25 dae gelede
Meisiepop maak haar mind op oor haar toekoms
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders!

Eish, hierdie uncle se nerves is sommer gaar vir Meisiepop se part. Sy kom mos agter van haar bio­logiese ouers se vuil gedagte om haar geld te vat en haar dan aan ’n mensehandelsindikaat te verkoop. Meisiepop slaag daarin om in die koue nag na Chinees se huis te vlug waar dié instem om haar te help. Geniet nou die slothoofstuk van EL­D­RIDGE JASON se “Meisiepop”.

MEISIEPOP kan nie wag dat Chinees haar entjie­ moet klaar rook nie. Haar nerves is gedaan!

Sy is bang die twee jongens kan terugkom en haar hier buite sien staan. Dan sal haar sleg ma en pa natuurlik ingelig word en dan is haar plan om weg te kom daarmee heen.

Haar mind is opgemaak – sy gaan terug huis toe. Sy wil nie ’n oomblik langer in die Kaap bly nie. Die Kaap en sy lekkers wat sy nog nie eens gesien of proe het, is nie vir haar nie.

Chinees vat ’n laaste trek en trap die korkie onder haar voet dood. Meisiepop gril toe Chinees die rook in haar gesig blaas.

“Ek het geld. Ek sal jou betaal,” sê Meisiepop. Daar is meteens nuwe lewe in Chinees.

Meisiepop skud haar kop.

As Kapenaars hoor van geld, dan is dit asof daar ’n blaasvlam onder hul stêre aangeskakel word.

“Kô os gat in,” sê Chinees skielik haastig. “Is kout hie’ byte.”

Binne gekom, staan die twee in die donker vertrek.

“As os nourie ligte aanswitch, gan hulle gedagtes kry en wiet djy’s hie’,” verduidelik Chinees. “En besides, die krag is wee op. Ek char mos ma hie’ en daa’.”

Toe Meisiepop niks sê nie, gaan Chinees voort: “Ek kenne têksiedriver. Tommy Lawweboy. My kin se pa. Sleg ding vi betaal, but as hy hoo’ djy’t gel’ en soek transport, sil hy gou hie’ wies. Ek kan hom ’n call gie, but ek’tie airtime nie. It ga’ ma swaa’ hie, you know.”

Meisiepop het die helfte van wat Chinees gesê het, nie verstaan nie. Maar wat sy wel alte goed verstaan het, is dat daar baie niks van niks in Chinees se huishouding is.

Sy vroetel in haar handsak en bring haar selfoon te voorskyn.

“Djy’s nogal uitgesort met ’n kwaai phone,” sê Chinees beïndruk. “Myne ka’ mos net hello en koebaai sê. Dis nou assie network hiesa wêk. But luckily is daa’ dié tyd vannie nag nie network-pyne nie.”

Meisiepop is dankbaar toe sy dit hoor, want sy wou niks daaroor sê nie, maar was bekommerd oor of hulle ’n oproep sal kan maak.

Chinees maak die oproep. Die phone lui ’n ruk lank en Meisiepop se plak wil-wil sak.

“Hello, vi’ wat vat djy soe lank ommie phone te anwood, huh?

“Uh, uh, is van mos wee’ mette anne meid lê. Nie watse van kennie dié nomme’ nie. Djy laaiks van lieg, djy, Tommy, but ek sê vi’ djou, die wiel gat draai.

“Anyway, moenie my airtime kom staa’ mossie. Hies ’n tjommie van my, sy het gel’, sy soeke lift trug na ha’ hys toe.

“Ry djy nog daai route?”

Vir die eerste keer bly Chinees stil en luister vir ’n slag. Dan sê sy ná ’n ruk: “Nou maak soe. En moenie wee’ lieg soes wat djy maak as djy sê djy gat kimbie-gel’ hie kô droppie. Roer djou gat cos why is ’n emergency.”

Dan beëindig sy die oproep en oorhandig traag die foon aan Meisiepop.

“Is nogal nice omme phone te het wat djy lank mie ka’ praat,” sê sy.

Meisiepop grawe in haar handsak en druk dan ’n handvol note in Chinees se hand.

“Girl, nié! Is te veel,” protesteer Chinees flou, maar druk die note haastig in haar broeksak.

“Tommy is op pad. K*k sleg om maintenance te betaal, but as hy hoo’ van gel’, dan is hy oppit. Hy bly net hie’ ommie draai.”

“Dankie, dankie,” prewel Meisiepop. “Jy red my lewe.”

“Nié, girl,” antwoord Chinees. “Os vroue moet mekaa’ bystaan. Ek het anyway nooit daai ma en pa van djou gelikes’ie. Daai twie destroy baie liewens met hul drug-vikoepe.”

Chinees wil nog verder praat, toe trek ’n taxi voor hul deur op.

Tommy kry nie nog kans om eens te groet nie, toe skree Chinees: “Ry!”

Hy trek met ’n vaart weg. Ook net betyds, want toe Meisiepop agter by die taxi uitloer, sien sy twee figure by Anna Moss-Surtie se huis uitgestorm kom. Die lelike gown van haar ma sal sy selfs tot in die donkerste van nagte herken.

Sy draai terug en sê aan Tommy waar sy bly. Tommy fluit deur sy tande.

“Girl, wiet djy hoevil gel’ daai djou ga’ kos?”

“Daaisie djou problem nie,” kap Chinees terug. “Sy’t gel’ en be­sides, as djy betaal word, is daa’ dan somme gel’ virrie kind oek, djy vistaan?”

Tommy sê nie ’n woord nie. Hy fokus eerder maar op die pad voor hom. Daar is ’n stilte in die taxi waarvoor Meisiepop maar alte dankbaar is. Haar hart klop steeds woes, maar sy is bly sy kon wegkom. Nooit weer gaan sy haar ma probeer kontak nie. Haar nuuskierigheid oor haar ouers en die Kaap is geblus.

Dis net besig om lig te raak toe Tommy voor haar ma se huis stilhou. Meisiepop grawe in haar handsak en oorhandig ’n rol note aan Tommy.

Nie hy of Chinees kan hul opgewondenheid wegsteek nie. Dis veral Chinees wat nie haar oë van die geld afhaal nie.

Nadat Meisiepop hulle die sóveelste keer bedank het, klim sy uit en toe die taxi wegtrek, hoor sy Tommy en Chinees kliphard aan die skel. Chinees se stem natuurlik die hardste. Meisiepop skud haar klop en stap huiswaarts.

Die deur vlieg skielik oop. Ragel le Fleur staan in die deur met die lelike gown wat Meisiepop besef sy baie gemis het.

Sy los haar tas net daar en storm in haar ma se arms in.

“En nou?” vra antie Ragel oorbluf. “Ek het amper gedink ek droom. Meisiepop, my kind, is alles orrait?”

“Ja, Mammie,” snik Meisiepop. “Alles is nou orrait noudat ek by die huis is. My ore gaan seker nou ’n paar dae lank sing oor die Afrikaans én Engels wat ek in die Kaap gehoor het, maar ek is dankbaar om weer tuis te wees.”

Haar ma plak ’n soen op haar voorkop en staan eers terug om ’n goeie kyk te kry. Dan trek sy Meisiepop weer teen haar bors.

“Gaan haal jou tas, ek gaan solank vir ons koffie maak.

“Dan sit ons en dan vertel jy my alles. Die twee is skaars binne, toe begin dit hard reën.

“So, jy’t nie eens Kaapse lekkers saamgebring nie?” vra antie Ragel terwyl sy die ketel aanskakel.

Meisiepop skud haar kop. “Mammie, die Kaap en sy lekkers is nie vir almal nie. You know mos.”

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters