Verlede maand
Lettie blameer Devan vir Sammy se verdwyning
Oom Sonnie  ~ 

DEVAN probeer nog uitpluis­ wat van die vermiste Sammy geword het, maar die cops bly op sy case. Lees nou die slothoofstuk van “Op ’n Dag Soos Dié” uit die pen van GWENDOLINE KORDOM.

‘EK WEET nie waar jou man is nie, maar ek kan verduidelik.”

Die klap val hard teen sy wang. Devan gryp verbaas na die een kant van sy gesig. Die vrou het hom sowaar geklap.

Toe sy ’n tweede keer haar hand lig, koes Devan.

“My naam is nie Sammy nie,” sê Devan vies. “As jy jou nie kan gedra nie, beter jy loop.”

Sy beduie met ’n dun vinger na hom. “Dis jý wat idees in Sammy se kop geplant het. Ek het hom gewaarsku teen mense soos jy. Een glasie wyn en skielik het hy vriende. Vriende veroorsaak net onmin in ’n man se lewe.”

“So, verwag jy jou man moet in isolasie lewe oor jy niemand naby hom toelaat nie? Laat ek vir jou iets vertel, Antie. ’n Man het vriende nodig, om rugby mee te kyk, te braai en sommer op ’n dag te verdwyn, soos nou. Waarvoor is jy so bang?”

“Vir mense soos jy. Bloedsuiers. Beroof ’n man van tyd by sy gesin. Sammy is nie soos die res nie. Hy is lief vir ons. Selfs die kinders wat nie syne is nie.

“Nou is hy weg en dis jou skuld. Waar is my man?”

“Geen wonder Sammy het verdwyn nie. As jy mý vrou was, het ek jou lankal in jou glory gestuur. Jy dreig my nie. Skoert van my plek af,” sê Devan.

Devan skrik toe haar oë vernou. “As Sammy iewers in ’n sloot lê, kom ek terug en dan sal jy spyt wees. Baie spyt,” sis sy.

“Sammy lê nie in ’n sloot nie. Hy en Jemima …” Devan bly tjoepstil. Die laaste stukkie van die legkaart pas skielik in.

“Wie is Jemima?” vra sy.

“Ek bedoel Jackson,” sê Devan vinnig.

“Jy lieg. Wie is Jemima? Ek het die reg om te weet.”

Toe skiet haar oë vol trane.

Hy wag tot sy haarself onder beheer het, dan stoot hy die deur oop en sê: “Ek dink ons moet sit vir wat ek jou nou gaan vertel.

“Ek kon aanvanklik nie alles onthou van gisteraand nie, maar soos die dag verloop het, het stukkies en brokkies teruggekeer.

“Sammy was by my. ’n Vrou het kort ná ons daar aangekom. Sammy het haar voorgestel as Jemima. Ons het gekuier, maar hulle twee nie vir lank nie. Sy en Sammy het verdwyn nadat sy my dop gedokter en toe aan Gina afgesmeer het. Sammy het my geplay en gebruik om weg te kom. Hy het sy escape al jare beplan en nou die moed gehad daarvoor.”

“Wie is sy?”

“Sy jeugliefde. Sammy was te bang om te skei. Natuurlik uit vrees dat jy hom sal vermoor of iets.”

Devan wag ’n oomblik toe Lettie na asem soek. “Sammy het ’n boodskap gelos. Hy sou met jou kontak maak sodra hy veilig by sy bestemming aangekom het. Van daar sou hy alles verduidelik. Hy en Jemima gaan ’n nuwe lewe saam begin.”

“Jy lieg! Jy het hom vermoor! Nou kom sit en verkoop jy snert aan my.”

“Dis die waarheid. Wag net so. Ek gaan haal my selfoon. Hy sou ’n boodskap stuur om te sê of hulle veilig in die Oos-Kaap aangekom het.”

“Ek sal dat die polisie Sammy vandag nog gaan haal. Lafaard!”

“Die polisie kan nie jou man dwing om terug te kom nie. Sorg liewer dat jy ’n goeie prokureur kry. Sammy wil skei. Hy het bewyse van hoe jy hom aangerand het. Hy het foto’s van sy lyf ná die aanrandings geneem en vir Jemima gestuur. Sy het alles op file. Sammy is klaar met jou.”

“Hoekom kon hy nie self vir my sê nie?” vra Lettie.

“Hy is bang is vir jou. Ná die stories wat Sammy gisteraand vertel het, sien ek maar ’n eensame pad vir jou. Jy kan net jouself blameer vir wat nou hier gebeur.”

“Sammy dink seker ek sal hom so maklik daarvan laat afkom. Ek gaan hom ry vir elke sent wat hy het. Hy het boonop gejol ook,” sê sy smalend.

“Wanner, nogal?” vra Devan en sien hoe sy verkleur. “Gisteraand was die eerste keer dat Sammy alleen uitgekom het, behalwe vir werk toe gaan. Hy was 24 uur onder jou oog. Selfs sy kontak met Jemima was ’n geheim. Ek het onwetend die geleentheid geskep en Sammy het dit met albei hande aangegryp.”

“Dis net nadat hy met jou betrokke geraak het dat hy skielik so braaf geword het,” sê Lettie.

“Sien jy waarvan ek praat? ’n Man het vriende nodig om hom te help en versterk wanneer hy nie meer die krag het om homself te dra nie,” sê Devan.

“Jy gaan boet. Sammy ook.” Albei skrik toe iemand aan die deur hamer. Devan beduie met sy oë dat die vrou moet stilbly. Dis dalk nou Oupatjie.

“Meneer Maars, dis AO Jonas. Maak oop die deur. Ons weet jy is daar.”

Verlig strompel Devan na die deur. Met die intrapslag sien Jonas die vrou daar sit.

“Net die vrou wat ek soek. Ons weet waar jou man is. Daar is ’n klein probleempie. Hy het vrywillig die pad gevat. Dis uit ons hande en daar is geen misdaad gepleeg nie, Mevrou.”

“Hoe weet jy?” vra Devan.

“Gina het vertel wat gisteraand gebeur het. Jy is uit die dog box. Ons het ook vir Oupatjie ’n waarskuwing gegee. Hoop hy los jou nou uit. Ek stel voor jy begin ook op ’n nuwe blaadjie. Die video het groot skade aangerig.

“Volgens Gina het dit gesirkuleer en by een van jou buurvroue deurgekom wat dit na jou vrou aangestuur het, glo in die oggendure toe jy tiep. Met die buurvrou se hulp is sy glo vroeg vanoggend hier weg met ’n geleentheid.”

Jonas beduie vir Lettie om op te staan. Met hangskouers stap sy by die deur uit.

Devan stap sleepvoet in die gang af.

Nadat hy sy selfoon aangeskakel het, wag hy vir die boodskappe om deur te stroom. Janice het hom gisteraand gesoek en sy foon is oorlaai met boodskappe van Sammy. Hy klink opgewonde en gelukkig.

Devan wens hy kon gisteraand uitwis en ook soos Sammy oorbegin. Hy besluit om sy vrou te skakel. Ná ’n paar probeerslae besef hy sy is nog nie gereed om met hom te praat nie.

Hy besluit toe om ’n boodskap te stuur om te hoor of sy en die seuns oukei is. Hy vra om verskoning vir sy gedrag en belowe weer om die drank te los.

Die dag is amper om toe Devan ’n SMS kry: “Vandag was ons huweliksherdenking. ’n Dag wat ons moes vier, maar wat doen jy op ’n dag soos dié? Ek het agt jaar van my lewe op jou gemors. Wel, nie ’n minuut langer nie. Ek wil skei en gaan hier aanbly. J”

Devan sak op sy knieë neer en ween. Hy huil oor die drank sy lewe en alles in dit vernietig het. Soos die spreekwoord sê: Spyt kom altyd te laat.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters