Verlede maand
Meisiepop besef haar ma weet nou wat sy weet
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders!

Meisiepop weet nou die waarheid oor Anna Moss-Surtie en dat dié haar ware en eintlike ma is. Oom Spekko sê ook daar is ’n brief van haar ma wat al lankal aan Meisiepop gerig is. Maar wat staan in hierdie brief? Geniet nou hoofstuk 4 van EL­D­RIDGE JASON se “Meisiepop”.

OOM Spekko draai veels te lank na Meisiepop se sin met die brief.

Sy is bang dat haar ma uit haar dodeslaap gaan ontwaak en gaan wonder waar sy is.

Meisiepop het seker al ’n dosyn skietgebedjies opgesê toe oom Spekko uiteindelik na buite kom. In sy een hand hou hy triomfantlik ’n opgefrommelde brief omhoog.

“Dit was soos ’n soektog na die Koninkryk van onse Heer, maar ek het dit gekry,” sê oom Spekko. Hy lyk soos iemand wat sopas die PowerBall gewen het.

Met bewende hande oorhandig hy die brief aan Meisiepop. Met ewe bewende hande vou sy dit versigtig oop. Die eerste dinge wat haar byval, is die mooi handskrif, en dan die reuk van parfuum wat vaagweg aan die brief kleef.

Meisiepop maak haar oë toe en bring die brief nader aan haar neus. Sy kan die soet aan die parfuum ruik en dit laat haar closer voel aan ’n vrou wat oom Spekko sê haar eintlike ma is.

Anna Moss-Surtie van Lost City, Tafelsig, Mitchells Plain.

Só staan dit bo-aan die brief. Oom Spekko loer oor haar skouer.

“Ek het baie gewonder oor daai Lost City in Mitchells Vlei,” sê die oom. “Ek kan nie anders as om te wonder of die mense wat daar woon, verlore is nie.”

Dan voeg hy vinnig by: “Maar dis net sover ek gelees het.

“Hierdie is mos ’n private brief, net vir jou. Ek kan nie glo dat ek dit nooit vantevore aan jou gegee het nie. Genade, my kop is ook nie aldag met my nie.”

Meisiepop vou die brief weer sorgvuldig toe en glimlag.

“Dis orrait, Oom. Ek verstaan.

“Ek sal nou moet loop, voordat my ... er ... ma ... Hoekom is dit dan só moeilik om na haar as my ma te verwys?”

Oom Spekko gee haar ’n bemoedigende drukkie op die skouer.

“Jou ma bly jou ma, kind. Daai Ragel, so suur soos wat sy kan wees, het altyd net haar beste vir jou gegee.

“Jy was nog altyd die lig in haar lewe. ’n Lig wat nie eens daai verdomde Eskom kan blus nie. Moet dit nooit vergeet nie. Maak nie saak waarnatoe hierdie brief jou gaan lei nie, jy weet wie jou ware ma is.”

Meisiepop knik en staan op. Nadat sy gegroet het, stap sy met lang treë huis toe. Sy het sommer die brief in haar bra weggesteek.

Haar ma kan dit nie nou al sien voordat sy dit eers gelees het nie. Afhangend van wat daarin staan, sal sy weet hoe om die storie met haar ma te benader ...

Wonder bo wonder is haar ma se slaapkamerdeur nog toe toe Meisiepop tuiskom. Sy maak seker dat ál die deure gesluit is voordat sy na háár slaap­kamer verkas.

Soos gewoonlik sal haar aandete in die microwave staan, maar kos is nou die laaste ding op haar mind.

Nadat sy haar klere uitgetrek, tande geborsel en in haar slaapklere verklee het, spring sy in die yskoue bed met die briefie styf in haar hand. Die lig het sy ook afgeskakel en met die lig van die cheap Nokiatjie wat haar ma destyds vir haar as ’n 21st-geskenk gekoop het, begin sy om deur die brief te lees.

Emmerentia ... Ek hoor hulle noem jou Meisiepop. How cute!

Ai, hoe wens ek nie ek kon daai mooi naam van jou self aan jou sê nie.

As jy hierdie brief lees, beteken dit oom Spekko was vir ’n slag nie so kens nie en het onthou om dit vir jou te gee.

Ek assume dan ook hy het jou bietjie van my vertel. Excuse maar my Afrikaans. Hier by my praat ál my neighbours mos maar you-now-mos Engels.

Maar dis nie die punt wat ek wil maak nie. Ek het baie oor die jare uitverloor. Baie birthdays van jou uitgemis.

Ek wou jou al lankal kom opsoek, maar Hulle wou niks weet nie. Hulle ... Hulle is nie meer ’n faktor nie.

Ek kan Hulle nie meer toelaat om in my pad te staan nie, want ek ... ek mis jou. Die dokter sê ek’t nie meer lank oor nie en ek wil graag voor ek gaan, my dogter beter leer ken, you know.

Anyhow, dis amper load shedding hier by ons en ek kan mos nie so lekker in die kêse-lig sien nie.

Hier is my cell-nommer. Bel maar as jy wil kom visit. Maar moenie ná eight o’clock bel nie, cos why die jongens stiel soe die cables en dan is die signals weg.

Hoop om van jou te hoor, my lovey.

Anna Moss-Surtie xxxxxx

’n Klomp x’e wat ’n baie groot size rok kan aandui, dink Meisiepop en giggel verspot vir haar lawwe gedagte. Sy staar lank na haar ma se selfoonnommer en loer dan na die tyd op haar selfoon.

Dis nou te laat om te bel. Die tikkoppe staan seker al langtand en wag voor die scrapyards met die kabels wat hulle gesteel het.

Meisiepop sug en sit haar selfoon op die bedkassie langs haar neer. Hoe gaan sy nou slaap nadat sy daai brief gelees het?

Daar is skielik ’n verlange in haar na ’n vrou wat sy nie eens ken nie. ’n Vrou wat graag net haar naam aan haar wil sê. ’n Vrou wat tans baie siek is.

Hoe lank het oom Spekko nie al daai brief gehad nie? Wie sê haar ma leef nog? Dié gedagte laat haar skielik regop sit.

Sy gooi haar beddegoed van haar af en klim uit die kooi. Nadat sy haastig haar tekkies aangetrek het, is sy die kamer uit en klop aan haar ma se slaapkamerdeur.

“Mammie?”

Geen antwoord nie.

Meisiepop weet dis nie in haar ma om so stil te wees nie.

Sy draai stadig die deur oop. Sy skrik toe sy ’n silhoeët-figuur regop in die bed sien sit. Sy skakel die lig aan.

Haar ma se swirlkous vol gate sit skeef op haar kop. Haar selfoon is in haar hand. Daar is ’n leegheid in haar oë wat Meisiepop kriewelrig maak. “M-mammie?” vra sy bekommerd. “Is Mammie oukei?”

Ragel le Fleur kyk na Meisiepop asof sy die eerste keer bewus word van haar teenwoordigheid.

“Die blerrie Spekko,” prewel sy dan. “Weet hy watter can of worms hy nou losgelaat het?”

“Hoe ... hoe bedoel Mammie?” vra Meisiepop angstig.

Ragel hou haar selfoon omhoog.

“Die oujong se gewete het hom nou gepla. Kan nie eens ’n ordentlike WhatsApp stuur nie, maar het my nou laat weet hy het jou die storie van Anna Moss-Surtie vertel ...”

Meisiepop sluk swaar aan die knop in haar keel. Haar ma se gesigsuitdrukking voorspel niks goeds nie ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters