Verlede maand
Liefde ontvang ’n oproep wat haar gou rooi laat sien
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Dit lyk darem asof die hulp van Dr. Phil nie nodig is om die breuk tussen antie Gerty en Liefde te herstel nie. Die twee vind mekaar in die hospitaal ná Liefde se ordeal met dokter Abbu en die snaakse droom wat sy oor haar pa gehad het. Antie Gerty neem haar voor om Liefde by te staan op die nuwe paadjie van tienerma-skap. Geniet nou die slothoofstuk van “Liefde” deur ELDRIDGE­ JASON.

MAANDE ná haar ontslag uit die hospitaal sit Liefde op hul stoep.

Haar ma is iewers in die huis doenig.

Liefde kan nie anders as om te smile nie. As haar ma nie besig is om te bak en te brou nie, is sy besig om babakleertjies te brei.

Sy kla nie. Sy laat maar haar ma begaan. Nie baie jong meisies is so bevoorreg soos sy nie – dit besef sy maar alte goed.

Dis net die babaname waaroor hulle haaks is.

Gertruida en Stoffelina of Jakob en Andrè-Andries as dit ’n boy is, is die name waarmee haar ma vorendag gekom het.

Sy wat Liefde is, kon dit net nog nie oor haar hart kry om haar ma te sê dat sy nie haar baby met sulke name wil straf nie.

Sy vryf ingedagte oor haar maag. Soos te verwagte, was die mense van Papajaville weer vol stories toe die nuus van haar swangerskap rugbaar geword het.

Sy is bewus van boodskappe wat in WhatsApp-groepe geplaas is waarin daar gesê word sy wou Dino trêp.

Ook dat sy nie weet wie haar kind se pa is nie en dat dieselfde man wat jare gelede haar ma met die lyf gemaak het, ook háár kind se pa is.

Aanvanklik het hierdie stories haar diep ontstel. So ook dominee se besoek waarin sy ingelig is dat sy nie meer die kerk se jeugbyeenkomste mag bywoon nie en nou onder sensuur is.

Dieselfde dominee wat jare gelede ’n kind by suster Anna met die lelike groot kerkhoed gemaak het en toe hoog en laag van die kansel af gesweer het dit was die duiwel wat sy broek se gulp afgetrek het.

Ja, kwaad was sy, maar toe besef sy ’n mens kan nie kwaad met kwaad vergeld nie.

Jy kan nie idiote benoem vir breinoorplantings nie, want sulke oorplantings gaan nooit ’n sukses wees nie.

Sy het geleer jy moet ’n idioot los om in sy eie domonnooslikheid te versuip.

Dino en sy ouers gaan sy ook maar in die hande van die Here los. Die wiel draai mos.

Hul dag gaan hulle kry. Nou is dit egter belangrik vir haar om op haar baby te fokus.

Liefde smile weer en verwondering spoel oor haar toe sy voel hoe die babatjie binne haar skop.

Sy weet nog nie wat die geslag van haar baby is nie en wil ook nie weet nie.

Dit moet ’n surprise wees, wat haar ma sommer ook nie kans gee om ’n beter ou naam uit te dink nie.

Volgende jaar sal sy skool toe gaan. Dis reeds met die hoof gereël.

Hierdie jaar wil sy fokus op haar kind en die komende hofsaak.

Dokter Abbu is toe deur die polisie vasgetrek.

Kort ná haar ontslag het dokter Abbu besef sy wat Liefde is, is toe nie dood nie.

Anderkant Langebaan se One Stop het die polisie hom toe vasgetrek met ’n klomp beendere, aborsie-kontrepsies en ’n vrag Sassa-kaarte in sy besit.

Vir ’n hofsaak en die spul nuuskie­riges wat die hofbanke gaan vol sit om hul skinnergees te voed, is sy nie juis lus nie.

Maar sy besef Abbu moet in sy spore gestuit word voordat ’n desperate tiener in ’n soortgelyke posisie haar lewe verloor.

Liefde wip van die skrik toe antie Gerty langs haar kom sit.

“Ai, die jig kasty my weer va’môre,” sê antie Gerty en sug swaar.

Liefde lag. “En dan wil Mammie nog een van die dae agter ’n kleintjie aanhardloop?”

Antie Gerty trek haar gesig voordat sy sê: “Daai gaan ek in ’n honderd jaar nie doen nie.

“Ek gaan nie jou babysitter wees nie en ek sê jou nou al, jy kan maar vergeet van disco-goeters loop en jou kind by my los. Ek het mos nie kers vasgehou nie.”

Liefde kraai bo uit van die lag.

“Dis wat Mammie nóú sê, maar as die baba eers daar is ... ek het mos al gesien hoe bederf die oumas en oupas hul kleinkinders soos wat hulle nooit hul eie kinders bederf het nie.”

Antie Gerty snork onvroulik deur haar neus en vlieg weer op, jig ten spyt.

“Kan Mammie dan nie vir ’n oomblik stilsit nie?” vra Liefde. “Mammie moenie vir Mammie so oorwerk nie.”

“Ek sal rus die dag as ek onder die grond lê, my kind,” antwoord antie Gerty.

“Tyd is kosbaar. Ek is so dankbaar dat die regering nooit tyd ook van ons kon steel nie.

“Ek kan my net indink hoe daai president van doerie jare – die een met die twee koppe – met arms vol horlosies rond sou geloop het.

“Maar wag, tyd vir ginnegaap het ek nie. Ek wil gou klein Stefan-Arnoldus se mussie gaan klaar brei.”

Dit sit op Liefde se tong om kapsie te maak, maar met alle mag en wilskrag besluit sy daarteen.

Arnoldus haar voet!

Sy gaan nie allow dat haar kind se maats hom Arnie of Nollie noem nie. Never, ever!

Sy gryp haar selfoon langs haar en frons toe sy na die skerm kyk. Privaat nommer. Wie kan dit dan nou wees?

Sy besluit om die oproep te beantwoord.

“Hallo? Liefde?”

Hoekom klink die stem dan so bekend?

“Dis ek. Dino. Gaan dit nog orrait?”

Liefde voel hoe die woede oor haar wil spoel.

“Waarmee help ek?” vra sy koud.

“Ek ... ek bel net om te sê ek is jammer en dat jy moet laat weet as daar iets is wat ek kan doen.”

“Kan jy kruip?” vra Liefde.

“Jaaa ...?” antwoord Dino half uit die veld geslaan. “Wat het dit met die prys van–”

“Nou, kruip in jou moer!” val Liefde hom in die rede en beëindig die oproep.

Sy sit die selfoon versigtig langs haar neer. Van kwaadgeit wil sy darem ook nie ’n foon kwyt wees nie.

Dino moenie nou sy luck kom try nie, dink sy.

Beurt is beurt en hy moet maar geduldig syne afwag.

Sy beurt gaan kom vir maintenance en daai ouers van hom wat hom so in sy liegstories versterk het, sal maar sterk moet wees.

Maar daai is worries vir ’n ander jaar se dag.

  • Vir nou ... vir nou wil sy net hier sit, die stilte ervaar wat vrede bring en ’n plan bekonkel vir ’n baby-naam waarteen haar ma nie kan stry nie. Vir nou is dit ’n tyd vir liefde en niks anders nie ... Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters