22 dae gelede
Mandy en Donna se weersiens word behoorlik gevier
 ~ 

HALLO, Sonlanders. Vandag skop ons af met ’n splinternuwe verhaal uit die pen van NICOLETTE FOULDIEN, genaamd “Die Geheim”. Geniet nou die eerste hoofstuk.

DIE trein stop op Tygerberg-stasie.

Mandy neem my hand in hare en ons beur deur die drukkende mensemassa.

My hart klop benoud in my keel toe ons ons voete op die perron neersit. Rondom ons is ’n kraaines van bedrywighede.

Ek bewonder die gemak waarmee Mandy deur die menigte vleg en ek besef hoe bekend sy met dié dinge en plekke moet wees. Met haar aan my sy hoef ek vir niks te vrees nie.

Ek is verlig toe ons uiteindelik weer in die helder sonlig uitgespoeg word.

Mandy koop vir ons vrugte by ’n stalletjie voordat ons in een van vele taxi’s klim wat ’n entjie van die treinstasie geparkeer staan. “Ravensmead” lees die bordjie op die voorruit.

Die taxi word gou vol.

Ons vleg deur verskeie strate om passasiers by hul huise af te laai voordat dit ons beurt is om af te klim.

Van buite lyk die huis nie baie anders as die huise in die vele dorpe wat ons agtergelaat het nie.

Dié een is net blou geverf en iemand probeer moedig ’n blomtuin aan die gang hou. Lyk nie asof daar veel sukses daarmee bereik word nie.

Ons loop op die geplaveide paadjie na die voordeur en Mandy klop aan. ’n Vrou in haar 40’s maak die deur oop en kyk met bloedbelope skrefiesoë na Mandy.

Dit neem ’n rukkie voordat sy haar herken en hulle val laggend in mekaar se arms.

Die vrou se bruin, leeragtige vel verkreukel in duisend plooitjies en haar tandelose mond lag wa­wyd oop. Sy word aan my voorgestel as Donna.

“Asseblief, kind, net Donna. Jy kan vir my antie sê die dag as ek met jou oom trou.”

Sy nooi ons binne.

Die huis se meubels lyk goed, maar vuil. Oral lê dik lae stof en spinnerakke hang van die plafon. Mandy en Donna klets soos net lang verlore vriendinne kan. Ek sit en luister geduldig.

Tot my verbasing haal Donna twee yskoue biere uit die yskas.

Dis nog nie eens twaalfuur nie. Met die bottels leeg gedrink, vis Mandy geld uit haar bors en Donna verdwyn deur ’n gat in die heining agter in haar erf.

Ek loer vinnig deur die huis en kan nie glo dat die plek so vuil kan wees nie.

Die beddens is almal opgemaak en die skottelgoed gewas, maar oral lê goed wanordelik rond en in die badkamer loop die wasgoedmandjie oor.

Gelukkig is hier darem warm water en ek was die asvaal glase voordat Mandy vir ons bier skink.

Later sluit Cinda, ’n vriendin van Donna, haar ook by ons aan. Daar word nóg bier gekoop.

Dit word namiddag en die vroue drink asof hulle niks anders het om te doen nie. Dis byna vyfuur toe Donna opspring en vinnig ’n ete aanmekaar begin flans.

Net ná ses gaan die voordeur oop en twee mans kom binnegestap. Ek kyk of ek kan agterkom watter een Mandy se nuutste lover is, maar die groetery verloop heel besadig.

Donna se twee seuns word aan my voorgestel as Shaun en Charl. Eersgenoemde hou my oë gevange en ek kyk skaam weg.

Die mans verdwyn om te gaan bad en die vroue sit hul drinkery ongestoord voort. Ek het al die middag besluit om minder te drink sodat ek eers my nuwe omgewing kan uitcheck.

Byna ’n halfuur later gaan die deur weer oop en nog twee mans kom binne. Mandy is dadelik in een se arms.

Dié keer word ek bekendgestel aan Donna se twee ouer seuns, Dawid en Russel. Laasgenoemde is Mandy se kêrel.

Terwyl Donna vir die mans aandete bedien, stuur Mandy vir Cinda deur die heining om ’n bottel brandy en nog ses biere te gaan koop. Suinige Mandy ontpop in ’n regte Kersvader.

Ná ete sluit die drie mans hulle by ons aan. Dawid verskoon homself om by sy meisie te gaan kuier.

Die mans se geselskap is aangenaam en waar ek eers op my hoede en senuagtig was, ontspan ek gou.

Ek was bang dat hulle rowwe skollies sal wees, maar hulle is net normale mans en duidelik goed deur Donna opgevoed, al blyk dit dat sy effens te diep in die bottel kyk.

Ek verneem sy het die vier seuns alleen grootgemaak nadat hul pa haar 10 jaar gelede ontval het. Dit kon wragtig nie ’n maklike taak gewees het nie.

As ek sien watter goeie maniere hulle het, kry ek sommer meer respek vir die tenger vrou nadat ek vroeër gedink het sy is ’n morsige en lui huisvrou.

Dis byna middernag toe ek myself verskoon en Donna my wys waar ek kan slaap. Die oudste drie seuns deel die kamer waarin ’n upstairs-bed en ’n enkelbed staan. Donna en Shaun is in die kamer met die twee driekwartbeddens.

Ek word Shaun se bed aangebied en voel so moeg en vaak dat ek nie worry oor waar hý of Mandy gaan slaap nie. Ek is binne minute in droomland.

’n Helse kopseer maak my wakker en dit neem ’n rukkie om agter te kom waar ek is. Ek staan saggies op en vind my pad toilet toe.

Op ’n matras in die sitkamer lê Mandy styf in Russel se omhelsing. Shaun slaap seker op Russel se bed en ek voel jammer dat ek juis vir hóm soveel ongerief moes aandoen.

Hy lyk na ’n aangename mens en al wou ek dit nie vroeër aan myself erken nie, boonop deksels aantreklik ook. Dis nie net hy nie – ál Donna se kinders lyk asof hulle die vroulike geslag kan inryg en ek sal in my spoor moet trap as ek tussen hulle gaan bly.

Van mans en hul dinge het ek vir ’n leeftyd genoeg gehad.

Ek gaan nie my lewe verder kompliseer nie.

Ek drink ’n glas water voordat ek met my kopseer terug in die bed klim en wonderbaarlik weer gou aan die slaap raak.

Geluide uit die kombuis maak my wakker en ek sien dat Donna se bed leeg is. My dors dryf my kombuis toe waar ek haar aantref besig om die seuns se werkkos in te pak.

Duidelik is sy te babelas vir die taak en val dankbaar op ’n stoel neer toe ek die bottermes uit haar hand neem en die brood begin smeer. Die son is nog nie eens uit nie, maar sy staan ná ’n rukkie op en gooi ’n glas vol van ’n oorstaanbier uit die yskas.

Met die brood netjies verpak, klim ek terug in die bed en los haar in die kombuis agter.

Ek gee voor om te slaap toe Shaun later binnekom om van sy goed te kry. Ek voel nog taamlik ongemaklik oor ek hom uit sy slaapplek geskop het.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters