2 maande gelede
Martha kry erge nuus oor Mandy se nuwe berk
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Dis Dinsdag en die week is reeds goed aan die gang. Ons gaan vandag verder met die nuutste pennevrug van een van ons huiskinders, SALMON SMITH, se verhaal “Mandy se Berk”.

Geniet hoofstuk twee!

DAAR kom sit skielik so ’n benoude gevoel op Martha se bors terwyl sy haar dogter en dié se nuwe kêrel deur die venster agterna staar totdat die bloedrooi BMW doer om die draai verdwyn.

Sy wonder of haar dogter nie dalk te oorhaastig is met dié berk van die Kaap nie. Sy ken hom dan nou maar net twee dae, maar dit lyk asof sy al die skoot hoog deur het.

Sy skud vinnig die onheilsgevoel af. Skryf dit toe aan haar verbeelding.

Sy wou net wegbeweeg van die venster toe sy ’n beweging uit die hoek van haar oog gewaar.

Haar kop ruk na haar hekkie.

Sy sien Bradley daar by die hekkie staan. Sy wonder hoe lank hy nou al daar staan.

Dit lyk asof hy ook die BMW agterna gestaar het. Daar is verwarring gemeng met teleurstelling op sy gesig.

Sy sien hoe hy die hekkie oopmaak en na die voordeur aangestap kom.

Martha maak vinnig die deur oop.

“Naand, Antie. Was dit dan nie Mandy wat nou in daardie BMW verby my gery het nie?” groet en vra hy sommer so gelyk.

Martha kyk Bradley lank en met gemengde gevoelens aan. Sy kry hom eintlik jammer. Dis nou al lank dat hy by Mandy vlerksleep. Maar dit lyk eerder asof Mandy hom net vir ’n pop vat en uitvreet.

“Ja, Bradley. Dit was sy,” sug sy. Sy wik en weeg of sy hom nou al moet sê van die nuwe berk.

“Antie?” hyg Bradley dit uit toe hy die twyfel in haar oë sien. Hy kan sien sy het iets op die hart.

Martha haal haar skouers op.

“Oukei, Bradley. Daai ou in daai rooi BMW is Mandy se nuwe berk,” los sy maar bos.

Bradley se oë rek groot.

“Hoe sê Antie nou?!” hyg hy dit heserig uit. Hy kyk weer vlugtig in die pad af, amper asof hy steeds die BMW daar doer ver kan sien.

“Antie, daai ou is nie goed nie! Mandy meng haar nou mettie semels!” gaan hy gal af.

Martha kyk vlugtig in die rondte. Sy is effe ongemaklik oor wat Bradley nou hier voor haar huis kwytraak vir almal om te hoor.

Sy staan vinnig uit die pad.

“Kom in, Bradley. Moetie so hier buite geraas maakie!” beveel sy hom nors.

“Toe Bradley inkom, kyk Martha vlugtig rond om te sien wie nou weer deur hul vensters loer.

Sy maak vinnig die voordeur toe.

Binne-in die huis kyk Bradley antie Martha in ongeloof aan.

“Hoe kan Antie vir Mandy met dáái jong vertrou?”

Martha trek haar ogies op skrefies soos sy Bradley aangluur.

“Luister hier, mannetjie! Waarvan praat jy?!”

Bradley lek oor sy droë lippe.

“Antie, daai jong is ’n merchant daar in die Kaap!”

Hy voel nou moers ongemaklik toe Martha hom in absolute stilte aanstaar.

“Praat jy nou van Clint?” wil sy weet.

Bradley frons.

“Clint? Wie is Clint?”

“Daai nuwe berk van Mandy! Sy naam is Clint!”

“Nee, Antie. Sy naam is nie Clint nie! Sy naam is Ashley Parring!”

Weer staar Martha hom met dooie oë aan.

En weer lek Bradley oor sy lippe. Dis ’n gewoonte wat hy het wanneer hy ongemaklik is. Hy hap na woorde om te verduidelik.

“Antie weet mos ek werk vir ’n courier company en ek moet elke week af Kaap toe om goed te deliver. Ek slaap gewoonlik mos daar by my antie in die Elsiesrivier oor. Nou, my antie-hulle kén daai jong. Hulle sê hy is ’n groot gemors en hy behoort selfs aan daai gang daar. Hy het ’n smokkeljaart in ’n area daar innie Elsies wat hulle noem Chicago. Hy verkoop glo drugs daar.

“Ek’t hom herken toe hy nou verby my ry. Ek kon net nie glo dis Mandy wat daar langs hom sit nie!

Bradley kyk Martha smekend aan.

“Asseblief, Antie. Kry so gou as moontlik vir Mandy weg van hom. Daai jong voorspel moeilikheid!”

Martha se mond gaap oop en toe soos sy na woorde soek.

“J-jong, B-Bradley … e-ek weet nou nie so mooi van wat jy my nou vertel het nie!” stotter sy.

“Asseblief, Antie. Antie moet my glo! Ek’t selfs daai jong se kar gister gesien voor daai drug-huis, daar in die ou skiem.”

Martha staar Bradley net woordeloos aan.

“Nee! Jy’s nou besig om hier vir my blatant te lieg!”

Bradley se mond val oop in ongeloof. “Antie?”

“Ja, ek kan sommer deur jou sien!” gaan Martha voort. “Jy is net jaloers. Ek weet jy smaak vir Mandy en ek weet ook sy stel nie in jou belang nie.

“Antie!”

“Niks se ge-Antie nie! Noudat jy gesien het sy het ’n kwaai berk, nou kom maak jy sulke goed op!”

“Asseblief, Antie! Dit gaan nou nie meer oor my smakery vir Mandy nie. Ek is nou meer geworry oor haar veiligheid!”

Martha maak vinnig haar voordeur oop. Sy gee Bradley daai ysige pangakyk voordat sy in sy gesig skree: “Trap uit my huis uit! Nou! Onmiddellik!”

“Maar Antie …”

“Trap!” Martha se stem weergalm deur haar huis.

Bradley besef dat hier nou geen meer salf aan te smeer is nie. Laat hy maar eerder loop om die vrede te bewaar. Hy loop by die hekkie uit en kyk vir oulaas terug, maar antie Martha het reeds die deur toegemaak.

Die aand toe Mandy terugkeer van haar aandjie uit, sit en wag Martha haar in die voorkamer in. Martha hoor hoe haar dogter weer uitbundig lag daar buite. Toe daardie kenmerkende harde brulgeluid toe “Clint” weer met sy rooi BMW wegtrek.

“Ai, jitte. Het Moeksie nou heeltyd vir my gewag?” vra Mandy toe sy die voordeur oopsluit en haar ma in die voorhuis sien sit.

“Ja, my kind. Ek moet mos wag en sien dat my kind darem veilig tuiskom,” sug Martha.

Mandy kom plak haar langs haar ma neer.

“Moeksie, ek het darem ’n lekker aandjie gehad. Clint weet net hoe om ’n dame te behandel,” begin sy weer borrel. “Ons was by daardie seafood restaurant daar in die dorp en …”

Martha sit net stil na haar dogter en kyk. Haar gedagtes is definitief nie by wat haar dogter nou so uitbundig vertel nie. Net so nou en dan knik sy sodat dit darem nie so bad lyk nie.

Maar Mandy kom sommer gou agter dat iets haar ma pla. Sy bly skielik stil en kyk haar ma vraend aan. “Wat is dit, Moeksie? Toe, uit daarmee!”

Martha kyk vloer toe.

“Nee, dis sommer niks nie, my kind,” prewel sy saggies.

“Nee, Moeksie. Dis nie sommer niks nie! Ek ken vir Moeksie! Ek weet as daar iets is wat vir Moeksie pla! Toe nou. Uit daarmee!”

Martha kyk op en gee eers ’n lang sug. Toe kyk sy haar dogter stip in die gesig.

“Oukei, Mandy. Laat ek dan maar vir jou vertel …”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters