2 maande gelede
Martha se oë rek toe sy Mandy se nuwe berk sien
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Splinternuwe week, splinternuwe verhaal. Ons skop vandag af met die nuutste pennevrug van een van ons huiskinders, SALMON SMITH. Hy noem hierdie verhaal “Mandy se Berk”. Geniet die eerste hoofstuk!

Martha Olifant trek haar kombuisvenstergordyn op ’n skrefie oop toe sy ’n kar voor haar huis hoor optrek.

Sy loer skelmpies deur haar venster. Haar oë rek groot toe sy die ghrênd kar hier voor in die pad sien. Dit lyk vir haar soos ’n smart tipe BMW – ’n bloedrooie.

Sy wonder wat soek dié larney mense dan nou voor haar deur. Het hulle dan nou vir háár kom kuier? Sy kyk vlugtig in haar armoedige eenslaapkamer-Hop-huisie rond. Die bondel wasgoed wat sy nog wil stryk en opvou, lê nog netso op die een rusbank waar sy dit vroeër neergesit het. Daar teen die een muur loer twee kokkerotte agter ’n almanak uit en skarrel oor die muur – amper asof hulle gewag het vir mense om te kom kuier.

Martha kyk grootoog af na haar pienk gown wat sy nog dié tyd van die dag aan het, die een met die koffiekol op die bors,.

“Jitte Martha, djy ka mossie hoë mense só in djou deurmekaar huisie innooi nie!” hyg sy dit teenoor haarself uit.

Sy loer weer grootoog deur haar venster.

Sy hou haar asem op...

Wag, daar maak iemand nou die passasiersdeur oop. Sy korrel mooi om te sien wie die passasier is. Dit lyk soos ’n vroumens.

’n Frons verskyn op Martha se voorkop. Dit lyk dan asof die passasier oorleun om die bestuurder te soen. Iets aan daardie vrou se kleredrag wil vir haar bekend lyk.

Skielik snak sy na haar asem toe sy haar dogter herken toe dié al giggelend uit die motor hop – nog geklee in haar skooluniform.

“Mandy!” glip dit verbaas oor haar lippe. Wat soek haar meisiekind in so ’n ghrênd kar. Hulle het mos nie sulke ryk familie of vriende nie!

Sy en haar dogter is maar eenvoudige mense wat van AllPay leef.

Sy kyk vlugtig rond om te sien of die neighbours, soos gewoonlik, deur hul vensters loer. Sy sien Henna se voorhuisgordyne beweeg.

Uit die hoek van haar oog sien sy hoe busybody Stienie, wat skuins oorkant haar bly, skielik haar wasgoed van haar wasgoedlyn kom afhaal. Sy sien hoe Siena skelm loer na die BMW se kant toe.

Cathy, Stienie se buurvrou, moet weer op haar beurt ewe skielik kom loer in die posbus of daar pos is. Maar die posman het al vroeg vanmôre ’n draai geslat terwyl sy heeldag op haar blerrie gat in haar huis gelam het.

Sy sien hoe Cathy se een oog na die BMW se kant loer en die ander oog in die posbus. Dit lyk eintlik half komieklik.

“Jitte, maar die mense van Kromdal is darem biesag,” prewel Martha saggies teenoor haarself.

Sy bepaal weer haar aandag by Mandy en die rooi BMW. Sy sien hoe haar meisiekind vir die bestuurder tot siens waai terwyl dié heel windgat met skreeuende bande wegtrek.

Daar is ’n vrolike huppel in Mandy se stap toe sy na die voordeur aankom.

Weer loer Martha vlugtig na die oorkant van die straat. Sy sien hoe Cathy en Stienie betekenisvol na mekaar loer, iets aan mekaar fluister en na Mandy beduie.

Hulle vang ’n pyn vir my dogter, gaan dit deur Martha se gedagtes. Seker weer groen van jaloesie.

“Mirrag, Moeksie!” groet Mandy haar ma vrolik. Martha gaan staan met haar hande in haar sye en kyk haar dogter aan.

“Mirrag, Mandy! En wie is daai ou wat jou nou hier afgelaai het?”

“Dis Clint, Ma!”

“En wie is dié Clint? Hoekom weet ek niks van hom nie? Maar jy soen hom al lattie spoeg spat!”

“Ag, Moeksie kan so anners wees!” kap Mandy giggelend terug. “Ek het hom gister daar in die dorp ontmoet.” “Is hy darem mooi? En waar kom hy vandaan? Ek kan sien hy het baie geld.”

“Wag, Moeksie. Kom laat ons eerder sit,” sê Mandy en haar oë blink sommer weer van voor af.

Sy sit haar skoolsak eenkant neer. Sy gaan sit by die tafel en beduie vir haar ma om oorkant haar te kom sit. “Moeksie, ja, hy is baie sexy, met sy donker gladdekop en navy-blou ogies,” begin Mandy uit te pak en sy voel hoe die vlinders in haar maag nes skop.

“Hy kom van die Kaap en hy het gesê hy is baie ryk. Hy besit glo sy eie besigheid daar in die Kaap. Hy’t gepraat van ’n plek soos Else … vier… of iets van ’n rivier. Maar ek sal hom weer vra, as hy weer kom.

“Waar het jy hom ontmoet, my kind?”

“Ek het hom gistermiddag daar op die stoep van Pang se winkel ontmoet. Hy het daar ’n blikkie Score kom koop.

“Ons het so lekker gesels en hy het gesê hy hou van my. Hy het gesê hy wil my weer sien.

“Toe kom hy en wag my vanmiddag daar by die skoolhek in toe die skool uitkom. Hy sê toe hy sal my by die huis kom aflaai. En hy klim toe uit en maak die kar se deur vir my oop. Nes ’n gentleman.

“Oe-ê-ê, Moeksie moes gesien het hoe staar die ander meisies my aan. Ek kon die jaloesie in hul oë sien.”

“My kind, maar bly hy dan nou hier in Kromdal? Ek meen, die Kaap is mos ver van ons dorp af.”

“Hy kuier seker hier by mense, Moeksie. Hy wil my dan nog môreaand uitneem vir ete.”

“Mandy, nou wat van Bradley?” wil Martha bekommerd weet.

“Jy weet mos daai klong het al lankal ’n ogie op jou. Hy wil dan nog jou matriekafskeid-partner wees op julle matriekafskeid later die jaar.” Mandy kyk haar ma verontwaardig aan. “Ag, Moeksie. Bradley kan nou loop k*k!” “Nee, sies, Mandy! Van wanneer af praat djy so lelik hier voor my?” skel Martha haar dogter.

“Jammer, Moeksie. Ek sallie weerie,” maak Mandy vinnig verskoning. “Bradley kan maar ophou. Ek wil hom nie hê nie. Hy lyk nie lekker met sy pittekop nie!”

Martha bepeins die hele storie.

“Ja, jy’s reg, my kind. Bradley het nou wel ’n ordentlike werk, maar jy sal ook moet dink aan jou nageslag,” sê sy agterna.

“Ek wil ook darem nie pittekop-kleinkinders hê nie. Daai Clint-mannetjie lyk na die regte kêrel vir jou. Dit lyk asof hy mooi na jou sal kyk. En soos ek kan aflei van jou praat, kom ek agter dat hy nogal aantreklik is.”

Die volgende aand trek Clint met ’n massiewe gebrul in sy BMW voor Martha se huis op. Hy gee een lang toet. Die gordyne oorkant die pad beweeg weer vir ’n vale.

Martha loer weer deur haar kombuisvenster. “Mandy! Jou date is hier!” skree sy oor haar skouer na die slaapkamer se kant toe.

Mandy kom by die kamer uitgehuppel. Sy het ’n noupassende rooi nommertjie aan, wat pas by haar bloedrooi pruillippies.

“Sien later, Moeksie!” sê sy so in die verbygaan. Sy is uit by die huis en spring vinnig by die passasiersdeur in. Clint trek weer met tollende bande weg terwyl Martha hulle deur die venster agterna staar.

Daar kom sit skielik so ’n benoude gevoel op Martha se bors...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters