Verlede maand
Meisiepop wil weet wat haar ma wegsteek
 ~ 

HAAI Sonlanders! Ons skop vandag af met ’n splinternuwe verhaal uit ELDRIDGE JASON se pen. Hy noem dié verhaal “Meisiepop”. Geniet die eerste hoofstuk!

‘TOE daal daar groot waters neer.

“Die mense het begin panic van nie weet watter kante toe om te hardloop nie. Binne sekondes was die hele dorp onder water.

“Dit was so erg dat mense sommer mekaar as roeibote gebruik het. Mense, dit was ’n trauma wat die mensdom vir altyd bygebly het ...”

Antie Ragel kug ná ’n sluk van haar tee en sit dit dan hard in die pierinkie terug. Sy loer streng na haar dogter.

“Meisiepop, dis tyd om te gaan. Die son trek al water.”

“Maar, Mamma,” try Meisiepop haar ma van plan verander. “Die son het dan eers ’n paar uur gelede opgetrek. Nou vir wat sal hy dan sommer lus wees vir water trek? Om nie eens te praat van ons dam wat ook al klaar so leeg is nie.”

“Kinders moet gesien, en nie gehoor word nie,” antwoord antie Ragel kortaf. Daar is twee streng lyne wat onverbiddelik langs die kante van haar mond afloop.

Meisiepop weet as daai streng lyne om haar ma se mond verskyn, kan slegs die liewe Heer tot haar deurdring.

Sy wat Meisiepop is, is lankal nie meer ’n kind nie. Maar sê nou dít vir haar ma, dan moet sy weer goeters hoor van “eer jou vader en jou moeder, sodat die lengte van jou dae nie expire nie”.

Hierdie verstaan sy anyway nie so mooi nie, want weens load ­shedding word hul dae anyway nie hierdie winter verleng nie.

Maar sê nou dít vir haar ma. Meisiepop sug, staan traag op en vat haar leë koppie kombuis toe.

Ai, sy het oom Spekko se storie dan so verskriklik geniet. Maar nou ja, haar ma se woord is wetter as die wette van die land.

“Ragel, ons begin dan nou so lekker gesels,” hoor sy oom Spekko vanuit die kombuis aan haar ma sê.

“Nee, watse gesels?” hoor sy haar ma antwoord. “Jy gesels en ons moet luister.

“En verderaan wil jy die een liegstorie ná die ander aan my kind vertel. Moenie dink ek weet nie dat jy nou die verhaal van Noag se Ark, met ’n klomp stertjies aangelas, vertel het nie.”

Oom Spekko gee ’n droë kuggie.

“Jy is ook darem ’n moeilike vroumens om te entertain,” antwoord hy dan verleë.

Haar ma brom iets wat Meisiepop nie kan uitmaak nie. Sy spits haar ore behoorlik om die gesprek te kan volg.

“Wanneer vertel jy Meisiepop die waarheid?” hoor sy oom Spekko vra.

“Sjuut!” sê haar ma en begin dan in ’n fluisterstem praat. Meisiepop leun vorentoe om beter te kan hoor en dis toe dat ’n piering kaplaks op die vloer val en in skerwe spat.

“Meisiepop!” gil haar ma. “Hoekom moet jy dan so afbreek?”

“Dit was ’n ongeluk ma,” antwoord Meisiepop vinnig en gryp die besem en skoppie wat in ’n hoek staan.

Met ’n vaart vee sy die stukke van die piering op.

“Ek is jammer, oom Spekko,” sê sy kliphard en voordat haar ma haar weer daaraan herinner dat daar ’n spesiale plekkie in die hel is vir kinders wat pierings breek.

So in die vee skud sy haar kop. Wanneer gaan haar ma besef sy is lankal nie meer ’n kind nie. Volgende maand is haar 21st en steeds wil haar ma haar nie onder haar vlerk laat uitgaan nie.

Twee jaar gelede wou sy so graag verder gaan leer het, maar toe maak haar ma haar bang met Covid wat volgens haar besig was om tot vir Tafelberg weg te vreet.

Haar ma het skaamteloos vir haar gelieg, want Tafelberg staan nou nog.

Maar steeds word sy nie toegelaat om verder te gaan studeer nie. Dis net werk en kerk toe.

En die werk wat sy by oom Jan Skinner se winkel het, is ook nie juis die opwindendste ding vir ’n jong meisie nie.

Oom Jan ruik elke dag na BB-tabak en verder moet sy wat Meisiepop is, na elkeen van oom Jan se skinderstories luister.

Elke mens wat op die boek by hom vat, word beskinder sodra hulle hul rug draai. Sy het al mooi agtergekom dat oom Jan van almal behalwe homself skinder. Skinder seker ook van haar agter haar rug.

“Meisiepop!”

Meisiepop sug sag. Haar ma kan soms so op haar nerves werk. Oukei, die meeste van die tyd.

En om haar ook nog ná al die jare steeds “Meisiepop” te noem ... Wat is dan fout met haar regte naam, Emmerentia? Sy wil nie verwaand klink nie, maar Emmerentia is mos nie ’n lelike naam nie.

Haastig, voor haar ma haar weer Meisiepop noem, gooi sy die skerwe in die kombuis in die vullisdrommetjie.

“Righto, jammer oor daai, oom Spekko. Dit was ’n ongeluk.”

“As jy nou weer pay, moet jy van jou sakgeld vir oom Spekko ’n ander stel pierings koop,” kap haar ma terug.

“Dis regtig nie nodig nie,” probeer oom Spekko walgooi.

“Nee,” antwoord haar ma beslis. “Wat reg is, is reg en wat verkeerd is ...”

“Dis reg, ek sal,” val Meisiepop haar ma in die rede.

Antie Ragel frons kwaai. “Wat sê ek altyd van inchime as die grootmense praat?”

Meisiepop is lus om haar oë te rol, maar hou haar in. Sy maak aanstaltes deur se kant toe. “Gaan jy nie groet nie?” vra haar ma.

Meisiepop groet haastig en sien dat oom Spekko haar lank dophou.

Sy begin ongemaklik voel en stap voordeur se kant toe.

“Wanneer gaan jy haar sê?” hoor sy oom Spekko weer aan haar ma vra. “Die kind raak al 21 jaar oud. Ragel, wat jy doen, is nie reg nie.”

Meisiepop stap haastig uit, voordat sy weer beskuldig word van grootmense afluister.

Toe sy buite kom, skop sy ’n paar klippies van die stoep af en gaan sit op die trappies.

Daar is iets wat haar ma nie wil hê sy moet weet nie. Maar oom Spekko weet.

Wat kan dit wees? Wat kan so ’n groot geheim wees dat haar ma haar nie eens in haar vertroue kan neem nie. Meisiepop vlieg orent toe sy haar ma se vinnige voetstappe agter haar hoor.

“Meisiepop, ons sal moet wikkel as ons nog winkels toe ook wil gaan. Daar is hoeka ’n nuwe hoed wat ek vir my vir kerk by daai nuwe Chinese winkel wil gaan koop.

“En dan is daar nog huiswerk wat ek wil hê jy moet ...”

  • Meisiepop luister lankal nie meer na haar ma nie. Ál wat deur haar kop maal, is dat sy moet kyk vir ’n way om weer by oom Spekko te kom. Kom wat wil, sy wíl weet wat vir haar weggesteek word...Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters