Verlede maand
Lena en die polisie besef hulle moet dringend hulp kry
 ~ 

GENIET vandag hoofstuk 4 van nog ’n verhaal deur die ou hand SALMON SMITH. Hy roep hom “Die Vreemde Klong”.

VASGENAEL staar AO Geswindt en sers. Parring na die grond hier voor hulle toe hulle op die oop kol tussen die digte bome by hul kollegas aankom.

Sers. Masinga en konst. Oranie kyk in afwagting na hul bevelvoerder vir sy reaksie op dit wat hulle nou hier ontdek het terwyl hulle na die sogenaamd verlore laitie gesoek het.

Geswindt se mond hap egter oop en toe soos hy na woorde soek.

“W-wat de hel?” hyg hy.

Voor hul voete is ’n netjiese, ronde gat in die grond. Dit is omtrent 1 m diep en 3 m in deursnee. Al rondom die rand van die gat is ’n mooi sirkel in die gras gebrand. Selfs die klippe rondom is swart gebrand.

“W-wat is dit?! Wat het dit veroorsaak?!” hyg Geswindt. Hy haal sommer sy pet van sy kop af en vee die reën- en sweetdruppels daarmee van sy gesig af.

“Ons wetie, AO. Ons het so op dit afgekom!” sê Oranie.

“Onthou AO daai weerlig wat met so ’n moerse gerammel geslat het?” vra Masinga skielik.

Geswindt knik.

“Ek onthou nou ek het gesien hoe dit die bosse hier in die kloof tref,” gaan Masinga voort.

“Nou wonder ek of dit nie hiér is waar dit die grond getref het nie. Ek en Oranie was nog daardie tyd besig met plaaspatrollies. Ek het nog byna die bakkie omgegooi van skrik.”

Skielik besef Geswindt die erns van die situasie. Hy kyk streng na Masinga en Oranie.

“Het julle aan enige iets geraak toe julle hier kom?” vra hy vinnig.

Albei skud hul kop.

“Nee, Adjudant! Ons was te bang!” sê hulle gelyk.

“Oukei, reg so. Die gebied kan radioaktief wees. Daardie blits was nie regte weerlig soos ons dit ken nie, want toe dit slat, was daar geen donderwolke in die lug nie.

“Weerlig ontstaan net in donderwolke. So, ons weet nie wat daardie straal energie veroorsaak het nie. Dalk iets uit buitenste ruim wat uit die hemel geval het.”

“Ja, Adjudant, daardie weerligstraal het groenblou gelyk en nie soos die gewone een nie. Toe was daar daardie snaakse swaelreuk in die lug,” las Masinga by.

“Ja, hier hang nou nog ’n swaelreukie in die lug,” laat banggat Parring ook van hom hoor.

“En wat nou van daardie verlore klonkie, Adjudant?” vra Oranie. “Foei tog, hy moes mos sy moer los geskrik het toe daardie straal hier naby hom in die bosse slaan.”

“Ongelukkig moet ons die soektog na die klong vir eers stop totdat dit lig word, Oranie,” antwoord Geswindt.

“Ons moet nou eers aandag gee aan dié fenomeen. Ons moet die nodige experts uitkry. Parring, gaan jy en Masinga na ons voertuie en kry die kordonlint. Ons moet die hele gebied afsper.”

LENA Karbonkel skrik uit haar diep slaap wakker. ’n Oomblik lank is sy gedisoriënteer.

Die eerste ding waarvan sy bewus raak, is dat sy op haar rusbank in die voorhuis is.

Sy kyk na die voorhuisvenster se kant toe. Dis al lig buite en die sonnetjie loer net-net oor die bergtoppe.

Sy besef dit reën nie meer nie. Gisteraand se donderstorm is iets van die verlede.

Toe tref iets haar soos ’n voorhamer: Sy is nie alleen nie!

Stadig draai sy haar kop na die verste hoek van die voorhuis. Dáár sien sy die vreemde seun. Hy lê en slaap op die naat van sy rug op die vloer.

Sy trek haar asem skerp in. So, sy het nie gisteraand se gebeurtenis gedroom nie. Dit hét gebeur, gaan dit deur haar gedagtes.

Lena spits haar ore. Sy hoor sy rustige asemhaling. Sy besef hy is diep in droomland. Altans, sy hoop so.

Saggies staan sy van die rusbank af op en sluip na die voordeur. Sy moet nou net ongesiens hier uitsluip en by iemand uitkom sodat hulle die polisie kan bel.

Sy kyk vlugtig terug na die slapende klong. Hy lê steeds roerloos. Met opgehoue asem draai sy saggies aan die deurhandvatsel.

Toe die deur met ’n harde kraakgeluid oopgaan, besef sy sy het dit nooit die vorige aand gesluit nie. Sy vries en loer weer na die seun se kant toe. Haar hart klop hoog in haar keel.

Op die oog af lyk dit nie asof die deur se geluid hom wakker gemaak het nie.

Sy maak die deur versigtig oop, net wyd genoeg vir haar om deur te glip.

Toe mol sy deur die opening en trek die deur weer saggies toe. Sy staan ’n rukkie om asem te skep. Sy spits haar ore.

Toe sy geen geluid daar binne hoor nie, trippel sy die drie trappies van die stoep af. Sy hardloop om die hoek en mol vir die sandpaadjie wat vanuit haar kleinhoewe loop tot by die woonbuurt daarnaas.

So in die verbygaan sien sy Pluto lê diep in sy hok. Dit lyk asof hy te bang is om uit te kom.

Toe sy by haar kleinhoewe uithardloop, kyk sy vlugtig om. Haar hart mis ’n slag toe sy die seun se gesig duidelik in die syvenster van haar voorkamer sien. Dit lyk of hy met woede in daardie diep ingesonke oë na haar loer.

Lena storm by die eerste jaart op die hoek in en hamer aan die deur. “Oe, Jarre, Nelie, maak tog net oep die deur, assamblieftog!” gil sy.

Die deur word oopgepluk en Nelie Oppelt kyk grootoog na Lena. “My jitte, Lena, dit lyk asof jy ’n spook gesien het. Wat gaan aan?!”

Sonder om te antwoord storm Lena verby Nelie haar huis binne en gaan plak haar sommerso op die rusbank neer.

Verstar staan Nelie en staar na die bewende vrou.

“Nelie, moetie net daar staan nie! Kry vir my suikerwater dat my nerves net kan bedaar!” beveel Lena.

Vinnig maak Nelie vir Lena suikerwater en prop dit in haar bewende hande. Gulsig slurp Lena die suikerwater op en gee die glas aan Nelie terug. “Ta!” is al wat sy sê. Sy vee die laaste druppeltjies van haar mond af.

“Oukei, Lena Karbonkel, vertel my nou hoekom jy so vroegoggend hier in my huis sit en lyk soos iemand wat ’n spook gesien het!” por Nelie haar aan.

“N-Nelie, j-ja, dis nes jy daar sê. Ek hét ’n s-spook gesien. A-altans, ek dink dit was ’n spook wat ek gesien het. Nee, man wragtig, dit ís ’n spook!” stotter die geskokte Lena deurmekaar.

“Oukei, Lena, haal diep asem, dan vertel jy my wat aangaan.”

Voordat Lena kan voortgaan, ruk haar kop skielik deur se kant toe en sy snak na haar asem. Haar oë rek pieringgroot.

Nelie se kop swaai ook in daardie rigting. Haar hart mis ’n slag.

In haar oop voordeur staan ’n klein seuntjie in oudtydse klere. Hy gluur hulle met yskoue, donker, bose oë aan.

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters