26 dae gelede
Meisiepop hoor iets wat haar van plan laat verander
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Haar ontmoeting met haar ma draai nie so uit soos wat Meisiepop gehoop het nie. Toe sy sê dat sy geld het om haar sieklike ma te help, helder Anna Moss-Surtie se gesig sommer op. So, gaan dit dan net oor geld hier vir ’n vrou wat duidelik ook met dodgy dinge besig is? Geniet nou die voorlaaste hoofstuk van EL­D­RIDGE JASON se “Meisiepop”.

MEISIEPOP maak die aand nie ’n oog toe nie.

Sy en haar ma het vroeg gaan inkruip, want dié het nie lekker gevoel nie.

’n Bed is vir haar in ’n piepklein kamertjie gemaak, maar Meisiepop sukkel om te slaap, want iets bly haar byt.

En verder klink dit soos Guy Fawkes buite soos wat iets elke paar minute klap.

Sy het al gelê en wonder of Mitchells Plain se mense se Guy Fawkes-viering vroeër as ander in die wêreld s’n begin.

Sy wou nog haar ma laat weet dat sy veilig in die Plain aangekom het, maar die sein is so swak dat sy eenvoudig nie ’n oproep kon maak nie.

Dit help ook nie dat sy gereeld voetstappe om die huis hoor nie. Vir Koukie en Pennie het sy nie weer gesien nie, maar sy’t vroegaand opgemerk daar het twee ander ouens voor haar ma se hek stelling ingeneem.

So nou en dan het ’n kar ook kom optrek en dan het die ouens iets uit hul sakke aan die mense in die kar oorhandig.

Meisiepop wou haar ma op ’n slag vra of sy dan popcorn of ’n ding verkoop, maar sy’t toe maar besluit om liewers nie te vra nie.

Nou rol sy hier rond terwyl die harde crackers buite afgaan.

Dis diep koud. Die komberse wat haar so laat jeuk, ken nie van warm word nie.

Sy ken haarself en weet sy gaan nie so aan die slaap kan raak nie. Sy gooi die komberse van haar af en besluit om by haar ma te gaan luister of daar nie ander beddegoed is nie – verkieslik van dit wat haar nie verder sal laat jeuk nie.

Meisiepop trek haar kapalangs aan wat sy vroeër langs die bed neergesit het, maak die kamerdeur oop en loer af in die swak verligte gang. Sy het vroeër gesien haar ma stap na ’n kamer wat sy aanneem haar slaapkamer is.

Suutjies stap sy die gang af en net toe sy aan die kamerdeur wil klop, hoor sy stemme van die binnekant af kom.

“Moenie worry nie,” hoor sy haar ma sê. “Meisiepop wietit noggie, but vi haa gát ek virre pop vat.”

Meisiepop voel hoe haar hart woes begin klop. Sy hoor ’n mansmens lag.

“Djy’s darem develish. Nei, een ding, djy mean djy doennit somme an daai meisiekind va os?”

Haar ma gee ’n lelike lag.

“Hulle, hoe ken djy da vi my? Daai kind hette bag vol gel’. Ek’t met my eie oege gesien. Die tik vikoepie soe lekk nie, djy wiet daai.

“Die lockdown levels maak net k*k. But voo ek die dag stêf, gat ek nog gel’ uit daai kind maak.

“As haa gel’ op is, dan vikoep os haa aane cartel. Niemand gat wiet wat van haa gewortittie.”

Die twee lag sameswerend.

“Sjuut,” hoor sy haar ma sê. “Os moetie lat sy wakke wortie.”

Meisiepop voel hoe die bloed uit haar brein dreineer. Haar biologiese ma is ’n gemene, gewetenlose uitbuiter. As sy dit nie met haar eie ore gehoor het nie, sou sy dit nie geglo het nie!

Hier moet sy wegkom, dink sy paniekerig. Maar waarheen? Sy ken niemand hier nie!

Dan kry sy gedagte van die meisie met wie sy vroeër vanaf Kaapstasie getravel het: Chinees.

Sy het mos gesien by watter huis Chinees ingaan. Dit is haar enigste hoop. Maar hoe kom sy verby die ouens wat voor die huis staan?

Meisiepop sluip saggies terug na die slaapkamer en maak die deur agter haar toe. Sy bespied die vertrek en merk met verligting op dat daar nie diefwering voor die venster is nie.

Honde het sy ook nie vroeër buite opgemerk nie. Haastig trek sy haar slaapklere uit en trek die klere aan wat sy vroeër aangehad het. Sy is versigtig om selfs asem te haal, te bang dat sy ’n geluid sal maak wat haar ma-hulle ondersoek sal laat instel.

Haar ma het vir haar gelieg. Nee, dis nie haar ma nie. Die vrou het haar net in die lewe gebring, niks meer nie. Sy is net so sleg soos Hulle van Vidag!

Watter ouers wil ’n kind wat hulle nog nooit rêrig leer ken het nie, sommer so uitbuit? Sy prop haar pajamas in haar tas en vat haar handsak – die een wat Anna Moss-Surtie met ’n seer hart agteraan is.

Meisiepop maak die venster oop en vries in haar spore toe die venster ’n kraakgeluid maak. Sy spits haar ore en hou haar asem op. Ná ’n ruk is sy tevrede dat niemand kom ondersoek instel nie.

Genadiglik is die venster nie hoog van die grond af nie en sy laat sak haar tas daardeur. Dan, met haar handsak styf in haar hand vasgeklem, klim sy by die venster uit.

Suutjies stap sy om die huis om by die voorhek uit te kom. Sy sien die twee skadu-figure net betyds en duik weer terug.

Dan hoor sy die een sê: “My broe, die mense slaap. Hulle sallie notice as os gou ’n move gat maakie. Kô os line.”

Dit is met ’n dankbare hart en groot verligting dat Meisiepop sien hoe hulle by die hek uitstap en in die donkerte verdwyn.

Hierdie is haar kans, besef sy. Daar gaan nie ’n ander geleentheid wees om hier weg te kom nie.

Die nag, so onbekend soos wat dit aan haar is, is haar vriend. Sy moet voor die dagbreek wegkom en voordat daar besef word sy is nie meer hier nie.

Dis met ’n bonsende hart dat Meisiepop na voor loop en die hekkie oopmaak. Dan, toe sy in die pad kom, begin sy met mening stap in die rigting van die huis waarheen sy Chinees sien stap het.

Toe sy nader kom, vries sy egter in haar spore toe sy ’n sigaretkool sien gloei. Haar moed sak tot in haar bibberende voete.

“Well, I’ll be damned,” hoor sy ’n stem sê wat ietwat bekend klink.

“Meisiepop-girl... issit djy?”

’n Vlaag van verligting spoel oor Meisiepop toe sy besef dit is Chinees wat buite haar huis staan en rook. Sy stap vinnig nader.

“Ek het jou hulp nodig,” fluister sy. “Ek is in groot moeilikheid.”

Haastig vertel sy vir Chinees van die gesprek tussen Anna Moss-Surtie en Hulle van Vidag wat sy vroeër gehoor het.

Chinees los ’n paar vloekwoorde. In Afrikaans.

“Die ... die varke,” sis Chinees.

“Jirre, is van tik dat daai Anna-meid mos soe haasmal en soe sieklik is. But moetie worry nie. Os maak ’n plan ...”

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters