26 dae gelede
Lucien besef die dorp het 'n nare geheim
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

’n Nuwe Lewe is Salmon Smith se jongste Lucien-skryfstuk. Geniet die tweede hoofstuk!

DIE polisieman wat skielik hier langs Lucien van Wyk se kar opdoem, lyk baie nors. Dié groot, ronde gesig is graniethard en die rooi weglêsnor en sy groot, vet liggaam komplementeer die moerige houding.

Vir ’n oomblik staar Lucien en die cop mekaar aan. Die man lyk wragtig soos daai Obelix-karakter in die Asterix-verhale, gaan dit deur Lucien se kop.

Hy begin later kriewelrig raak met die groteske gesig hier byna teen sy ruit.

Toe hy sy mond oopmaak om iets te sê, bulder die cop se stem: “Wie is jy en wat maak jy hier?!”

Lucien skrik hom boeglam. Sy mond hap oop en toe soos hy na woorde soek. “E-ek is … M-my naam is Lucien van Wyk,” stotter hy en loer vlugtig rond. Hy sien dat die polisieman alleen is. Daar staan ’n patrollievoertuig so skuins oorkant die pad. Hy het wragtag nie vir “Obelix” sien aankom nie.

Die gatta draai skielik sy kop skuins en druk sy oor teen die ruit.

Dié aksie laat Lucien terugdeins. “W-wat maak Meneer nou?!” vra hy verskrik.

“Ek wag!” rammel die stem weer.

“W-wag vir wat?” vra Lucien.

“Ek het jou ook gevra: Wat maak jy hier?!”

“O ... E-ek is op soek na ’n dorp waar ek my kan hervestig. E-ek is van Worcester,” verduidelik Lucien vinnig.

Obelix kyk Lucien nou stip aan. Dit lyk asof sy snor bewe soos hy nou die situasie opweeg.

Hy loer vlugtig in die kar rond en sien die groot reistas wat op die agtersitplek lê.

Skielik maak hy Lucien se deur oop. “Kom, klim uit!” beveel hy kortaf.

Lucien spring uit die voertuig. Sy oog vang die polisieman se naamplaatjie, waarop “Oberholster” staan.

Lucien kry stilletjies lag – dié van pas nogal by Obelix.

“Waarvoor grinnik jy? Hier grinnik jy nie, tensy daar met jou gegrinnik word nie! Is dit duidelik?” dawer adjudant Oberholster se stem oor die vlakte.

Lucien skrik hom byna uit sy geloof. Hy wonder watse vreemde plek is dit dié met die norse mense.

“Kom, maak oop jou boot! Ek wil kyk of jy nie dalk drugs hier na ons dorp toe bring nie!” beveel Oberholster hom.

“Lyk ek vir jou na ’n drug dealer?” waag Lucien dit.

Oberholster se gesig verander van ’n ligte kleur na skakerings van pienk en rooi. Sy snor wapper soos hy deur sy neus snork.

“Hoe lyk ’n drug dealer?” blaf hy.

Sy oë vernou en hy gluur Lucien aan. “Mannetjie, jy moet nie hier met my kom p**s praat nie! Jy gaat sleg tweede kom!”

Lucien besluit hy beter mooi saamwerk voordat daai skopgraafhande sy kop van sy lyf af klap.

Hy maak haastig sy boot oop en Oberholster krap daarin rond. Toe dié klaar is, beveel hy Lucien om sy reistas oop te maak.

Later, toe die cop tevrede is, staan hy bloedrooi in die gesig eenkant toe.

“Jy kan maar ry. En pasop, ek watch jou!” laat hy uitasem hoor.

“Ek dink jy moet meer oefening doen, want jy is vet en onfiks”, wil Lucien sê, maar hy beteuel homself, want hy wil nie graag hier in die boendoes sterf nie.

Hy spring vinnig in sy kar en trek weg dat die stof so staan. Hy sien in sy truspieël hoe Obelix hom agterna staar en oor sy handradio praat. Daar is ’n knaende gevoel van onheil wat hy nie kan afskud nie.

Hy ry stadig in die hoofstraat af. Die meeste van die geboue lyk asof hulle uit die 19de eeu dateer. Daar is ’n skool aan die regterkant en ’n ry winkeltjies weerskante van die hoofstraat. Sy oë soek-soek in die hoofstraat rond. Net ná die vulstasie aan die linkerkant sien hy die witgekalkte dubbelverdiepinggebou.

“Konnoterville Hotel” staan op die groot naambord net bokant die ingang.

Hy trek vinnig by die parkeerplek voor die hotel in.

Hy loer vlugtig rond toe hy uit sy motor klim. Oorkant die straat is ’n drankwinkel en hy sien ’n paar dronkies wat voor die gebou rondlê.

Verder is die straat doodstil met net hier en daar iemand wat doelloos ronddwaal.

Hy besluit net daar hy sal eerder net vir die nag hier vertoef en weer môreoggend vroeg die pad vat. Dié plek gee hom die creeps.

Die ontvangsdame is ’n ou, blanke dame en is ’n bietjie oorvriendelik – dit lyk eerder asof sy Colgate adverteer.

“Haai jitte, Meneer, ons kry nie eintlik besoekers hier nie. Hier is nog talle kamers oop,” sê sy toe Lucien ’n kamer wil bespreek.

Hy bespreek ’n kamer op die boonste verdieping waar hy van bo op sy motor kan afkyk.

“Is die polisiemanne hier maar so onvriendelik?” vra hy so terloops, terwyl die dame sy besonderhede in die rekenaar insleutel.

“W-wie is die polisiemanne wat so onvriendelik was, Meneer?” vra sy vinnig.

“Nee, dit was net een. Hy het my daar buite die dorp deursoek. ’n Vet buffel met die van ‘Oberholster’,” antwoord Lucien.

Skielik versomber die vrou se gesig. Sy laat sak haar kop.

Daar gaan ’n rilling agter Lucien se rug af. Iets is beslis nie pluis in dié dorp nie, gaan dit deur sy gedagtes.

“Al wat ek net kan sê, is dat Meneer maar eerder nie hier te veel vrae vra nie. Dis beter so,” fluister sy en oorhandig sy kamersleutel aan hom.

Hul hande raak in die proses aan mekaar en daar gaan ’n ligte elektriese skok deur Lucien.

Skielik is daar ’n mistigheid wat Lucien omring. Dit verswelg die ontvangslokaal.Hy sien net die witgrys mistigheid hier voor hom.

Hy waai sy hande voor hom asof hy die mistigheid wil wegwaai.

Toe, skielik is dit asof hy in die ontvangsdame se gedagtes is. Alles wat sy weet, word deur sy eie gedagtes geabsorbeer.

Hy weet nou dinge wat eintlik vir die buitewêreld en die meeste inwoners hier verborge moet wees.

Hy hoor die jammerlike gekerm van kindertjies. Hy kyk geskok toe hoe bloed skielik van nêrens verskyn en ’n poel om sy voete maak.

Hy trek sy asem skerp in en eensklaps verdwyn die wasigheid. Sy oë is pieringgroot, terwyl hy na die vrou hier voor hom staar. Sy wéét, gaan dit deur sy brein.

“I-is M-meneer oukei? M-meneer lyk bleek!” stotter die vrou grootoog. Sy klink baie besorgd.

Lucien besef hier’s iets op die dorp aan die gang wat hy dringend onder die owerhede se aandag moet bring. En hy sal gou moet maak ook.

Hy kyk die ou vrou agter die toonbank simpatiek aan. Hy besef dat sy natuurlik nie oor dié verkeerde dinge hier kan praat nie, want haar lewe sal dan in gevaar wees.

Sy besef natuurlik nie dat hy, deur middel van ’n visioen, haar gedagtes kon lees nie.

Hy skud vinnig sy kop. “Nee, tannie, alles is oukei!” antwoord hy.

“Is jy seker, my kind?” hou sy dik.

Hy begin skielik haastig raak. Hy tel sy reistas van die vloer af op.

Hy vries egter in sy spore toe hy sien hoe die vrou skielik verby hom na buite loer.

Hy swaai om, net betyds om te sien hoe vyf polisiemanne op sy motor daar buite toesak en sy kattebak oopforseer ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters