Verlede maand
Mandy mis haar Clint en Martha sien iets vreesliks
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Dis Woensdag en die week is reeds by die sogenaamde hump. Ons gaan vandag weer verder met die nuutste pennevrug van een van ons huiskinders, SALMON SMITH, die verhaal “Mandy se Berk”. Geniet nou hoofstuk drie!

MANDY kyk haar ma in afwagting aan.

“Toe nou! Uit daarmee, Moeksie!” sê sy.

Martha gee eers een lang sug.

“Mandy, Bradley was vroeër vanaand hier, pas nadat jy en … um … Clint hier weg is,” sê Martha.

Mandy raak sommer onmiddellik opvlieënd. “Wat is dit met daai jong? Ek wil hom nie hê nie! Wat het hy hier kom soek?!”

Martha lyk moeg toe sy haar dogter aankyk. “Hy het vir jou met Clint gesien en my toe kom waarsku.”

’n Frons verskyn op Mandy se gesig. In geskokte stilte luister Mandy hoe haar ma uitpak oor alles wat Bradley kwytgeraak het.

Toe haar ma klaar is, daal daar ’n doodse stilte tussen hulle neer.

Dan verbreek Mandy die stilte met ’n moerse ontploffing.

“Dis sommer skoon k*k!” Haar oë blits. “Daai Bradley-jong is jas!”

Martha vou haar hand geskok oor haar mond.

“My kind, hoekom gebruik jy dan sulke tale hier voor my? Ek’t jou mossie só groot gemaakie!” hyg sy geskok.

“Ek’s jammer, Moeksie.”

“Jy beter wees, Mandy!”

“Maar ek’s nou net dik van daai Bradley.”

“Hy is net plein jaloers. Dis hoekom hy sulke stories opmaak.”

“Dis wat ek hom ook toegesnou het, my kind. Maar hy het dik gehou daarmee,” sê Martha. “Ek moes hom later hier uitsmyt.”

Mandy kyk dankbaar na haar ma. “Dankie, Moeksie. Dis reg vir hom.

“Clint is so ’n lieflike mens. Hy’t my so lekker bederf. Ek’t gewens die aand hou vir ewig aan.

“Hy het nog hoeka gesê dat hy my nog eendag gaan saam vat Kaap toe.”

Martha se kop ruk vinnig op.

“Is jy nie bietjie haastig nie, my kind? Wil jy dit nie maar eers stadig vat en eers matriek klaarmaak nie?”

“Moeksie moenie worry nie. Ek sal nie loskop wees nie. Ek meen, Clint het noggie sy luck met my getry nie. Daarvoor is hy te veel van ’n gentleman.”

Die volgende dag het Clint stilletjies vertrek Kaap toe. Mandy is baie weemoedig oor hy sommer net so weg is sonder om eens vir haar te kom groet.

So gaan die dae verby, sonder enige teken van Clint.

Mandy is elke dag meer en meer teruggetrokke. Sy is lus vir net mooi niks en verlaat nie meer die huis uit. Dis net skool toe en huis toe.

Martha kyk elke dag haar dogter met ’n hartseer hart aan. Sy weet Mandy treur haar dood oor daardie Clint-mannetjie. Maar daaraan kan sy wat Martha is niks maak nie.

Mandy is deesdae so hardkoppig. Die enigste persoon wat deesdae op haar brein is, is Clint.

Vandag is dit reeds ’n week sedert Clint uit Kromdal weg is.

Dis net ná een die Vrydagmiddag en Mandy lê nog in die bed. Sy het besluit om nie vandag skool toe te gaan nie. Sy is nie lus vir mense om haar terwyl sy so mismoedig is nie.

Bradley wou ook nog vanoggend kom hallo sê, maar sy het sommer die deur in sy gesig toegeklap.

Terwyl sy nog so na die plafon staar, hoor sy daardie kenmerkende gebrul af in die pad.

Sy skiet regop in haar bed. “Clint!” hyg sy dit uit. Haar hart begin tamboer in haar borskas slaan.

Mandy spring uit die bed en vou vinnig haar gown om haar lyf. Toe mol sy vir die voordeur toe daardie bekende getoet deur die buurt weergalm. Van haar ma is daar geen teken nie.

Sy is seker dorp toe, dink Mandy.

Sy pluk die voordeur oop en haar hart maak ’n paar sierlike bokspronge toe sy die bekende rooi BMW hier voor hul huis sien.

Mandy storm in die paadjie af. Sy spring sommer by die passasiersitplek in en gooi haar arms om Clint se nek. Sy bestook hom met soentjies.

“Clint, my liefling, waar was jy dan allie tyd? Hoekom het jy my nie gesê jy gaan weg nie? Hoekom het jy nie kom groet nie?” peper sy hom met die vrae. Trane stroom oor haar wange. Sy is nou niks geworry oor die bure se gordyne wat oortyd werk nie.

“Stadig nou, my skattebol,” paai Clint haar. “Ek was gou vinnig Kaap toe vir besigheid. Daar het iets onverwags voorgeval. Jammer dat ek nie kom koebaai sê het nie.”

Dan kyk hy diep in haar tranerige oë.

“Ai, maar jy’s regtig ’n pragtige meisie!” smeer hy stroopsoet heuning om haar pruilmondjie.

“Kom saam met my, dan gaan staan ons bietjie daar by die rivier. Dit lyk so romanties daar.”

Mandy is in die wolke.

“Wag, laat ek gou iets anders gaan aantrek,” antwoord sy vinnig en hol die huis binne.

Toe sy klaar is, los sy vir haar ma ’n nota op die yskas en die huissleutel onder die voordeur­matjie op die stoep.

Later die middag kom Martha tuis.

“Martha, Mandy is nie tuis nie!” skree Henna van oorkant die straat. “Sy is hier weg met daai ou mettie rooi BMW!”

“Dankie, Henna,” skree Martha terug en verdwyn vinnig die huis in.

“Ai, help vir Henna! Daai vrou is darem biesag!” sê sy vir haarself terwyl sy haar inkopies op die kombuistafel uitpak.

Sy het skaars haar sit gekry, toe is daar ’n klop aan die deur.

Sy lig haarself moeisaam van die rusbank af op en skuifel deur toe.

Toe sy die deur oopmaak, beteuel sy haarself net betyds voordat sy ’n kragwoord uiter.

Voor haar staan Bradley en hy hou sy selfoon in sy regterhand vas.

“Voordat Antie my wegjaag, ek wil net gou vir Antie iets op my selfoon wys!” keer Bradley vinnig toe hy sien Martha maak haarself reg om hom weer uit te skel.

“Asseblief, Antie.”

Martha los vinnig ’n kragwoord, maar beduie tog dat hy kan inkom.

“Hou dit kort, asseblief, want ek het nie nog tyd nie!”

“Antie, ek het vanoggend dié video clip gemaak daar naby daai drug-huis daar innie ou skiem waarvan ek vir Antie vertel het.

Martha bring haar gesig nader toe hy die selfoon se skerm na haar kant toe hou.

Sy trek haar oë op skrefies om beter te kan sien.

“Antie, kyk wie stop daar voor die huis in sy bloedrooi kar,” sê Bradley half kortasem.

Martha sien hoe haar dogter se berk uit sy BMW klim en hoe die guards en drug runners daar by die huis op hom toesak. Dit lyk asof hulle die man verafgod. Hulle buig laag voor hom terwyl hy hulle groet.

Dan loer hy vlugtig in die rondte en maak sy kattebak oop. Hy haal vinnig sy spaarwiel uit. Dit lyk asof hy diep in die kattebak rondkrap. Weer loer hy versigtig rond en oorhandig vinnig sulke bruin pakkies aan die jongens, waarna hulle vinnig die jaart in verdwyn.

Martha se mond val oop van skok en sy ruk haar kop op.

Sy staar grootoog na Bradley …

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters