29 dae gelede
Meisiepop is ewe grootoog in die groot stad
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ja, nè. There can be miracles, soos Whitney Houston gesing het. Djy moet net gloe. Meisiepop is heel verras toe haar ma instem dat sy haar biologiese ma, Anna Moss-Surtie, in die Kaap kan gaan opsoek. Maar nie net het antie Ragel le Fleur ’n change of heart nie, sy gee ook aan Meisiepop ’n handsak vol geld wat sy oor die jare vir haar dogter gespaar het. Nou kan Meisiepop haar eerste trippie na die grote, bose stad aanpak. Geniet nou hoofstuk 6 van EL­D­RIDGE JASON se “Meisiepop”.

MEISIEPOP tuur by die taxi se venster uit.

Tafelberg raak ál hoe groter, kom sy agter.

Twee dae ná haar en haar ma se gesprek het sy in die pad geval. Sterk op pad Mitchells Plain toe.

Sy is ietwat geworry, want sy het die selnommer wat haar ma verskaf het oor en oor gebel. Die ding het net aanhou oorslaan voicemail toe. Yor, steel die mense van die Plain dan só heavy kabels dat daar nooit selfoonsein is nie?

Haar ma wou nie hê sy moet kom voordat sy vooraf met haar biologiese ma gereël het nie.

Haar ma het glad op ’n kol voorgestel dat oom Spekko saam haar kom, maar genadiglik keil oom Spekko se gout hom nou al dae lank op.

Sy wat Meisiepop is, mean maar sy is groot en oud genoeg om haar eie weg te vind. Hoe moeilik kan dit dan nou wees om ’n plek in die Kaap te kry?

Sy kan haar opgewondenheid nie beteuel nie. Daar is ’n kriewelrigheid binne-in haar wat net nie tot rus wil kom nie. Die afgelope twee dae het sy maar min slaap gekry. Tans is dit net die taxi-driver se doef-daf-musiek wat haar irriteer.

Wie se kind is dié ...

Wat vir ’n song is dit? En dan lyk dit die ander mense in die taxi kry nog lekker daaroor.

Wie se kind is dié? Jy gaan nie by die huis slaap nie...

Meisiepop sug toe sy sien hoe ’n gryskop-antie in die seat voor haar glad hop op die maat van die musiek.

Antie, dink sy. As jy op jóú ouderdom nie by die huis wil slaap nie, dan is jy net plein ja–.

Meisiepop bestraf vinnig haarself. Dit was so amper of sy het daai vloekwoord kliphard in haar mind gesê.

So besig is Meisiepop om haar oor die taxi-driver en sy musieksmaak op te werk dat sy met ’n skok besef hulle is al in die middestad. Christiaan Barnardstraat, lees sy met verwondering die naambordjie.

Sy kyk met skaamtelose verwondering om haar rond. Só baie karre het sy nog nooit op ’n pad gesien nie. Waar sy vandaan kom, het sy immers meestal karre op TV gesien.

Sy hoor die taxi-drywer iets aan die persoon langs hom sê van “die dek”. Vir ’n vlietende sekonde wonder sy of die man wat sy so in haar mind oor sy musiek uitgeskel het dan nou vir elkeen van hulle ’n Top Deck gaan gee. Maar oomblikke later is sy bly dat sy nie haar mond oopgemaak het en gevra het oor die tjoklit nie, want toe besef sy hy het na die taxi-deck verwys.

Die taxi-deck is ’n miernes van bedrywighede. Mense loop links, regs en orals verby mekaar. Sonder om te groet – nes haar ma gesê het.

Hier en daar merk sy mense met lang lokke dreads wat kaalvoet loop en goiingsakke aan hul lywe dra. Benoud wonder sy of sy dan die fashion-boeke verkeerd verstaan het.

Daar is egter nie kans vir lank hieroor wonder nie, want die taxi het tot stilstand gekom en die mense rondom haar vlieg soos een man op.

Met bewerige bene klim sy uit en stap om na die waentjie om haar sak te gaan haal. Die bag wat haar ma haar gegee het, klem sy styf in haar hand vas.

Niemand groet nie. Die taxi-drywer kyk haar aan of hy haar nog nooit vantevore gesien het nie, klim in sy taxi en ry weg.

Daar was nog nooit ’n oomblik in Meisiepop se lewe waar sy omring was met soveel mense, maar terselfdertyd so alleen gevoel het nie.

Dan sien sy ’n jongentjie haastig in haar rigting aangestap kom.

“Waantoe gannie girl?” vra hy baie vriendelik. Meisiepop sukkel om hom in die gesig te kyk. Die twee sleeper-oorringe aan sy ore herinner haar darem veels te veel aan die beeste wat altyd naby oom Spekko se huis wei.

“Waggie girl vi iemand?” vra die jong weer en maak sy jacket oop soos iemand wat in die hartjie van die winter diep warm kry.

Meisiepop besef egter gou waaroor dit gaan: Hy wil hê sy moet sy Redbat-vessie sien.

Maar haar ma het haar klaar gewaarsku: Die Kaapse outjies is baie lief vir klere op skuld koop by Markham en Sportscene en wil dan maak asof hulle so kwaai is.

Sy self was nog nooit by so ’n winkel nie, maar neem aan dit is waaroor die ou so graag wil afshow.

Dan lag die ou en Meisiepop skrik groot. ’n Vampire! ’n Vam­pire, dink sy benoud toe sy sy passion gap sien en los ’n gilletjie.

“Haai, nie, girl,” sê die outjie afgehaal en loer vinnig om hom rond. “Issit norag om soe te wil perform. Yor, ek mean­ ma’. I just wanted to lam with you.”

“Is jy gek?” vra Meisiepop eensklaps vies. “Lyk ek vir jou verlam, ha?

“Sien jy ’n rolstoel hier naby my staan, of dink jy hierdie is ’n paar poppe-voete waarop ek staan?”

Voordat die Heer Vampier aan ’n comeback kan dink, kom ’n jong dametjie vinnig in hul rigting gestap.

“Weg, djy, tikkop! Voertsek!” begin sy op die jong outjie skel.

Dan draai sy na Meisiepop.

“Girly, djy moenie nog dié ding entertain nie. Hy’s ’n tikkop wat likes kanse vat, dié ding.

“Moenie ko’ stry nie! Ek ken vi’ djou!” skel sy op die ou.

Die jong skud sy kop, brom iets onhoorbaar en stap dan weg. Die meisie draai na Meisiepop.

“Ek is Chinees. Ma laat ek somme straight vi’ djou sê: Eksie Chinese nie. My naam is Chinees. Soes in Sir-Niece, but djy spellit differently, sien djy?”

Meisiepop se kop sing omtrent van probeer kop of stert uitmaak wat die Chinees-watsegoeters meisie praat. Sy kom dan en daar tot die slotsom dat Kapenaars ’n Afrikaans praat wat nog gebore moet word. ’n Taal wat plek-plek vir haar bekend klink, maar baie vir haar voel soos iets wat gesing word.

“Hoe lykit da’ djysie van hie’ nie?” vra Chinees. “Djy lost?”

Meisiepop gee ’n verleë laggie.

“Ek moet ’n taxi Tafelsig toe vat, maar ek weet nie hoe nie.”

“Girl,” gil Chinees, “dis djou lucky day, cos why ek bly innie Tafelsig. Met my aan djou sy, is djy a vir away.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters