25 dae gelede
Maria en James is in die duister oor wat hul dogter pla
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Hierdie week plaas ons GWENDOLINE KORDOM se verhaal “Stanley Se Kerswens”. Geniet hoofstuk 1.

‘SABRINA was nog altyd ’n voorbeeldige kind vol lewenslus. Die laaste tyd het sy in ’n eenkantmens verander. Wat dink jy is fout?”

Maria Bostaander knip haar oë ’n paar keer voordat sy haar aandag op haar eggenoot fokus.

“Ek het nie die vaagste benul nie, James. Sy is 16. Op daardie ouderdom is kinders gewoonlik onvoorspelbaar, veral meisiekinders. Jy weet nooit met watter bui hulle uit die bed gaan klim nie.”

Maria gaan voort met skottelgoed afdroog, so asof sy daarmee ook die gesprek tot ’n einde wil bring.

“Nee, dis iets anders, my vrou. Dalk moet jy meer aandag gee aan die volk met wie sy rondhang. Dis byna Kersfees en hier op Biesiedam gee die kinders hulle deesdae oor aan al wat ’n onheiligheid is.”

“Móét jy ’n mens op hol jaag oor niks? Dis tienerstuipe en sal oorwaai,” sê Maria. Sy ignoreer die gehamer van haar hart. Haar moederinstink weet iets is fout.

“Bekommer jou liewer oor die pandemie en hoe Kersfees dié jaar sal geskied. Daar buite sterf mense aan Covid-19.”

“Ek is bewus daarvan en dis baie hartseer, maar ek soek nie ’n herhaling van verlede jaar se Kersete nie, my vrou,” karring James verder.

“Jou suster het byna op ons drumpel gekraam ...”

Maria vererg haar. Moet James nou werklik daardie onsmaaklike storie ophaal?

Theresa is g’n engel nie, maar sy bly haar suster. Wat met Theresa gebeur het, gebeur ook met ander vroue. Mans lieg en goedgelowige vroue soos Theresa trap maklik in hul strik. Hoe moes sy raai Dawie Beethoven is ’n getroude man? Hy het haar met sy gladde mond en duur geskenke oorrompel. Toe Theresa van sy bedrog uitvind, was sy drie maande swanger met sy kind.

Theresa sal mos nie vir haar lieg nie, al wil James haar die teendeel laat glo. Hy het selfs geskimp dat Theresa vir hom ogies maak wanneer sy nie naby is nie. Bid jou dit aan! Met sy plooibakkies is sy seker al vrou wat in sy rigting kyk.

Maria sug hardop en sê: “Daar was ’n silwer randjie, of het jy vergeet? Die liewe Vader het Theresa op Kersdag met ’n pragtige dogtertjie geseën. Sowaar ’n Kersfees wat ons nie maklik sal vergeet nie.”

“So, jy dink ook Sabrina is swanger?” vra James.

Die bord kletter teen die vloer. Maria gluur James aan. “Hoe durf jy? Dis ons kind van wie jy daar praat! Magtig, James! Het jy dan so min vertroue in die opvoeding wat ons haar gegee het, of twyfel jy aan jouself? Jy suip mos haar hele lewe lank. Ek sal nie verbaas wees as sy haar ook stilletjies aan drank vergryp nie. Aardjie na die vaartjie,” sê Maria opgeruk.

“Dit was ’n lae hou, my vrou. Jy weet ek probeer baie hard om die drank te los,” sê James seergemaak.

“Ek is jammer. Ek weet jy probeer hard om die drank te los. Al wat ek sê, is dat jy meer vertroue in ons enigste kind moet hê. Ek glo sy neem in ons afwesigheid die regte besluite,” sê Maria.

“Jy is seker reg,” beaam James.

Dan vlieg hy op en gryp die besem uit haar hand. Terwyl hy die bord se skerwe opvee, sink Maria in die naaste stoel neer.

“Ek het Sabrina gekonfronteer, maar sy hou vol niks skort nie. Dalk word sy geboelie en sy is bang om die skuldige uit te wys. Gelukkig is dit nou skoolvakansie en hopelik is sy binnekort haar ou self. Ek hoop en bid met my hele hart so,” sê Maria en kyk in stilte hoe haar man verder opruim.

In die gang luister Sabrina gespanne na haar ouers se gesprek. Toe dit stil word, stap sy met swaar treë na haar kamer. Nadat sy die deur agter haar toegedruk het, val sy op die bed neer. Sy skuld haar ouers ’n verduideliking.

Wat sou dit baat? Haar pa sal dit gebruik as ’n geleentheid om homself in ’n koma te suip.

Daarna sal hy terugkeer en hulle met sy cheap performances heelnag uit die slaap hou. Sy sien al die afkeer op haar ma se gesig.

Die feit dat sy nooit enige probleme veroorsaak het nie, sal nie in daardie oomblik tel nie. Maar wie kan die toekoms voorspel?

Oor sekere dinge het ’n mens nie beheer nie. Hierdie probleem is een van daardie dinge. Sy het ruimte en tyd nodig vir selfondersoek.

Sy sluit gou haar oë toe sy voetstappe hoor. Die deur swaai oop. “Sabrina, slaap jy?”

Wat wil haar ma nou weer hê? Watter deel van “ruimte gee” verstaan sy nie?

Dan kry sy skaam vir haar gedagtes en maak haar oë oop.

’n Bekommerde trek rus op haar ma se gesig. Sabrina glimlag skeef. “Hoekom soek Mammie na my?”

“Ek wil hê jy moet ’n paar goedjies vir tannie Ellis neem. Die stomme vrou kom nie altyd by die winkels uit nie en moet op haar kinders se genade wag. Ons albei weet daardie kinders gee nie ’n duit om oor hul ma nie. Hulle is meer bekommerd oor hul eie lewe. Ek wonder hoe hulle snags slaap? Om jou stomme moeder so aan haar eie genade oor te laat! Ek het ook ’n bak van die aandete ingepak.”

Sabrina kners op haar tande. Tannie Ellis hou haar weer tot ná 7de Laan daar.

“En as jou lip nou op die grond hang? Geniet jy dit nie meer om na tannie Ellis se huis te gaan nie?”

“Dit was lekker toe ek jonger was; nou nie meer nie. Tannie Ellis praat snaakse goed. Haar stories maak my bang.”

“Ag my kind, die stomme vrou se kop raak net deurmekaar. Dis dieselfde stories wat jy ken. Sy onthou net nie meer al die details nie,” sê Maria.

Ja, dit was aangenaam toe sy ’n klein dogtertjie was. Ná elke vertelling het die ou vrou haar met lekkernye bederf. Sy het dan in haar agtererf baljaar en pophuis gespeel totdat die son water trek.

Nou is dit egter ’n marteling. Tannie Ellis verwag hulle moet nog dieselfde dinge doen. Kan sy nie sien sy is nie meer ’n kind nie?

Die huis freak haar ook uit. Die mooi huis waar die sonstrale eens op ’n tyd deur die vertrekke gespeel het, is weg. Dit het ’n koue, donker plek geword. Die vensters bly bottoe. Behalwe Saterdae, wanneer sy en haar ma daar gaan skoonmaak.

Dis asof die ou tannie se siel ook verdonker het. Wanneer Sabrina die hek op ’n Saterdagmiddag agter haar toetrek, staan tannie Ellis soos ’n skim in die sitkamervenster. Die eensame figuur spook dae by haar.

“Ek sê nog altyd Mammie moet die welsyn se hulp inroep. Haar kinders sal in groot moeilikheid beland,” sê Sabrina terwyl sy haar ma na die kombuis volg.

“As tannie Ellis nie so hardkoppig was nie. Ten minste is sy nog sterk op die been. Dalk moet ek voorstel dat sy hier kom woon,” sê Maria.

Sabrina rol haar ligbruin oë en gryp die twee sakke op die tafel. Dan storm sy uit die kombuis. Sy sal nie ’n dag saam met tannie Ellis onder een dak oorleef nie. Die ou vrou sal haar teen die mure uitdryf.

Minute later staan sy voor tannie Ellis se geel geverfde huis en wonder: Het iets in die agtererf beweeg?

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters