Verlede maand
Magrieta is glad nie hêppie met Clive se besluit
Oom Sonnie  ~ 

SONLANDERS! En daar tol Will sy saak toe die staat se belangrikste getuies, die vermeende slagoffers, verdwyn. Almal is natuurlik verlig, maar antie Magrieta ruik ’n rot – veral omdat sy die vorige nag gesien het hoe oom Clive uit die huis uitsluip. En so reguit soos wat die antie kan wees, vra sy die oom of hy enigsins iets te doen het met die saak wat gevou het. Geniet nou die slothoofstuk van ELDRIDGE JASON­ se “Die Verhoor van Will E. Hoorie”.

OOM Clive probeer sy bes om so onskuldig soos die dood te lyk.

Maar ongelukkig vir hom is silence nie ’n voorvereiste vir mediese parool nie. Hy weet hy sal nie heeltyd so met sy mond vol valstande kan staan nie. Antie Magrieta gaan nie rus voordat sy ’n antwoord kry nie.

“Dit lyk na reën môre,” probeer oom Clive die onderwerp verander en vryf oor sy stoppelbaard. “Ons is in die lente, maar die winter wil maar net nie wyk nie.”

Antie Magrieta gluur hom aan. Maggie en Will maak hulle uit die voete. As hul ma eers besig is om panga-kyke skerp te maak, dan weet hulle daar is oorlog op pad.

“Clive, ek gaan jou nie weer vra nie,” sê antie Magrieta in wat sy as haar kalm stem beskou, hoewel almal weet haar kalm is niks anders as ’n walm nie.

“Waaroor gaan jy aan, Magrieta?” protesteer oom Clive. “Kan jy nie net bly wees vir Will nie?

“Ons kind hoef nou nie tronk toe te gaan nie. Dis immers die minste wat ek kon doen om op te maak vir al die jare wat ek nie in sy lewe was nie.”

“Die minste?! Die minste?!” vra antie Magrieta. Haar oë skiet sulke baby-vonkies.

“Daar’s nou ouers wat die meeste wonder wat van hul kinders geword het. Het jy al ooit daaraan gedink?

“Geluk kan nie op ander se ongeluk gebou word nie. Jy’s nie vandag se kind nie, Clive. Het die lewe nog nooit dít vir jou geleer nie?”

Oom Clive lek senuagtig oor sy lippe. Dis aan die koelerige kant, maar ’n paar sweetkorrels pêrel teen sy voorkop.

“Jy sweet soos iemand wat op die punt staan om die Who Wants to Be a Millionaire?-kompetisie te wen,” sê antie Magrieta. “Toe, ek wag.”

Oom Clive blaas sy asem hard uit. “In ’n oorlog is daar altyd wenners en verloorders,” antwoord hy. “Die meisies... wel, ek het uitgevind waar hulle wegkruip en toe gaan kuier ek vir hulle. Dit was nie maklik nie, maar ek kon hulle oorreed om die pad te vat en nooit weer terug te kom nie.”

“Meisies soos daai gee nie net gehoor uit die goedheid van hul hart nie,” antwoord antie Magrieta. “Wat het jy hulle gegee?”

Oom Clive trippel nervous rond en loer hoopvol rond dat Will en Maggie sal terugkom.

“Clive Edward Hoorie... hoor nou my lied: Wat het jy hulle gegee?”

“Err... err... net die pension wat ek oor die jare voor gewerk het,” antwoord oom Clive.

Hy voeg dan vinnig by: “Maar nie alles nie. Ek het nog ietsie vir jou oorgehou ook.”

Nou kyk, as daar iets is wat antie Magrieta altyd sal laat smile, is dit die belofte van ’n ietsie geld.

“Hoeveel het jy hulle gegee?” vra sy en kyk die oom stip aan.

“R100 000,” mompel die oom.

“En hoeveel het jy oor vir my?”

“R50 000,” antwoord oom Clive en laat sy kop sak.

“So, tikkoppe is meer werd as ek?!” bars antie Magrieta met ’n skel los. “Weet jy hoe duur is krag deesdae? ’n Mens kyk net na die kragboks, dan fly die units. Hoe lank dink jy gaan R50 000 hou?!

“Nee, Clive. Ek is nie te vinde vir dit nie. Jy gaan nóú, sê ek jou, en gaan soek daai meisies.

“Dan gee jy hulle die R50 000 en bring my die R100 000. En jy kom nie terug voordat jy daai geld het nie. Hoor jy my?”

Oom Clive knik heel onderdanig en stap dan sleepvoet weg.

Toe Will en Maggie hulle ’n paar minute later by hul ma aansluit, loer hulle in die rondte, op soek na hul pa.

“Jul pa het Lux-seep gaan koop,” sê antie Magrieta toe hulle vraend na haar kyk.

“Al weer?” vra Will. “Maar het ons dan nie genoeg seep in die huis nie?”

“’n Mens kan nooit genoeg seep het nie,” antwoord antie Magrieta.

“En as die taxi nou kom?” vra Maggie bekommerd. “Gaan ons dan nie vir Daddy wag nie?”

Antie Magrieta sug en skud haar kop.

“Die seep wat jou pa vir my moet gaan kry, kry jy nie sommer in enige winkel nie. Dit gaan hom ’n hele tydjie vat om weer huis toe te kom.”

“Maar daar is dan niks spesiaals omtrent Lux nie,” sê Will en frons. “Hoekom kry ek die idee Mammie vertel nie vir ons die waarheid nie?”

Antie Magrieta gluur hom aan. “Hoekom kry ek die idee jy is nog lus vir hof loop?” kap sy terug.

“Will, ek wil my voete nie weer in die hof sit nie, hoor jy my?

“Weet jy wat doen dit aan ’n ouer om in ’n hof te sit oor jou kind stout was en by plekke uithang waar hy nie hoort nie?”

“Yor, Ma! Waaroor ganit?” vra Will. “Dis mos nou verby en ek is jonk. Almal maak mos foute.”

“Maar nie almal se foute laat hulle in die hof opeindig nie,” sê Antie Magrieta. “Maandag... net Maandag kruip jy uit en gaan soek vir jou werk. Ek worry nie of jy leë empties of ’n ding bymekaar moet maak vir ’n living nie, maar op my nek gaan jy nie meer lê nie. Is van lê en niks doen dat die tronke so vol is.”

Sy draai na Maggie, maar dié is dankbaar toe die taxi voor hulle optrek en die guardjie die deur oopslide. Antie Magrieta vergeet skoon van die skrobbering wat sy haar dogter wou gee toe sy die guardjie se uit tande sien.

“Jirre! Is van by jou kuier dat die tandemuis by niemand anders uitkom nie. Toe! Skuif soentoe!” skel sy in die guardjie se rigting en beur verby hom om in die taxi te klim.

“Yor, moeder! Is dit dan nie te vroeg om so vol oorlog te wees nie?” vra die guardjie verleë.

“Dis nooit te vroeg om kinders maniere te leer nie!” kap antie Magrieta terug.

Will draai hom na Maggie en vra: “Wat dink jy het van Daddy geword?”

Sy suster trek haar skouers op.

“Jy sien dan hoe beform Ma weer. Dink jy enige man in die wêreld is lus vir so ’n vrou?”

Maggie los Will op die sypaadjie en klim in die taxi.

Will skud sy kop. Maggie is reg. So lief hy vir sy ma is, kan sy veels te veel kere too much wees.

Hy kan net bly wees sý was nie die staatsaanklaer nie, anders was hy nou al diep in die tronk.

“Will! Wag jy vir ’n invite?!” skree antie Magrieta uit die taxi.

“Sorry, broe,” sê die guardjie.

“Vir wat?” wil Will weet.

“Vir al die oorlog wat jy elke dag met jou tanie moet deurmaak.

Will lag en sê: “Broe, ma’s sal ma’s bly – especially asse man nie wil hoorie...”

  • Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters