Verlede maand
Mercia maak plak vas en vra haar ma die waarheid
 ~ 

HALLO, Sonlanders! Ons skop vandag af met Tussen Drome en Die Werklikheid”, ’n splinternuwe verhaal van CHRISTO MEYER. Geniet nou hoofstuk 1 van hierdie nuwe verhaal.

TOE die klok lui vir die einde van die laaste periode, kan Mercia nie haar voete gou genoeg by die deur uitkry nie. Vandag wil sy so vinnig moontlik by die huis kom.

Candice Crawford en haar ander maatjies se geselsies kan alles tot môre wag.

Op 13 is sy seker oud genoeg om die waarheid te weet. Waarom haar ma nog nooit die onderwerp aangeraak het nie, gaan haar verstand te bowe. Daar moet seker ’n goeie rede wees en vandag wil sy hoor wat dit is.

By die huis tref sy haar ma in die kombuis aan, besig met kos. Mercia groet en loop na haar kamer om haar skoolklere uit te trek en haar boeksak te bêre.

Sowat vyf minute later gaan sy langs haar ma staan.

“Ma, wie se kind is ek?”

Dit is vir Mercia duidelik dat haar vraag nie iets is wat haar ma, Anna Groenendal, te wagte was nie. Haar ma hou haar doof en vryf die bord in haar hand oor en oor met ’n afdroogdoek.

Die ongemak in haar lyftaal kan nie misgekyk word nie

“Het Mammie my gehoor?”

Die bord val kaplaks uit Anna se hande. Mercia skrik.

“Wat is ek vandag so lomp?” probeer Anna maak asof dit net ’n glipsie is.

“Laat ek gou die besem kry.”

“Los die besem, Mammie. Ek sal self die skerwe opvee.

“Ek wil net hê Mammie moet eerlik wees met my.”

’n Oomblik lank is daar ’n ongemaklike stilte tussen ma en dogter. Albei vermy oogkontak.

“Ek... ai, Mercia, watse vraag is dít? Jy weet mos jy is my kind.”

Mercia is nie tevrede met die antwoord nie en kap dadelik terug: “Ek wil weet wie my pa is, Ma. Elke kind is veronderstel om twee ouers te hê, nie waar nie?

“Lewe my pa nog of wat? Of het hy ook gaan seep koop en nooit weer sy pad terug gevind nie?”

“Waar kom al hierdie vrae ewe skielik vandaan? Is jy dan nie meer gelukkig onder my dak nie?”

“Die kinders terg my by die skool, Ma. Hulle noem my ’n weggooikind. Hulle sê my pa het sy rug op ons gedraai en ons net so gelos.”

“Die kinders weet nie waarvan hulle praat nie,” verhef Anna haar stem.

“Hulle weet niks nie. Hoekom worry hulle anyway oor jou? Jy is mos nie hul verantwoordelikheid nie.”

“Is dit waar wat die kinders sê, Ma? Het my pa my weggesmyt?”

“Dis nou genoeg, Mercia. Genoeg. Ek wil nie daaroor praat nie.”

“Beteken dit daar is iets wat Mammie vir my wegsteek?”

“Het jy nie ore nie, meisiekind? Ek het gesê dis genoeg.”

Dikvellig soos Mercia is, wil sy nie sommer net handdoek ingooi nie.

“Mammie is nou unfair. Ek het seker die reg om te weet wie en waar my daddy is.”

“Probeer tog net verstaan, Mercia.

“Dis... dis beter dat jy nie weet nie.”

Anna storm by die kombuis uit reguit slaapkamer toe. Mercia kan hoor hoe sy die sleutel in die slot draai.

Versigtig stap Mercia tot voor haar ma se kamerdeur en hoor haar huil. Die snikke maak Mercia nuuskierig. En bekommerd.

Wat gaan nou aan? Hoekom huil haar ma? Sy wil graag agter die kap van die byl kom.

Waarom het haar ma die waarheid van haar weerhou? Wat kan so erg wees dat sy nie daaroor wil praat nie? Hoekom is haar ma so geheimsinnig?

Al hierdie vrae gee haar ’n hoofpyn. Sy gaan maak koffie en besluit om liewer haar huiswerk te gaan doen en haar ma ’n break te gee.

Miskien moet sy dinge rustiger vat en nie te veel druk op haar ma plaas nie. Dalk is die gewig op haar skouers veel swaarder as wat dit op die oog af lyk.

Daardie aand kan Mercia nie ’n oog toemaak nie. Tot laat lê en rol sy in die donker op haar bed rond. Haar ma het nog nie weer uit haar kamer gekom nie en dit pla haar.

As daar net ’n manier was hoe sy haar pa kan opspoor. As sy net geweet het waar om te begin soek.

Sy wil graag weet hoe hy lyk.

Sy weet ook sy kan nie so oneerbiedig teenoor haar ma wees nie. Deur haar laerskooljare was haar ma as enkel­ouer nog altyd baie goed vir haar.

Daar was nie altyd geld vir alles wat haar hart begeer het nie, maar haar ma sou uit haar pad gaan om die lewe vir haar so maklik moontlik te probeer maak.

Dis net... sy dink dis tyd dat haar pa ook sy kant bring.

Sy is nou op hoërskool en benodig baie meer goed as op laerskool.

Maar sy wil nie net haar pa se geld hê nie. Sy soek vaderliefde ook.

Vir hoe lank moet haar ma nog in die skoene van albei ouers staan? Die volgende oggend tydens ontbyt word daar nie veel gepraat nie.

Mercia voel skuldig omdat sy so lelik was met haar ma. Het sy die situasie reg benader?

Sy eet langtand aan haar Weet-bix en sien nie juis uit na die dag nie.

Sy haat dit as daar wrywing tussen haar en haar moeder is.

Dit was maar altyd net hulle twee, sy en haar ma. Miskien moet sy verskoning vra.

Maar Anna Groenendal spring haar dogter voor.

“Mercia, ek is jammer jy het nie gister die antwoorde gekry wat jy soek nie.

“Ek weet dis nie lekker om so in die duister gehou te word nie.”

“Ma hoef regtig nie jamme...”

“Gee my kans om klaar te praat, asseblief. Ek het gisteraand oor alles gedink en miskien slaan jy die spyker op die kop.

“Jy het die reg om te weet wat aangaan; die reg op die waarheid. Ek wil jou net eers waarsku.”

“Waarsku teen wat, Ma?”

“Die waarheid wat jy nou uit my mond gaan hoor, is nie ’n mooi waarheid nie.

“Dis ’n aaklige waarheid, om die minste te sê. Onaangenaam.”

Mercia wil eers sê haar ma hoef nie te vertel nie, maar sy brand om te weet.

“Berei jou dus voor op die ergste,” gaan haar ma voort.

“Ek wens ek kan jou dit spaar. Glo my as ek sê ek wou jou al vertel het, maar ek het nooit die moed gehad nie.

“Ek kon dit nooit oor my hart kry nie, want dis nie regtig iets wat vir ’n meisiekind se ore bedoel is nie. Maar om iets vir jare op te krop, bring niemand nader aan afsluiting nie.

“Dis tyd dat jy ook weet wat my geheim is. Ek hoop jy is gereed vir wat ek nou met jou gaan deel, my kind.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters