Verlede maand
Meester Claassen kry eindelik vir ant Hettie alleen
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Elton van der Ross is glad nie hêppie met sy vonnis nie en sweer hoog en laag hy het dit vir sy ma gedoen. Oumeester Connie Claassen, wat nou sy lyf journo hou en die hofsaak gedek het, wil graag ’n onderhoud met Elton se ma voer, maar weet nie hoe om verby die vragte mense te kom wat haar altyd vergesel nie. Geniet nou hoofstuk 2 van CEDRIC AFRIKA se “Met liefde vir Mamma”.

MEESTER Claassen se gesig verhelder meteens op toe Hettie van die laaste van sy wyk se gemeentelede is wat uiteindelik opdaag.

Sy groet en glimlag selfvoldaan toe sy op een van die gemakstoele in meester se sitkamer gaan sit.

Sy probeer sterk wees om nie haar ware emosie te wys nie, dink meester Claassen, en voel meteens skuldig dat hy juis die biduur moes gebruik om haar hier te kry.

Later sal hy seker die geleentheid kry om meer uit te vis oor die gerugte wat op die oomblik in die dorp die rondte doen.

Almal kyk meteens verbaas toe sy opstaan en met haar klokhelder stem die biduur open met die lied “Die Here Is My Herder”.

Meester lewer ’n kort boodskap oor die verlore seun en vang uit die hoek van sy oog hoe Hettie ongeërg ’n lastige traan wegvee.

Hy glimlag tevrede toe die gemeentelede soos gewoonlik geen aanstaltes maak om te loop nie, behalwe Hettie, wat alreeds by die deur staan.

Die volgende oomblik sak die langverwagte donderreën oor die dorp uit. Dit is sy kans om haar alleen te kry, dink hy, en glimlag geheimsinnig toe hy aanbied om haar huis toe te neem.

Die hele ent vanaf meester se huis praat Hettie nie ’n woord oor haar beproewing van die laaste paar maande nie.

Die altyd spraaksame meester Claassen het vanaand ook nie woorde om hierdie gesprek te laat vlot nie.

Hy moet iets sê voordat sy uitklim, anders was ál sy beplanning vergeefs. Maar dan besef hy dat sy steeds roerloos langs hom sit.

“Gaan Suster nou regkom ... Ek bedoel so alleen met al die dinge?”

Sy antwoord nie, staar net met betraande oë deur die voorruit die donkerte in.

Meester plaas sy hand vaderlik op haar skouer toe sy droewig begin snik. Hierdie ding met Spokie se lewenslange vonnis is nou besig om sy tol te eis, en ’n moeder kan ook mos maar net soveel aanslae verdra, dink hy vol deernis.

“U moet van die bagasie begin aflaai, Suster ... Ek bedoel, dis nie goed om alles so op te krop nie. Dit sal u net goed doen om met iemand te praat ... Iemand wat u kan vertrou, natuurlik.”

Hy ken haar al jare, vandat sy nog as jong skoolmeisie saam met haar ouers deel van die gemeenskap kom word het.

As sy hom net in haar vertroue wil neem, kan sy dalk van die ellende en hartseer ontslae raak wat hy nou al vir soveel jare op haar gesig sien.

Die stortreën val nou harder op die motor se dak, maar haar rou snikke is ’n noodkreet wat skreeu: “Help my! Ek kan nie meer nie!”

Skielik is die koerant vir die meester vergete.

Die sensasie wat hy aan sy honger lesers moet gee, is nie meer van belang nie. Vanaand is hy die besorgde wyksdiaken teenoor wie ’n weerlose en geliefde gemeentelid haar hart kan uitstort.

“Die sussie kan vir my maar alles vertel; u geheim is veilig by my,” moedig hy haar vaderlik aan.

“Hy ... het my verkrag, Meester ... twee keer.”

Meester voel hoe sy hartklop versnel. Sy gaan praat ... sy gaan vir haar meester Claassen alles vertel, dink hy met nuwe hoop.

“Soos Meester mos weet, is ek op ’n plaas buite Prins Albert gebore. Ons was arm maar gelukkig, want my ouers was godvresende mense.

“My pa het van sonop tot sononder op die plaas geswoeg, maar toe ek 16 jaar oud word, het sy bene hom begin probleme gee en hy kon nie meer op die plaas werk nie.

“Ná net een maand het die plaas­eienaar my pa-hulle kennis gegee dat hulle die plaashuis moet leegmaak. Hy wou ander mense daar huisves wat kan werk.

“My ouers se voorsate het geslagte lank bloed gesweet op daardie plaas, maar omdat my pa ’n nederige mens was, wou hy hom nie teësit nie.

“Die plaaseienaar het darem moeite gedoen om vir ons hierdie munisipale huisie te kry.

“Om die pot aan die kook te hou moes ek die skool verlaat om te gaan werk soek. Een Sondag ná kerk, het ou dominee Mars my aan oom Danie voorgestel.”

Meester luister aandagtig na haar vertelling. Die notaboekie wat nou reeds so lank deel van sy daaglikse lewe is, lê vergete onder die sitplek.

“Oom Danie het my effe ongemaklik laat voel oor die manier hoe hy na my gekyk het en het toe gretig aangebied dat ek in sy winkel kan kom werk.

“Oom Danie was as wyksdiaken baie besorgd oor die welstand van my ouers en het gereeld vars groente en vrugte by ons huis afgelewer.

“Ná net ’n jaar in die dorp het my pa afgesterf en my oorle ma kort op sy hakke. Oom Danie het my finansieel bygestaan met altwee my ouers se begrafnisse en daarvoor is ek hom ewig dankbaar, maar later het hy begin vatterig raak ... op plekke wat my ongemaklik laat voel het.

“Deur my geloof in die Here het ek sterk gebly en gebid dat hy sal ophou. Ek was toe alleen verantwoordelik vir die huis en vir my sussie, Rita, wat op laerskool was.

“Meester onthou seker van die dag toe die kerkraad vir oom Danie uitgeskop het?” vra sy sonder om op te kyk.

Meester knik nadenkend. Hy onthou daardie dag soos gister. Daar was ’n ondersoek na ongerymdhede in die kerk se geldsake.

Al die vingers het na broer Danie gewys. Hy was natuurlik slinks genoeg om ál die bewyse teen hom voor die ondersoek te laat verdwyn.

“Ja, natuurlik onthou ek, Suster, en ook al die stories wat destyds die rondte gedoen het oor sy veel­wywery op die buiteposte.”

Hettie glimlag wrang. Op hierdie dorpie is niks geheim nie. Selfs sy het gedink haar geheim is veilig by ousie Emma.

Sy vertel verder: “Dit was nog vroegaand toe hy van die vergadering terugkeer. Hy was glad nie homself nie.

“Toe hy begin praat, was ek en ousie Emma en die ander meisies geskok. Meester, oom Danie was dronk, maar hy is reguit na sy kantoor waar hy gebly het tot sluitingstyd.

“Die weer was daardie aand ook soos vanaand. Donker onweerswolke het skielik die dorp toegevou en oomblikke later het stormreën op die dorp uitgesak.

“Ek dink dit was deel van sy plan om daardie aand vir ousie Emma eerste te gaan aflaai. Op pad na ons huis het hy nie ’n woord gepraat nie.

“Ek wou uitklim, maar ... maar toe druk oom Danie ’n rewolwer teen my voorkop,” sê Hettie en raak aan die snik.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters