Verlede maand
Mercia is uit die veld geslaan toe sy wakker word
 ~ 

HALLO, Sonlanders!

Ons gaan vandag voort met “Tussen Drome en die Werklikheid”, ’n splinternuwe verhaal van CHRISTO MEYER. Geniet nou hoofstuk 3.

’N INGEWING tref Mercia opeens soos ’n vuishou in die maag.

Is dit nie haar kind wat so huil nie? Het sy ooit kinders? Sy is nie seker nie. Op ’n manier sal sy moet uitvind. Dan, meteens, verander die gehuil in ’n aaklige gekerm. Dit klink veel nader as wat Mercia gedink het dit kon wees. Haar hart gee ’n ruk. Sy moet die kind opspoor.

Dit klink asof die kind in nood verkeer. Sy sal haarself nooit vergewe as sy nie iets doen om te help nie. ’n Paar minute later kom Mercia op die bondeltjie af, toegedraai in ’n blou kombersie. Sy neem aan dis ’n seuntjie. Sy buk af om aan die kind te raak. Toe hy van haar teenwoordigheid bewus raak, hou hy op met kerm. Mercia tel hom op en hou hom in haar arms.

Kan dit wees dat die kind haar herken? Het hulle twee se paadjies al vantevore gekruis? Sy besef daar is nou belangriker goed om haar oor te bekommer. Wat moet sy met die kind maak? Waarheen kan sy hom neem?

’n Geluid agter haar laat haar haastig omswaai.

Sy kyk teen ’n swart masker vas en sidder. Wie is die man? Wat wil hy van haar hê? Hoekom staan hy net daar sonder om iets te sê? Waar kom hy vandaan?

Sy skrik toe sy die rewolwer in die man se hand sien.

“Oorhandig die kind,” beveel hy in ’n growwe stem. Mercia druk die baba stywer teen haar vas. Sy gaan nie die kind op ’n skinkbord vir hom gee nie. Sy ken hom skaars. Hy sal hom wat verbeel.

“Het jy nie ore nie, vroumens?” vererg die man hom. Hy gryp die kind uit Mercia se arms en maak hom uit die voete. Asof versteen bly sy daar staan. Sy hoop nie die man is van plan om die kind leed aan te doen nie. Mercia gil so hard as wat sy kan. Waar sal haar hulp vandaan kom?

Mercia se gille is so oorverdowend dat dit haar hardhandig uit haar slaap wakker skud.

Dit neem ’n hele ruk voordat sy tot verhaal kom. Sy is uitasem soos ’n drawwer wat aan ’n marathon deelgeneem het.

Natgesweet kyk sy na die plafon en sug van verligting toe sy besef dit was net ’n nare droom en nie die werklikheid nie. Niks om haar kop oor te breek nie. Tog het die nagmerrie so na aan die waarheid gevoel dat sy steeds effens bewe. Die man met die masker was so naby haar, sy kon hoor hoe sy asem jaag.

En die arme kind. Sy’t hom innig jammer gekry.

Mercia wonder of die droom iets beteken. Haar ma het altyd gesê ’n mens moenie drome ligtelik opneem nie. Veral nie een waar daar ’n kind betrokke is nie. Sy droom gereeld, maar steur haar nooit werklik daaraan nie. Baiekeer onthou sy nie eens wat sy gedroom het nie.

Mercia is verbaas om te sien haar kamerlig brand nog. Sy dink ’n oomblik na en frons onseker, want sy kan amper sweer sy het dit wel afgeskakel. Sy skakel altyd die lig af voor slapenstyd. Dis immers iets waaraan sy van kleins af gewoond is. Was sy dan gisteraand so uitgeput dat sy aan die slaap geraak het voordat sy daarby kon uitkom?

Dis seker moontlik, stel sy haarself gerus. Sy oorwerk haar die laaste ruk so dat sy nie mooi weet of sy kom of gaan nie.

Iets anders val haar op. Iets wat haar wange laat gloei van skaamte. Iets waarop sy nie juis trots is nie. Die kamerlig is skielik die minste van haar bekommernisse.

Die besef dat sy kaal is, pluk aan haar hart en stuur ’n ysige rilling deur haar lyf.

Dit laat haar benoud na asem snak. ’n Angswekkende gedagte kom by haar op. Met bang oë kyk sy rond om seker te maak sy is alleen in die kamer. As ’n ongenooide gas haar só moet sien lê...

Sy skaam haar ore van haar kop af en sal verkies dat die aarde haar insluk. Tot haar verligting gewaar sy niemand anders in die vertrek nie, maar sy is steeds onrustig. Mercia krap kop en probeer sin maak van wat hier aan die gang is. Haar breinselle weier om saam te werk. Nes vroeër in haar droom. Weer frons sy. Die naaktheid is ongewoon, want sy klim nooit sonder ’n nagrok in die bed nie, al slaap sy ook langs haar man. Haar ma het haar geleer ’n vrou moet nooit te maklik voorkom nie, of sy getroud is of nie.

Mans vat so vinnig advantage. Hulle laat jou glo jy is die enigste vrou in hul lewe, net vir jou om later uit te vind hulle knyp die kat in die donker. Sy weier dat ’n man met haar gevoelens speel. Nie dat sy Boontjies van so iets sal verdink nie.

Daarvoor is hy te dierbaar en saggeaard. Streng in sy beroep as koerantverslaggewer en fotograaf, maar ’n redelike mens. Eerlik en opreg.

Mercia se gedagtes gaan op loop. Wat het haar besiel om haar soos ’n goedkoop flerrie te gedra? Dis mos nie wie sy is nie. Sy is ’n betaamlike vrou.

Haar ma draai in haar graf om as sy haar so uitlokkend moet sien. Behalwe vir die kleinste van klein deurtrekkertjies het sy niks klere aan haar lyf nie. Dit krap aan haar. Iets is verkeerd. Sy weet net nie wat nie.

Haar kamerlig brand en sy lê bo-op die komberse. Haar bed is netjies opgemaak. Wat het hier gebeur?

Hoekom kan sy nie onthou nie? Was hier dalk ’n inbreker wat haar oor die kop geslaan, haar klere uitgetrek en haar toe onsedelik aangerand het? Sy skud haar kop.

Daar moet ’n goeie verduideliking wees.

Mercia kom tot die gevolgtrekking dat alles nie pluis is nie. Sy is oortuig dat daar iewers groot fout is, al kan sy nie onmiddellik haar vinger daarop lê nie. Sy ken haarself egter goed genoeg om te weet sy gaan moeite doen om agter die kap van die byl te kom.

Sy is nie verniet ’n ondersoekbeampte nie. Sy laat nooit ’n saak onopgelos nie.

Weens werkstres kry Mercia gereeld migraines, maar die kloppende hoofpyn wat nou konfronteer, is ’n perd van ’n ander kleur.

Dit voel eerder asof iemand haar met ’n baksteen of iets oor die kop gemoker het. Dalk iemand wat vies is oor Mercia die waarheid oor hom of haar ontbloot het en nou uit is op wraak?

Die duiseligheid maak haar erg verward. Wanneer het sy aan die slaap geraak en hoe lank was sy in droomland?

Die laaste wat sy kan onthou...

Nee... hoekom onthou sy niks nie?

Vanaf iewers voel sy ’n koelerige wind. Sy draai haar kop en sien die venster is oop. Sy staan vinnig op en maak dit toe.

Dan haal sy ’n kamerjas uit die kas om haar liggaam te bedek, gaan sit op die punt van die bed en asem ritmies in en uit.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters