17 dae gelede
Luke moet ingryp oor die cronies so useless voorkom
 ~ 

DIÉ week se lekker storie kom uit die pen van NICOLETTE FOULDIEN. Sy noem haar verhaal“Vloek”. Geniet nou hoofstuk 6.

PEET Venter gooi die gehoorbuis terug op die mikkie. Sy gesig is bloedrooi van woede.

Hoe de hel is dit dat een van sy beste manne so ’n gemors van so ’n eenvoudige taak kan maak?

Self sy grootste teenstander sou swig voor só ’n aanbod, maar ’n armsalige ou Khoi-antie wil nou sy groot aftreedroom kom omverwerp.

Dít gaan en sal hy beslis nie duld nie. Hoekom die blerrie John Douries nie net ’n uitsettingsbevel op die antie beteken nie, kan hy nie verstaan nie.

Sy oë is groot vir geld, maar dan is hy te papbroekig om ’n eenvou­dige takie te verrig.

Peet skink sy glas vol whiskey en sluk dit met een teug af. Hy maak die glas dadelik weer vol. Hy wens hy kan self Springbokkloof toe gaan, maar hy is hopeloos te besig.

Boonop betaal hy jare lank al sy werknemers om sulke lastige jobs te doen, maar blykbaar het te veel geld hulle laat sleg word.

Al een wat hy nou met die taak kan vertrou, is sy seun, Luke.

In hierdie stadium wil hy nie hê te veel mense moet weet van die beoogde projek nie. In die sakeryk moet jy versigtig wees met wie jy jou geheime en besigheidsplanne deel. Hy trek die telefoon nader om Luke te bel. Hy het volle vertroue in sy seun.LUKE klim uit Dick se Jeep en bekyk die wêreld rondom hom. Hy kan nie verstaan hoekom sy pa hom op sy oudag op hierdie godverlate plek wil kom begrawe nie. Die stad is waar alles gebeur. En waar die geld is. Maar ja, sy pa het seker maar sy fair share van die stadslewe weg.

Eintlik is hy wat Luke is nogal bly, want dan kan hy ongestoord en sonder inmenging voortgaan met sy pa se besigheid.

Hy is lief vir die ou man, maar soms kan hy met sy baasspelerigheid nogal ’n pyn in die agterent wees. Dis tyd dat hy wat Luke is op sy eie voete leer staan. Hy is per slot van sake tog die enigste erfgenaam van sy pa se besighede.

“Kom jy?” vra hy vir Dick, wat roerloos agter die stuur bly sit. Dick skud net sy kop.

Blerrie papbroek, dink Luke en stap na die hut. Hy kan nie verstaan dat Dick en die burgemeester niks hier uitgerig kry nie. Kyk net hoe blerrie primitief bly die oumens.

Met die voortvarendheid van die jeug stap hy die hut binne sonder om te klop.

Mieta sit bene gekruis op haar karos. ’n Swaar kruiereuk hang in die vertrek.

Voor haar brand bossie goed op ’n hopie kole. Die rook dwarrel in die skemervertrek rond. Haar oë is toe en sy prewel saggies. Dit lyk vir Luke of sy bid.

“Antie!” probeer hy haar aandag trek. Sy roer nie. Prewel net saggies voort. Hy raak ongeduldig. Hy is hier vir besigheid, nie vir kerksake nie. Die antie mors sy tyd. Hy is nie die armsalige Dick of daardie gatkruiperige mayor nie.

Luke stap nader en skud Mieta aan die skouer. Sy oë rek en sy mond sper geluidloos oop. Dit voel of ’n duisend volt deur sy are trek. Die skok is so erg dat hy op sy knieë inmekaar sak. Sy bolyf hang vooroor en hy sukkel om asem te kry. Sy kop draai en sy ore suis.

Die vrou se gesig is meteens hier voor hom. Sy sig is dof en hy sukkel om te fokus.

Haar stem is skor. “Het ek nie gesê julle moet wegbly nie? Hoekom tart julle die voorvaders?”

Luke skud sy kop verdwaas. Hy weet nie waarvan die antie praat nie. Watter voorvaders? Skielik word alles donker voor hom. Hy knipper sy oë en kyk dan verbaas rondom hom.

Hy staan by die deur waar hy minute vantevore ingekom het. Die antie staan voor hom. Die velkaros en smeulende bossie goed is weg. So ook die kruiereuk wat so swaar in die lug gehang het.

Mieta kyk hom vraend aan. “Kan ek help? Wat soek jy in my huis?” Haar stem is onvriendelik.

Sy lyf voel vreemd lam en hy kan nie uitpluis wat sopas gebeur het en óf dit wel gebeur het nie. Nog nooit vantevore het hy so iets ervaar nie. Die vraende vrou voor hom dwing hom om op te hou wonder.

“Ek is Luke–”

“Ek vra nie wie jy is nie, ek wil weet wat jy hier soek,” onderbreek Mieta hom.

“Ek is hier namens my pa. Oor die grond–”

“Loop! Lóóp! Julle het niks hier verloor nie en ek het niks om met julle te praat nie.”

Luke probeer weerstand opbou en doen wat hy altyd in moeilike situasies doen, maar hy kan aan niks dink om te sê nie.

Die vrou voor hom straal iets uit wat hom sy woorde laat sluk.

Om die waarheid te sê, al wil hy dit nie aan homself erken nie, hy is bang.

Hy wat Luke Venter is, is bang! Binne hom is ’n onbeskryflike vrees en hy weet nie hoekom nie of waarvandaan die gevoel kom nie.

Hy draai om en loop druipstert terug na die Jeep. Dick trek sonder enige vrae weg.

“ONS sal net iets moet uitwerk manne.” Luke kyk om die beurt na John Douries, wat agter sy lessenaar sit, en Dick Smit. Hulle knik albei ingedagte.

“My pa gaan nie tevrede wees as ons hom laat weet ons het wéér mislik nie.”

“Ek stem saam, maar wat kan ’n mens doen?” vra Dick bekommerd.

“Dalk moet ons haar net laat verdwyn? Dit behoort nie moeilik te wees nie?” dink Luke hardop.

Dick en John staar geskok na Luke. “Is jy mal! Bedoel jy ...?” vra John.

Luke knik.

“Manne, so iets sal ons soveel moeite spaar. Die tannie se tyd is tog klaar uitgedien en niemand sal haar eens mis nie. Sy het mos nie familie nie?” antwoord Luke ongenaakbaar.

“Ja, Luke, maar dis ’n klein plekkie. Mense gaan praat as daar juis nou iets met die antie gebeur, so kort nadat ons belangstelling in daardie grond begin toon het.

“Onthou, ek het die planne reeds aan die dorp se sakekamer voorgelê. Dis net verlede week goedgekeur juis omdat almal besef watter goeie ekonomiese vooruitgang dit vir die dorp en omgewing sal beteken. Ons het net nie rekening gehou met Mieta se halstarrigheid nie.”

“Oukei, ek hoor jou, maar ons kan dit soos ’n ongeluk laat lyk. Dinge gebeur mos maar. Ons moet net fyn beplan? Toe, wat sê julle?”

Dick en John kyk onseker na mekaar.

“Kom nou, manne. Dink aan die geld ... My pa betaal julle ’n kleinhuisie vol geld om dinge te laat gebeur. Wil julle hê ek moet hom laat weet dié besigheid het deur die mat geval omdat julle twee papbroeke is?”

Nou skud albei die koppe.

“John, my pa het bewyse van die omkoopgeld wat jy ontvang het en Dick, ek hoef jou nie eens te sê wat ons alles op jou het nie ...”

Die twee word skoon bleek.

  • “Ek weet. Gee kans. Jy sê self ons sal dit fyn moet beplan. Ons kan nie bekostig dat daar vingers na ons wys nie. Die inwoners is nie dom nie. Mense praat gou.” Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters