2 maande gelede
Mandy besef toe uiteindelik watse tipe haar berk is
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Dis Donderdag en ons nader reeds weer die naweek. Ons gaan vandag verder met die nuutste pennevrug van een van ons huiskinders, SALMON SMITH – die geheimsinnige verhaal “Mandy se Berk”. Geniet nou hoofstuk vier!

MARTHA Olifant se gedagtes werk oortyd toe sy die video clip kyk wat Bradley by die vermeende drug-huis in die ou skiem geneem het.

Sy kan nie glo wat sy sien nie. Haar dogter Mandy se berk is inderdaad besig met duistere dinge en hiér is die bewysstukke.

Haar kop ruk op en sy staar Bradley geskok aan. “M-my kind … w-wat gaan hier aan? I-is dit dwelms wat daai man nou daar kom aflaai het?” vra sy stotterend.

“Ja, defnitief, Antie. Dis hoekom hy so suspiciously rondgeloer het.

“So, Clint is al die tyd ’n drug dealer van die Kaap wat hier op ons plattelandse dorpie sy vuil vingers kom insteek het,” sê Martha.

“Sy naam is Ashley Parring, Antie,” help Bradley haar reg.

“O, jitte. En my klimeid is saam met daai jong!” kerm Martha dit bekommerd uit.

“Waantoe is hulle, Antie? Ek moet haar onmiddellik gaan soek!” daar is paniek in Bradley se stem.

Op daardie oomblik trek die rooi BMW voor Martha se huis op. Hulle albei se koppe ruk na die venster se kant toe.

Deur die halfoop gordyne kan hulle sien en hoor hoe Mandy al giggelend uit die motor spring.

Sy waai nog vir die bestuurder ’n laaste soentjie voordat dié weer met skreeuende bande wegjaag.

Mandy kom opgewonde by die voordeur ingehuppel. In haar hande hou sy ’n pakkie in bruinpapier toegedraai.

Sy steek egter vas toe sy Bradley daar gewaar.

“Moeksie? Wat soek dié jong hier?!” spoeg sy dit uit.

Terwyl Martha nog na bubbles hap, spring Bradley haar voor.

“Ek het jou sogenaamde berk kom expose, Mandy!” antwoord hy en beduie na sy selfoon.

Mandy is sommer blitsig op haar perdjie. “Is jy weer besig met jou swartsmeerveldtog teen Clint!”

“Sy naam is Ashley Parring, Mandy!” kap Bradley terug.

“Ek gee nie om wat jy sê of wat jy ook al in my ma se kop gepraat het nie, maar my berk is ’n ordentlike man!”

“Watter tipe ordentlike man is hy, wat nog nie eers jou ma ontmoet het nie?! Watter ordentlike man trek windgat voor sy girl se huis op en ontmoet haar in die pad?!” haal Bradley die wind uit Mandy se seile. “Ja, hy is getroude man daar in die Kaap, maar hier hou hy sy lyf jongman!” smeer hy nóg sout in die wonde.

Mandy staar hom grootoog aan. Haar mond hap oop en toe, soos sy nou na die regte woorde soek.

Dis tóé Bradley die bruin pakkie in Mandy se hande sien.

“Wat is daai?!” vra hy vinnig.

Mandy kyk vlugtig na die pakkie.

“D-dit is ’n p-pakkie suiker wat ek vir Clint moet hou! Hy gaan dit later kom haal wanneer hy my weer kom optel,” antwoord sy, maar daar is nou onsekerheid in haar stem.

Bradley tree vinnig nader en gryp die pakkie uit haar hande.

“Hey, gee die pakkie hier!” gil Mandy kliphard en probeer die pakkie uit Bradley se hande teruggryp.

Bradley ruk die pakkie voor haar grypende hande weg en skeur dit oop.

Binne is ’n deurskynende plastieksakkie, vol gestop met ’n kristalagtige inhoud.

Bradley se oë rek groot toe hy die inhoud herken.

Hy staar Mandy in ongeloof aan. “Weet jy wat is dít, Mandy?!” hyg hy die vraag uit.

“D-dit is s-suiker. C-Clint het gesê dat ek dit vir hom moet hou. Hy kom dit later optel,” stotter sy.

Bradley gryp sy kop vas van moedeloosheid. Hy kyk Mandy geskok aan. “My magtig, Mandy! Hoe kan jy so naïef wees?! Dit is tik! Die dwelm wat so ons jongmense se lewe verwoes!”

“Hoelihaa! O, my dooie ma!” gil Martha. “Bradley was toe allie pad reg!”

Sy voel weer daardie drukkende gevoel oor haar bors en mik vir die rusbank.

“Wag, laat ek liewerste my sit kry.”

Bradley staar in ongeloof na Mandy, wat nou koponderstebo staan. Hy kan nie glo dat die meisiekind so onnosel kan wees nie. Sy is so pragtig en sy laat so wragtig ’n vreemdeling van buite haar oorrompel met sy nagemaakte sjarme.

En sy kan nie eens sien hoe hy wat Bradley is haar smaak nie.

“Mandy, daai sogenaamde berk van jou is ’n groot dwelmsmokkelaar daar in Elsiesrivier in die Kaap.

“Hy is ook in een van daai bendes daar. Hy het nou sy dwelmvingers hier in Kromdal ook kom inslaan en jy het so reg in sy strik getrap.

“Hy wou jou net misbruik as ’n veilige plek om sy dwelms te stoor. Dít nou as die cops daar by sy tikhuis in die ou skiem sou toeslaan.”

Sy hart vermurwe toe hy die traan sien wat oor Mandy se wang biggel. Hy veg teen die begeerte om haar in sy arms te neem en teen sy bors vas te druk.

Hy kyk eerder af na die pakkie in sy hande. Hy besef dié pakkie voorspel groot moeilikheid. Hy sal so gou as moontlik daarvan ontslae moet raak.

Dan kry hy ’n briljante idee.

Hy kyk vlugtig na Mandy en toe na antie Martha.

“Antie, julle moet my gou verskoon. Ek moet gaan doen wat ek al lankal moes gedoen het.”

Hy vou vinnig die pakkie tik in die bruinpapier toe en verdwyn by die deur uit.

“Hey! Waantoe gaan jy nou met daai goed?! Wat moet ek vir Clint … um … vir Ashley sê?!” skreeu Mandy nog agterna, maar Bradley het reeds by die hekkie uit in die pad af verdwyn.

DIS later die middag toe Ashley, alias Clint, met ’n gemoerse gebrul voor antie Martha se deur stilhou. Hy lê weer soos gewoonlik op sy toeter.

Mandy lyk vreesbevange toe sy deur die kombuisvenster loer.

“Moeksie, dis hy!” kerm sy dit paniekbevange uit.

“Moetie uitgaan nie, my kind! Daai jong is gevaarlik!” sê Martha.

Ashley sit in die kar en gluur na Martha se huis. Langs hom sit Jampas, een van sy trawante.

Hý is die een wat die tikhuis in die ou skiem aan die gang moet hou as Ashley uit die Kaap verdwyn.

Ashley besef iets is nie pluis nie. Hy kyk na Jampas en frons.

“Ek sê, Jampas, ek ruik ’n rot! Daai goose is bymekaa’ met k*k! Hoeko’ ko’ sy nie uit die huis mettie parcel soos o’s afgespreek hettie?!

“Ek dink ek en djy moet loep kyk wat gaat daar binne aan.”

Jampas loer in die straat op en af en sê: “Ja, kykie, ons moet nettie te veel aandag trekkie, my broe!”

Saam spring hulle uit die BMW en stap vinnig op die voordeur af.

“Moeksie, hie’ kom hulle!”

“Ons moet die deur sluit en die polisie bel!” skree Martha en sukkel van die rusbank af op.

Maar sy is te laat. Ashley en sy holborsel bars by die voordeur in, elkeen met ’n gun in die hand …

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters