Verlede maand
Memories wat hy wil vergeet, teister hom in die feestyd
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Dié week plaas ons die verhaal “Trane oor die Feestyd” deur CHRISTO MEYER. Geniet nou hoofstuk 2.

JARE later skrik ek iewers in die nag natgesweet wakker. In my kamer is meteens ’n bedompigheid waarvan ek voor slapenstyd onbewus was.

Waar kom die hitte so skielik vandaan? Ek kry die gevoel dat hier iemand saam met my in die vertrek is. Wie kan dit wees? ’n Misdadiger?

Ek skud my kop. Onmoontlik. My woonstel is op die derde verdieping en selfs ’n gesoute inbreker sal sy storie moet ken om hier in te klouter.

Dalk ’n bonatuurlike wese? ’n Bose gees? Iemand wat sukkel om rus vir sy siel te kry?

My slaaphemp kleef aan my lyf en dit laat my geen keuse as om dit uit te trek nie.

Ek spring op, gaan maak die venster oop en verwelkom die koel briesie teen my gesig.

Dit het ’n kalmerende uitwerking op my gemoed en laat terselfdertyd my angstige hartklop bedaar.

Dis stikdonker buite. Die maan en sterre is nêrens te sien nie. Die buurt is grafstil.

Dit lyk asof die inwoners begin gehoor gee aan die waarskuwings van die president. Geen raserige partytjies of oorverdowende musiek soos ander vakansietye nie. Klink nogal vreemd, byna te goed om waar te wees.

Ek skakel die lig aan en gaan sit op die punt van die bed. Ek haal diep asem.

Hoekom bewe ek so? Hier is niemand anders nie. Dis net ek en my verbeelding. Ek jaag onnodig spoke op.

Ek sit die lig af en kruip weer onder die komberse in. Van gou weer aan die slaap raak, kan ek seker maar vergeet.

Ek steek my arm uit en lig my selfoon van die bedkassie af om te kyk hoe laat dit is. 23:48. Nog nie eens middernag nie.

Ek draai op my rug en staar na die plafon. Is dit trane wat ek oor my wange voel rol?

Trane van verlange? Ek probeer so hard, maar ek twyfel of die mense vir wie ek so lief was ooit uit my gedagtes sal verdwyn. Die moeilikste deel is hierdie tyd van die jaar. Desember.

Vir die eerste keer in ’n lang tyd het ek weer van my ma gedroom. Eintlik was dit meer van ’n nagmerrie as enigiets anders. Dit het so werklik gevoel dat daar rillings teen my ruggraat afbeweeg het.

Ek het Ma se gesig voor my gesien. Daar was iets soos hartseer in haar oë. Dit het gelyk asof sy my iets wou vertel.

Ma is in Desember oorlede. Die maand toe ek 13 geword het. Die maand waarna ek as kind elke jaar so uitgesien het.

As kind was daar nie juis geld vir duur geskenke nie (eintlik was daar nooit), maar ’n nuwe paar sokkies of selfs ’n sakdoek as present het vir my die wêreld beteken.

Dit het my hart altyd vinniger laat klop, my laat glo my ouers is lief vir my.

Ek is my ouers se enigste kind. Ek sou graag ’n boetie of sussie wou gehad het, maar ek dink Ma-hulle kon nie nog ’n kind bekostig nie.

Sy en Pa het my die beste gegee wat hulle kon.

As Pa net nie so diep in die bottel gekyk het nie ...

Ek raak glad nie meer opgewonde oor Desember nie.

Deesdae wens ek ’n jaar het net 11 maande gehad, dat Desember nooit, ooit weer hoef aan te breek nie. Want as daar een iets is wat ek verskriklik haat, is dit die maand Desember. En ja, of ek dit wil aanvaar of nie, ek bevind my weer in daardie maand.

Sedert Ma se dood vier ek nooit werklik meer my verjaardag nie. Bloot omdat sy nie meer daar is om “happy birthday” te sê nie. Haar stem was altyd so sag.

Ek beskou my verjaardag net as nog ’n gewone dag. Ek hang nie meer op my spesiale dag tot in die vroeë oggendure saam met vriende in nagklubs uit nie.

Niemand sal verstaan hoe ek voel nie, al verduidelik ek ook totdat ek blou in die gesig is. Dis die vrou wat aan my die lewe geskenk het; nie ’n kat of ’n hond wat van my weggevat is nie.

En boonop op so ’n wrede manier. Die ergste van alles: in die feestyd.

Soms wil ek net uitgelos word. Ek kan nie oor Ma se dood kom nie. Meer as 16 jaar is verby en tog voel dit soos gister.

Sy het nie verdien om só aan haar einde te kom nie. Sy was ’n goeie vrou.

Dit maak seer om te weet Ma is vir altyd weg.

Tog is daar sekere goed wat nie sin maak nie. Soos oom Marthinus se dood, byvoorbeeld.

Ek sou nooit kon raai oom Marthinus het al jare aan depressie gely nie.

Hy was een van daardie mense wat lief was vir glimlag.

Toe oom Marthinus een Maandagaand nie huis toe kom nie, was antie Rina siek van bekommernis. Sy het daardie aand nie ’n oog toegemaak nie. Ek ook nie.

Die volgende dag het ’n polisiesersant aan ons deur kom klop. Aan sy gesigsuitdrukking kon ek aflei iets is verkeerd.

Ek was 18 en in matriek en pas klaar met my eindeksamen.

Hy’t hom as sers. Moerdyk voorgestel en antie Rina het hom ’n sitplek aangebied, gevra of hy wil koffie hê.

“Dankie,” het hy in ’n heserige stemtoon gesê, “maar ek het klaar koffie gedrink. Ek gaan nie lank bly nie. Ek is bevrees ek het slegte nuus.”

Moerdyk het ons meegedeel dat ’n boemelaar op oom Marthinus se lyk afgekom het. Oom Marthinus het hom buite die dorp aan ’n boom opgehang.

Ek wou Moerdyk nie glo nie. Toe storm ek by die deur uit en hardloop in die rigting soos hy verduidelik het. En daar het ek die skok van my lewe gekry.

Vir weke daarna kon ek nie slaap nie. Ek het kort-kort oom Marthinus se gesig voor my gewaar.

Die lewelose oë wat nikssiende voor hom uitstaar. Die ergste van alles was die vrae wat deur my kop gemaal het.

Hoekom het oom Marthinus daardie uitweg gekies? Kon hy nie sy probleme met antie Rina bespreek nie, soos wat grootmense veronderstel is om te doen? Wat het hom tot so iets gedryf?

Hy het nie eens ’n briefie agtergelaat waarin hy enige verduideliking gee nie. Dit het my geknak. Ek kon dit nie verstaan nie.

Die oom Marthinus wat ek as ’n held beskou het, was skielik weg. Die oom wat baie Saterdae langs die rugbyveld gestaan het om te kom kyk hoe ek in die nr. 9-trui vaar. Die oom wat nooit ’n verkeerde woord gehad het wanneer ons die dag sleg verloor het nie; my eerder aangemoedig het om op die volgende wedstryd te konsentreer.

Die oom wat gesê het: “Michael, belowe my jy gaan eendag iets van jou lewe maak.” En nou was hy skielik nie meer daar nie. Sy stem was vir ewig stil.

Maar niks kon my voorberei op dít wat minder as drie maande ná oom Marthinus se dood gebeur het nie. Om te sê ek was geskok is sagkens gestel. Die blote gedagte daaraan gee my steeds ’n naar kol op my maag.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters