29 dae gelede
Mercia se verhaal kom tot ’n nare,
 ~ 

HALLO, Sonlanders! Ons gaan vandag voort met Tussen Drome en die Werklikheid”, ’n nuwe verhaal van CHRISTO MEYER. Geniet nou die slothoofstuk.

‘WAT gaan hier aan, Candice? Waarmee is julle twee besig?”

Candice kyk op en bars uit van die lag asof niks verkeerd is nie. Sy trek haar klere reg en sit regop.

“Hoe lyk dit vir jou, Mercia? Jy is mos nie blind nie. Jy kan mos sien ek en jou man is besig om ons liefde aan mekaar te bewys...”

“Maar ek... ek verstaan nie. Boontjies is veronderstel om in Bloemfontein te wees.”

Weer is Candice die een wat antwoord. Boontjies sit net daar met ’n mond vol tande asof hy niks vir homself te sê het nie.

“Boontjies se weggaan was alles net ’n rookskerm. Hy is nog die hele tyd by my. Ons geniet elke oomblik in mekaar se geselskap.”

“Wat dan van gisteraand?” wil Mercia weet. Sy kan aanvoel dat sy nader aan die waarheid beweeg.

Boontjies en Candice kyk na mekaar en albei lag hardop, asof Mercia die grootste grap op aarde is.

“Dit was net ons manier om seker te maak jy staan nie die egskeiding teen nie.

“Ons moes iéts hê om jou stil te hou. Toe neem ons klomp naakfoto’s van jou. As jy nie gaan saamspeel nie, versprei ons die foto’s in die sosiale media.”

Alles maak skielik sin. “Egskeiding?” vra Mercia verbaas.

Dít het sy nie sien kom nie.

“Ja, my liewe bestie, ek en Boontjies gaan trou sodra hy van jou geskei is. Ek het onlangs uitgevind ek is swanger. Jy wou mos nie vir hom ’n kind gee nie. Jou werk is mos belangriker as enige iets anders.”

Mercia swaai om en storm na buite. Sy het genoeg gehoor. Met trane in haar oë klim sy agter die stuurwiel in en ry weg. In hierdie toestand sal sy nie kan gaan werk nie. Sy voel te seergemaak. Boontjies is toe nie die wonderlike man wat sy geglo het hy is nie. Hy is nes die res. Almal bedrieërs. Sy moet haar baas laat weet. Hy moet net verstaan. Sy het nog klomp opgehoopte verlof. En dan moet sy begin dink aan die pad vorentoe...

DIS al laat in die dag toe Mercia Bruinders uiteindelik haar bestemming bereik. Sy parkeer haar motor in die oprit voor Glenda Doornhoff se huis en slaak ’n sug van verligting. Sy is dankbaar sy het veilig aangekom ná meer as drie en ’n half uur se ry. Die pad tot hier het aanvanklik lank gevoel, maar die musiek op die radio was goeie geselskap en het die rit effens verkort. Soms was sy lus om kliphard saam te sing. Dit het haar effens laat glimlag en herinner aan die dae toe sy en Glenda so lief was om in karaoke-kroeë uit te hang. Die dae voordat sy getroud was. Goeie dae wat nooit sal terugkeer nie.

Mercia kyk vlugtig in die truspieëltjie om seker te maak niemand het haar agtervolg nie.

Noudat sy ’n kant van Boontjie Bruinders leer ken het wat sy nooit geweet het bestaan nie, besef Mercia sy moet op haar hoede wees. Sy kan enigiets van hom verwag.

Tevrede dat sy niks het om haar oor te bekommer nie, klim Mercia uit en word deur ’n onvriendelike wind welkom geheet. Gelukkig het sy ’n langbroek aan en nie ’n rok wat dalk kon opwaai nie. Sy haal ’n groot tas met klere uit die kattebak en haar voete dra haar tot by die voordeur. Sy buk en kry die sleutel op die plek waar Glenda in haar WhatsApp-boodskap gesê het dit sal wees.

“Ek kom seker eers ná donker by die huis aan, maar ek los die sleutel onder die bruin matjie by die voordeur. Maak jouself tuis. Ons kan vanaand gesels oor die dinge wat jou pla.”

Mercia sluit oop, loop in en sit haar bagasie op die grond neer. Haar tasse kan later slaapkamer toe gaan, besluit sy. Ná haar lang rit wil sy net eers ’n rukkie ontspan. Sy maak haar op die naaste rusbank tuis en gooi haar kop agteroor. Sy skop haar skoene uit, maak haar oë toe en haal diep asem. Sowat tien minute later staan sy op, gaan tap water in die ketel en skakel dit aan. Sy haal ’n koppie uit die rak, gooi suiker en ’n teesakkie in en wag geduldig vir die water om te kook.

Ná alles wat skeefgeloop het, kon sy nie langer in die Kaap bly nie. Te veel slegte herinneringe. Sy moes eenvoudig net wegkom om haar kop skoon te kry. Sy weet dit gaan tyd vat vir haar wonde om te genees, maar sy hoop om hier by haar niggie in Stokvisbaai die rus en vrede te vind waarna sy smag. Sy twyfel of sy weer ’n man sal vertrou. Om jou darem onder jou neus met jou beste vriendin te verneuk... Dis laag en gemeen.

Die lewe maak nie mooi met haar nie. Is dit nie erg genoeg dat sy die kind is van ’n man wat homself op haar ma afgedwing het nie? ’n Man wat haar ma vertrou het. ’n Man wat sy posisie as pastoor van ’n groot gemeente misbruik het om te kry wat hy wou hê. Toe haar ma hom meedeel sy verwag, het hy haar van losbandigheid beskuldig terwyl hý die een was wat haar onskuld van haar gesteel het.

Mercia was op ’n dag by die pastoor se kerk. Sy het reg voor hom gestaan en hom stil aangegluur. Hy moes seker sy eie oë herken het toe hy na haar kyk, want kort daarna het hy sy bors vasgegryp. Hartaanval. As sy wou, kon sy haar selfoon uitgehaal en die ambulans gebel het, maar pleks daarvan het sy omgedraai en weggestap. Daar was ’n kalmte in haar binneste. Die haat wat sy gekoester het, was skielik nie meer daar nie. Nou sit sy self met ’n gebroke hart.

Vir wat is die lewe so donners onregverdig?

BAIE maande later. Met ’n strak gesig en ’n knop in haar keel verlaat sy die hofgebou. Dis omtrent ’n gesukkel om nie in die openbaar in trane uit te bars nie. Die persoon wat gesê het ’n volwassene mag nie huil nie, het sommer deur sy nek gepraat. Hy was duidelik nog nooit in háár posisie nie. Sy het egter haar trots en weier om haarself voor mense te verneder. Sy moes instem tot die egskeiding omdat sy nie foto’s van haar in die sosiale media wou sien nie. Sy sal wag totdat sy alleen is voordat sy uiting aan haar emosies gee. Sy is amptelik geskei, maar die wond gaan lank vat om te genees. Eendag, miskien, sal sy Candice en Boontjies vergewe. Maar die tyd is nog lank nie reg nie.

Sy onthou weer haar ma se woorde van lank terug: “Dit baat nie ’n mens loop vir altyd met haat in jou binneste rond nie. Vergifnis is die enigste ding wat jou waarlik sal vry maak.” Vandag verlang sy erg na haar ma.

Mercia sien hoe twee seuns die straat oorsteek sonder om links of regs te kyk. ’n Bakkie kom met skreeuende bande tot stilstand. Sy wens meteens hierdie was nie die werklikheid nie, maar alles net ’n nare droom.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters