen waarvoor sy gekom het.

Dit baat nie nou om kleinkoppie te trek nie. As dit agter die rug is, is dit agter die rug. Dan kan sy weer ten volle op haar werk fokus. Daar is reeds ’n reeksverkragter wat vasgetrek moet word.

Die voordeur staan op ’n skrefie oop en sy laat haarself in sonder om te klop. Sy wil net Candice se naam roep toe iets haar aandag trek. Meteens steek sy in die voorkamer vas.

Wat sy op een van die rusbanke aanskou, is so ontstellend dat ’n lamheid oor haar toesak. So byna knak haar bene onder haar lyf.

Sy wil wegkyk maar bly geskok staar na die walglike toneel net om doodseker te maak haar oë bedrieg haar nie. Sy wil amper nie glo wat sy voor haar sien nie.

Dit lyk te sleg om waar te wees. Sulke goed gebeur mos net met ander mense. Nie met haar wat Mercia Bruinders is nie.

Dis die laaste ding wat sy van Candice verwag het. Wat het sy dan gedoen om so iets te verdien?

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters