28 dae gelede
Meisiepop kom ná ’n nare rit by die Blou Huis aan
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders!

So breek die dag toe aan en Meisiepop vertrek Kaap toe om haar ma te gaan soek. By die taxi rank in die stad ontmoet sy genadiglik ’n meisie wat juis op pad Tafelsig toe is en wat aanbied om haar van hulp te wees. Maar kan hierdie meisiekind met die vreemde naam Chinees vertrou word? Geniet nou hoofstuk 7 van EL­D­RIDGE JASON se “Meisiepop”.

VIR Meisiepop was dit toe ’n geval van “a” vir away toe die taxi Plain toe vertrek.

Nooit in haar lewe het Meisiepop ooit kon imagine dat sy ’n taxi sou deel met ’n meisie wat nie ’n Chinees is nie, maar dié naam as ’n kruis dra.

En kan hierdie Chinees vir jou tjommel! Vandat hulle uit die stad weggetrek en koers gekry het na die N2-snelweg, het Chinees ál die pad gepraat.

Chinees ken van áls – waar om die cheapste namelekker-brands te kry, wie verkoop die goedkoopste vis, you name it. Maar vir Meisiepop was seker die grootste verassing die feit dat Chinees haar ma ken. Tot haar vreugde en verligting het Chinees vroeër gesê: “Antie Anna Moss-Surtie? Nie, ek ken daai vrou. Sy bly dan net oorkant my innie Lost City.”

Meisiepop kon nie anders as om te wonder of mens verlore raak in Lost City nie. Maar sy het nie ’n ander keuse gehad as om Chinees te vertrou nie.

Sowat 20 minute later ry hulle Mitchells Plain binne. Meisiepop is verlig, want nog nooit in haar lewe het sy so baie gebid nie.

Die taxi-drywer het gery asof daar nie enige ander voertuie op die paaie was nie.

Om nie eens van die klipharde musiek te praat nie! Haar oë tuit nou nog.

“Ja, nuh,” laat Chinees hier langs haar van haar hoor. “Ons is ampe’ innie poor man’s Tableview.”

“Hoe nou?” vra Meisiepop confused. Chinees lag so lekker dat haar oë op nou skrefies trek.

“Tafelsig, girl. Of Tafelsug, soes annere sil sê. The place to be as djy Tafilbêg vanne distance af wil sien.”

Voordat Meisiepop kan antwoord, leun Chinees vorentoe. “Somme net da’ oppie corner, dankie, guardjie.”

Voordat Meisiepop nog tot verhaal kan kom, swaai die taxi driver na die kant van die pad toe.

Die minibus het skaars reg gestop, toe maak die guardjie die deur oop en skreeu na buite, kliphard op soek na nog customers.

Meisiepop kan nie gou genoeg uit die taxi kom nie. Toe die taxi met sy doef-doef-musiek wegtrek, draai sy haar vraend na Chinees.

“Nou stap ons, girl. But dissie vê nie. Net hiesa ommie draai en laat ek djou soema nou sê, djy groet vi niemantie.”

“Hoekom nie?” vra Meisiepop verbaas. Sy mean maar, groet is mos ’n teken van goeie maniere. Waar sy vandaan kom, het jy pak gekry as jy nie gegroet het nie.

“Cos why as djy eye contact maak, gie dit vi’ iemand ’n riede om te biedel,” verduidelik Chinees en begin vinnig stap.

“Ons sal moet move. Die jongens skiet diesdae somme oep en bloet en in heldere daglig.

“F*kk*l mee riespek nie. Kom, lig dai biene van djou.”

Megan, Marcia, Martine, Mavis... Meisiepop tel die strate af soos wat hulle stap. Chinees stap so vinnig soos iemand wat probeer om van haar skaduwee ontslae te raak en Meisiepop moet omtrént haar bene strek om by te hou.

In Ericaweg draai hulle regs en dan weer links in Sheilastraat.

Meisiepop merk verlig op dat Chinees nou stadiger begin stap.

Oorkant ’n veldjie gaan staan Chinees stil en wys na ’n huis wat nie ver van hulle af is nie.

“Sien djy daai huis mennie blou dak?”

Meisiepop knik. Die dak lyk vir haar meer geel as blou, maar sy gaan liewer niks sê nie.

“Dis die Blou Huis daai,” gaan Chinees voort. “Anna Moss-Surtie bly daaso. But ek loepie danie, cos why hulle gooi uit daaso.

“Hie rule Hulle mos. Djy ken mos vi’ Hulle, nuh?”

Meisiepop knik. “My pa.”

Chinees draai verstom na haar. “Girl ... djy mean? Jaarie, wie sou nou kô sê, nuh?

“Onthou net, ek’t djou goed getreat, nuh. Moenie vigiet om daai vi’ hulle te sê nie.”

Meisiepop wil nog vir Chinees vra wie is by die Blou Huis wat nie eens blou is nie, uitgegooi. Maar Chinees is ewe skielik baie haastig.

Sy sê ’n laaste toerels en kies dan koers na ’n huis wat – nes sy vroeër gesê het – skuins oorkant die nie-Blou Huis is.

Meisiepop klem haar sak en handsak stywer vas en stap in die rigting van die Blou Huis.

Toe sy nader kom, merk sy twee ouens wat voor die ingang staan. Hulle lyk verdag soos môre heeldag. Soos wat sy nader stap, is sy nie seker of sy moet groet nie. Chinees het immers gesê groet is ’n invitation vir loaf.

Toe sy by die mans kom, betrag albei haar onbeskaamd van kop tot tone dat sy ongemaklik begin voel.

“Girl, ek sil as djy wil,” sê die een ou met die uit-tande.

Sy tjommie lag soes Donkey van Shrek.

“Is... is Anna Moss-Surtie hier?” vra Meisiepop versigtig.

Die vergatlike uitdrukkings op die twee ouens se gesigte verdwyn.

Daar is eensklaps agterdog in hul oë. Meisiepop wonder benoud wat sy dan nou verkeerd gesê het.

“Wie wil wiet?” vra Uittande skerp met ’n tikkie aggressie.

“E ... ekke,” sê Meisiepop en sluk aan die knop in haar stem.

“Nou wies ekke?” vra Uittande se tjommie. Hy maak geen moeite om die krasheid in sy stem te verberg nie.

Meisiepop vervies haar. Kapenaars kan gerus maar op die platteland kom leer van maniere, dink sy vererg.

“Ekke... hierdie ekke, is die dogter van Anna Moss-Surtie en Hulle van Vidag. Wil julle my ID ook sien?”

’n Mengsel van skok en verbystering is meteens op die twee se gesigte te sien. Hulle gaap mekaar aan, loer na Meisiepop en staar weer oorbluf na mekaar.

“My broe,” sê Uittande aan die ander een. “Ek sien nogalsie koeneksin. Dié girl het net soe ’n groot voo’kop soes Hulle.”

Dit is die laaste strooi vir Meisiepop. Sy is net op die punt om die twee goed sleg te sê toe ’n vrouestem van binne die jaart blaf.

“Koukie en Pennie, wat maak djulle daa’so?”

Koukie en Pennie wip op aandag. “Hie’s ’n girl wat sê sy’s djou kind, miss Moss-Surtie,” antwoord Koukie soos ene wat so pas in die skool gesit is.

Meisiepop wonder hoekom die twee ewe skielik so onderdanig voorkom ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters