25 dae gelede
Lucien moet baie vinnig dink om sy bas te red
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

’n Nuwe Lewe is Salmon Smith se jongste Lucien-skryfstuk. Geniet die derde hoofstuk!

LUCIEN se oë rek pieringgroot toe hy sien hoe ses polisiemanne op sy motor toesak. Een het ’n crowbar in die hand en is besig om sy kar se kattebak oop te forseer.

Dit voel asof sy hart ’n slag mis toe hy Oberholster tussen hulle herken. Dit lyk asof dié vent die voortou neem.

Hy storm vinnig by die hotel uit. “Hei! Wat maak julle by my kar!?” bulder hy.

Teen daardie tyd het hulle al sy kattebak oopgeforseer.

Die vier polisiemanne swaai almal gelyktydig om terwyl Oberholster nou naarstig in die oop kattebak rond krap.

“Obie, is dít die mannetjie van wie jy gepraat het?” vra een van hulle aan Oberholster en beduie na Lucien.

Oberholster kom regop en hou ’n toegedraaide, deurskynende plastieksakkie triomfantlik in die lug.

“Ja dis hý! En kyk wat vind ek nogal in sy kattebak!” snork die groot bees deur sy neus.

Lucien se oë vernou terwyl hy na die pakkie kyk.

“Wat is daai?” vra hy vinnig.

“Jy weet goed wat dit is, jou f*kk*n bliksem! Dis tik!” blaf Oberholster.

Nou rek Lucien se oë pieringgroot. “D-dis nie myne nie! Ek het nog n-nooit met tik in my kar rondgery nie! E-ek weet nie waar kom dit vandaan nie!” stotter hy.

“Hou jou bek! Ek vind die drugs dan nou in jou kar!” kap Oberholster terug.

Dís toe Lucien besef dat hy hier geframe word oor hy ’n vreemdeling is wat dit durf waag om hier na die dorp te kom – die dorp waar duistere dinge aan die gebeur is.

Hy weet sommer dat dié groot buffel die drugs in sy kattebak geplant het – vroeër, toe dié hom kwansuis deursoek het.

Toe het hy agterna natuurlik versterkings ingeroep om meer getuies teen hom te hê.

’n Woede kom in Lucien op.

“Jou gemors!” skree hy en storm op Oberholster af.

Maar voordat hy by die buffel kan uitkom, word hy deur die ander polisiemanne vasgegryp en op die grond vasgedruk.

Hulle slaan handboeie om sy polse en hy word vinnig agter in ’n vangwa gelaai. Uit die hoek van sy oog sien Lucien hoe die ou ontvangsdame vinnig die hotel se deur toemaak.

Al protesterend word Lucien polisiestasie toe vervoer.

Hier sleep hulle hom uit die vangwa die gebou in.

“Julle maak ’n fout! Ek is geframe deur dié polisieman! Hý het die dwelms daar buite die dorp in my kar geplant!” skree hy en beduie na Oberholster.

Oberholster gryp Lucien voor sy bors en pen hom teen die muur vas. “Hou jou f*kk*n bek, jou dwelmsmokkelaar, of anders gaan jy hard gebliksem word!”

Lucien gryp die groot hande van die polisieman vas. En dís toe hy dieselfde visioen kry as dié daar by die hotel.

Dié keer is dit intenser. Hy sien die sinnelose geweld en bloedvergieting; skote wat afgaan en bomme wat ontplof. Toe hy in die visioen die bloed van Oberholster se hande sien drup, toe weet hy ...

Eensklaps is die visioen verby en Lucien staar nou met naakte skok op sy gesig na die groot polisieman voor hom.

Oberholster deins verskrik terug toe hy die vreemde kyk in Lucien se oë sien.

“Hei! Wat gaan nou met jou aan?! Is jy getik of wat?!” wil hy weet.

“Dis jý! Jy’s die brein agter alles!” spoeg Lucien dit uit.

Oberholster kyk Lucien met ’n frons op sy rooi gesig aan. Hy kyk vlugtig na sy kollegas en toe weer na Lucien.

“W-waarvan praat jy?!” vra hy versigtig.

Lucien besef gou as hy gaan laat val dat hy bewus is van wat in hierdie dorp aan die gang is, dan gaan hy die polisiestasie nie lewend verlaat nie. Sy brein werk nou in die hoogste versnelling.

“J-jy is die brein agter die drugs in my kar. J-jy het dit daar geplant. D-dis wat ek wou sê,” sê hy vinnig.

Hy hoop hy klink darem oor­tuigend.

Oberholster kyk hom lank en dringend aan. “Jy het dit dan nou vereffen ook gesê! Jy hou dik met jou k*k, mannetjie,” sê hy stadig.

Dis amper asof daar ’n verskuilde waarskuwing daaragter is.

Oberholster beveel die ander polisiemanne toe om Lucien na die selle te neem.

Lucien kan voel hoe Oberholster se oë op sy rug brand terwyl hy na die selle gelei word. Hy sal sy kaarte mooi moet speel as hy lewend uit dié ding wil kom.

Ek beter my oog op hiérdie vreemdeling moet hou, dink Oberholster.

Toe Lucien in ’n sel gestop word, draai hy na die polisieman, ’n jong konstabel. “Is ek nie geregtig op een telefoonoproep nie?” vra hy.

“Meneer kan later die speurder vra, wanneer hy met u kom gesels en gaan aankla,” sê die konstabel in ’n dun seun-stemmetjie.

Dis net ná drie die middag toe speursersant Laing Lucien uit die selle kom haal en hom na sy kantoor neem om hom aan te kla.

Terwyl hy met die dossier besig is, kyk Lucien hom ondersoekend aan.

Hy oorweeg dit om die speurder in sy vertroue te neem. Hy lyk nogal na ’n gawe persoon.

Maar eers moet hy die “waters toets”.

Hy raak skielik aan sersant Laing se hand. Laing ruk sy hand terug toe hy ’n ligte elektriese prikkel voel. Hy kyk fronsend na Lucien. “Wat was daai nou?!” vra hy vinnig.

Lucien kyk af na sy hande. “Sorry, sersant. My hande is altyd so vol statiese elektrisiteit, veral as ek sekere klere aan het,” jok hy vinnig.

Hy kyk eers vlugtig rond. Toe kyk hy Laing vas in die oë.

Hy het nou pas in die sersant se lewe gekyk en gesien dat hy ’n eerbare en hardwerkende man is. Hy is nie van daardie korrupte soort nie.

Laing deins egter terug toe hy in Lucien se vreemde, donker oë vaskyk.

“W-wat is dit dan nou?” hyg hy.

“Sersant, ek moet iets dringend onder jou aandag bring.

“Dit is in staatsbelang!” fluister Lucien dringend.

Laing kan die erns in Lucien se stem hoor. Hy ontspan merkbaar en leun vorentoe.

“J-ja, wat is dit ... Lucien?”

Lucien lek vinnig oor sy droë lippe – ’n gewoonte wat hy het wanneer hy gespanne is. Daar daal ’n gespanne stilte in die vertrek neer. Jy kan ’n speld hoor val.

“Toe ek vanoggend hier in jul dorp aankom en toe het ek van ’n baie lelike ding hier bewus geraak,” begin Lucien. “Voordat ek die dorp binnegery het, is ek gekonfronteer deur adjudant Oberholster.

“Ek het agtergekom dat hy nie van my teenwoordigheid hier op julle dorp hou nie. Altans, hy wou verhoed dat ek hier aanbly.

“Dít is die rede hoekom ek onwettig gearresteer is vir dwelms en nou hier voor jou sit.”

Laing lyk nou meer gepuzzle.

“W-waarvan praat jy? Wat is hier aan die gang?”

Lucien kyk weer vlugtig rond en leun toe nóg nader aan Laing.

“Sersant, jy moet nou baie mooi luister, want wat ek jou nou hier gaan vertel, gaan jou tot in jou fondamente skok!”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters