22 dae gelede
Meities probeer ’n paar tricks, maar tevergeefs
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die arme Meities word in haar eie huis gevange gehou. Die ou sê hy gaan vir ’n paar dae daar bly en sy mag intussen geen kontak met enige mens maak nie. Maar dan kom klop Meities se nuuskierige buurvrou, Ria, aan die deur. Hoe verduidelik sy nou die teenwoordigheid van hierdie gewapende intruder? Geniet nou hoofstuk 3 van ESME CUPIDO se Vir ’n Dag of Drie”.

RIA glimlag met goudgeel valstande.

“Aangenaam, jong man.”

Sy steun toe sy met moeite op die bank gaan sit. Sy bekyk die man op en af.

“Haai, Meities, maar het jy dan nie gesê jy’s wees nie? Waar val hy dan nou uit?”

Meities, ongemaklik, staan nog teen die deur.

“Eintlik het hy …” Hy staar ook na haar om te hoor waarmee sy vorendag kom. “Hy het net hier aangekom. En...” Dis ten minste die waarheid.

Ria kyk van Meities na die man.

“Oukei. Nou maar van waar kom jy... en wat’s jou naam nou weer?”

“John,” antwoord hy onwillig. Meities sien sy hand vroetel hier by die gun onder sy hemp. Nou toe nou. John. ’n Doodgewone naam. Ás dit sy regte naam is.

Ria se gesig verhelder.

“My pa was ook ’n John. Daar van die Wilgerberge af. Ai, hoe verlang ek terug na daai dae …”

Meities sien die man kyk haar kwaai aan, wys met sy oë na die deur. Maar Ria praat voordat sy iets kan sê.

“En ek sê nou vir Oujan ek wil gou kom hoor of jy orraait is, maar eintlik het ek weggeglip vir ’n ou koffietjie. Oujan kla nou weer van die môre tot die aand oor sy bene. En dan is dit die arms. En dan die maag. En so gaan dit elke liewe dag. Nee, kyk, g’n mens kan dit hou nie.

“Ek gaan gou koffie maak. Um, John, jy kan solank met die antie gesels.” Die man gluur haar boos aan, maar Meities glimlag soet en stap glimlaggend kombuis toe.

“Nou maar van waar kom jy nou weer?” Meities spits haar ore terwyl sy die koffiegoed regkry.

“Sommer van iewers,” antwoord hy nors.

“En jou ma en pa?”

“Wat van hulle?”

Hy staan vererg op om die TV aan te skakel. Days of our Lives is op. Beter as die antie se vrae.

Ria raak gou verdiep in die storie.

“En daar waarsku Gwen vir Jack. Het jy gesien, Meities? Die swer­kater! Dink mos hy kan ál wat ’n meisie is kry.”

Meities bring die koffie, gee die man s’n in sy hand. Sy sit, dadelik ook geïnteresseerd.

“Ja. Ek’t gesien. Maar Abigail moes nie–”

Die kanaal word oorgesit na Venda News.

“En nou, kind?” Die man staar bot voor hom uit. Ria knik in die man se rigting en haar lippe vorm die woorde: Wat gaan met hóm aan?

Meities skud haar kop en drink haar koffie. Ria sluk dorstig die laaste bietjie warm koffie af.

“Nou ja toe. Oujan wonder seker waar ek is.”

Sy kom swaar regop.

Meities staan ook op. “Ek sal jou hopelik oor ’n dag of drie weer sien, Ria.”

Sy kyk vinnig na die man, wat ook nou opstaan en na die deur begin stap.

“Wat gebeur dan oor ’n dag of drie? O, praat jy van die kooroefening Donderdag? Ek moet maar nog sien of ek dit gaan maak. Oujan is nie so lekker nie.”

Die man maak die deur oop. Hy loer versigtig by die deur uit, asof hy bang is iemand sien hom.

“Wanneer gaan jy weer terug, seunie?”

Ria skuur verby die man na buite. Die kat hardloop voor haar uit.

“Oor ’n dag of drie.”

“Ek sal vir jou van my ingelegde vrugte omstuur wat jy vir jou ma-hulle kan vat.”

Meities stap saam na buite. Dis heerlik, bevrydend. Sy kyk vinnig om, maar sien hy staan in die deur, sy hand op die wapen. Ria loer vinnig straat-op en straat-af. “Luister, so van die kooroefening gepraat, het jy gehoor klein Liesie van Megda is glo met die lyf?”

“Megda Spek wat ons op die klavier begelei? Maar is haar meisiekind dan nie nog op skool nie?”

“Juis. En raai wat? Die pa is Kareltjie Oopbek. Kareltjie, wat meer kinders as verstand het.”

“Genade, Ria. En hy drink ook mos baie.”

“Ja, suip soos ’n vis.”

Agter Meities maak die man keel skoon.

“Ai, wag. Laat ek gaan kos maak, Ria.”

Die kat glip net betyds in voordat hy die deur toeklap.

“Jy’t jou baie mooi gedra”, sê hy tevrede. “Behalwe vir die skinder.”

Sy stap verby hom kombuis toe om die koppies uit te spoel.

Vir aandete bak sy eiers, ontvries worsies en maak roosterbrood. Sy gee sy bord vir hom aan en gaan sit oorkant hom.

“Ek moet môre winkel toe gaan.”

Hy eet vinnig en antwoord eers nadat hy twee worsies afgesluk het.

“Om wat te maak?”

“Hier is nie meer kos in die huis nie. My dogter het vir my … het vir my geld gestuur en ek moet brood en goed koop.”

“Jy dink seker ek is stupid.”

Meities wurg aan haar roosterbrood en vat vinnig ’n sluk koeldrank.

“Wat bedoel jy, Jóhn? As dit ooit jou regte naam is ...”

Hy gluur haar aan. Vat sy bord kombuis toe. Frederik hardloop agterna.

Hy sit eers weer voordat hy iets sê. “Jy beplan om mense bewus te maak dat ek jou gevange hou.”

“Ek belowe ek sal nie. Ons moet tog eet.”

“Die antwoord is nee.”

“Wel, dan moet jy maar aan jou gun begin eet. Ek weet in elk geval nie waarom ek jou kos gee nie.”

Sy staan op, vat haar bord en glas en loop kombuis toe. Nadat sy die kombuis skoongemaak het, gaan sy kamer toe. Daar besef sy dat hy steeds haar selfoon het. Dalk het Sybil haar weer gebel.

Frederik het hom lankal weer op haar bed tuisgemaak.

Hy lig gesteurd sy kop toe sy opstaan om haar selfoon by die man te gaan haal.

Die man het die TV aangeskakel en lê en kyk sokker.

“Kan ek my foon kry, asseblief?”

“Vir wat?” Hy beweeg nie, sy oë stip op die mannetjie met die bal.

“Dis myne. Ek wil dit nóú hê!”

“Nee.”

“Jy besef as my dogter my soek, gaan sy... gaan sy... iets doen.”

Hy antwoord nie. Dan skop een van die mannetjies ’n doel.

“Yes!”

“Hoor jy wat ek sê?”

Hy sug. Grawe in sy broek en gee die foon vir haar aan.

“Nou kom sit jy hier voor my. Jy gaan net kyk of jou dogter jou probeer kontak het.

“Jy try níks met daai foon nie. Verstaan ons mekaar?”

Die ou kwaai stemtoon is terug.

Sy kyk gretig na haar foon.

Maar haar moed sak gou. Haar dogter het vanoggend net ’n boodskap gestuur om haar te herinner dat sy van daai pille moet kry. En sy bel Sondag weer. Net dit.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters