Verlede maand
Meisiepop voel hartseer én kwaad oor die skoknuus
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Meisiepop is verstom toe sy hoor haar ma, Ragel, is nie haar ma nie. Dié bom word gelos deur oom Spekko wat jare lank die geheim saam met haar ma gedra het. Volgens oom Spekko is ene Anna Moss-Surtie Meisiepop se ma. Sy is deur haar pa ontvoer en in die proses op die klein dorpie agtergelaat. Geniet nou hoofstuk 3 van EL­D­RIDGE JASON se “Meisiepop”.

MEISIEPOP was nog nooit mooi nie.Lelik was sy beslis nie, maar darem ook nie ’n skoonheid wat die koppe laat draai nie.

Nie net is oom Spekko se onthulling ’n skok vir haar nie, maar haar eintlike ma word dan nou as ’n beaut van ’n vrou beskryf.

Dít terwyl sy wat Meisiepop is maar altyd in die spieël moes tuur na haar gelerige gelaatskleur en spekvet wange wat getuig van pure plaas.

Oor hare wil sy nie eens praat nie. Dié was maar vir praktiese doeleindes om haar kop. Vir geen ander rede nie.

Sy moet bieg dat daar tye was dat sy haar ma so onderlangs beloer het op soek na uiterlike ooreenkomste tussen hulle. Maar daar was niks. Nada. Niks maak nie.

En nou, met wat oom Spekko sê, maak dit sin. Maar hoekom het niemand in die dorp nog ooit ’n woord hieroor laat val nie? Dit is dan ook dié vraag wat so swaar op haar mind rus wat sy oom Spekko vra.

Die oom staar eers verlangend na sy leë glas en ewe leë Olof- bottel op die tafel. Diep spyt dat die voggies nou op is. Hy gee eers ’n groot sug voordat hy antwoord.

“Jou ma ... dis nou Ragel, was jare lank die enigste verpleegster by die hospitaal.

“So toe Hulle van Vidag wegry met jou rêrige ma, Anna Moss-Surtie, het sy haar oor jou ontferm.

“Ek was daai dae die skoonmaker by die hospitaal, sien. Dis hoe ek van hierdie dinge weet.

“Dis hoe net ek en sy hiervan geweet het, want sy het my die dood voor die oë gesweer as ek sou uitpraat. Aanvanklik het dit gegis oor nurse Ragel wat bybietjie gekry het sonder dat iemand by haar gebok het.

“Maar die stories het oor die jare ’n stille dood gesterf.

“En jy het mos self gesien: Ragel het ’n gesig wat jou traag maak om haar enigiets te vra.”

Oom Spekko gryp skielik Meisiepop se hand vas.

“Hierdie geheim vreet al jare aan my, maar dit was nie my plek om jou daarvan te sê nie.

“Ragel het oor die jare gesê sy wag vir die regte tyd om jou te vertel. Maar wanneer is die regte tyd?

“Ek raak oud. Wanneer ek eendag my oë sluit, wil ek dit met ’n skoon gewete doen.

“Maar ek moet sê, Ragel mag dalk die gesig van ’n suurlemoen het, maar sy was nog altyd ’n goeie ma vir jou.”

Meisiepop kyk met betraande oë na oom Spekko, wat vinnig in sy sak vir ’n sakdoek grawe.

Dié gebaar word egter beleef deur Meisiepop van die hand gewys. Sy’t immers al oor die jare gesien hoe oom Spekko sy neus met die einste sakdoek kan leeg blaas.

“Ek weet nie wat om te sê nie,” prewel sy. “Ek hoor wat Oom vir my sê, maar daar is vir my gelieg. My hele lewe is ’n leuen.

“Hoe kan ek voortgaan met my lewe as ek nie eens weet wie die mense is wat my hierdie lewe ingebring het nie? En hoekom het hulle nooit na my kom soek nie?

“Hoekom is ek soos ’n hond in hierdie godverlate dorp gedump?”

Dis asof ’n damwal breek toe die trane oor Meisiepop se wange rol. Oom Spekko skuif ongemaklik op sy stoel rond.

Hy kan ’n bottel Olof troos, ja. Maar hoe ontferm hy hom oor ’n jong meisie wat besig is om haar hart uit te huil?

“As my geheue my nie in die steek laat nie, wás jou ma jare gelede weer hier. Dis reg ja, ek onthou,” sê oom Spekko. Dit klink of hy meer met homself praat.

“Dit was nog daai jare voor Cococovid ... Colid ... watsenaam is daai goeters nou weer wat mens so maskers laat dra het?”

Ten spyte van die hartseer wat deur haar bruis, kan Meisiepop nie anders as om te glimlag nie.

“Covid, oom Spekko,” help sy die kense oom reg.

“Ditsem,” antwoord oom Spekko. “Ek wou mos sê ek ken nog daai naam. Cococovid.

“Maar anyhow, ja. Anna Moss-Surtie was weer hier. Net daar gesit waar jy nou sit. Jy was seker só groot,” sê oom Spekkie en beduie met sy hande ’n lengte van ’n paar bakstene hoog.

“Ek dink julle het daai dag atletiek gehardloop. Jy was moeg en al vroeg in die kooi.

“Ragel het hiernatoe gekom en daai lelike swart hoed op gehad wat haar soos Liewe Heksie se twin ... Anyway, jou ma was hier.

“Anna Moss-Surtie wou jou sien, maar jou ma wou niks weet. Iets gesê van Anna Moss-Surtie wat nie jou lewe gaan kom opmors nie.

“Ragel het haar die dood voor oë gesweer. Ek het jou ma nog nooit só kwaad gesien nie.”

Oom Spekko bly stil, skud sy kop en sug dan weer swaar.

“En toe, Oom?” por Meissiepop hom aan. “En toe?”

“En toe gaan die hoender se poephol oop en toe,” antwoord oom Spekko en lag kliphard vir sy eie grap. Hy gee ’n verleë kuggie toe Meisiepop nie saamlag nie.

“Nee, toe gaan sy maar terug Mitchells Vlei toe.”

“Mitchells Vlei?” vra Meisiepop uit die veld geslaan.

“Wat vir ’n plek is daai?”

“Mitchells Vlei, kind, Mitchells Vlei. Daai plek in die Kaap,” sê oom Spekko verergd.

“Daai plek waar hulle so die mense elke dag doodskiet.”

Dit vat ’n ruk voordat ’n lig vir Meisiepop opgaan.

“Aaah ... oom bedoel Mitchells Plain?”

“Dis mos wat ek gesê het,” sê die liggeraakte oom Spekko.

“Anna Moss-Surtie het gesê sy bly in ’n plek waar as jy by mense stop om directions te vra, dan sug hulle eers en soek ’n randjie. Tafelsig ... dis die plek se naam.”

Meisiepop byt op haar onderlip. Sy weet nie of sy oom Spekko en sy verouderde GPS kan glo nie. Sy wip van die skrik toe oom Spekko skielik langs haar opvlieg.

“Sy het destyds ’n brief vir jou gelos,” sê die oom opgewonde.

“As ek maar net kan onthou waar ek daai brief gesit het.”

Sonder ’n woord stap hy sy huisie binne en laat Meisiepop nog méér confused op die stoep agter. ’n Brief? Vir haar. Van haar biologiese ma?

Gaan dit al haar vrae beantwoord?

Maar eintlik meer belangrik – hoe konfronteer sy nou haar ma wat nie haar ma is nie?

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters