19 dae gelede
Leila is desperaat om uit Bishop se kloue te ontsnap
 ~ 

SONLANDERS, ’n splinternuwe verhaal van GWENDOLINE KORDOM, “Die Plan”, skop vandag af.

Geniet gerus nou die eerste hoofstuk.

DIE sandpaadjies lyk dieselfde. Leila moes rigting verloor het.

Sy hoor ’n beweging. ’n Tak wat kraak.

Sy slaan in die sand neer. Hier tussen die duine behoort sy onsigbaar te wees, maar wie sal hoor as hy haar inhaal?

Haar donker oë soek na lewe. In die laaste skemer van die dag raak dit ál moeiliker om te sien. Sy sukkel op haar voete.

Haar hand skuif instinktief na die wond in haar sy waar die koeël haar rakelings getref het.

’n Dun straaltjie bloed sypel nou daaruit.

Sy staar grootoog na die straal toe dit teen haar been af kronkel en in die wit sand wegsink. Sy moet hier weg.

Bishop is sommer baie naby na aanleiding van die gedempte voetstappe agter haar. Leila bereik die laaste duin.

Êrens raas branders aan haar regterkant.

Die reuk van seelug hang in haar neus. Sy bereik die soom van die strand.

Daar laat sy die koue water oor haar voete spoel.

Sy het haar sandale in een van die kronkelpaadjies verloor.

Haar kakie-kortbroek is vuil besmeer, seker van al die val.

Die gebrul van ’n motorenjin in die nabyheid laat haar kop ruk. Sy maak haar mond oop om te skree, maar haar stem is skaars ’n fluistering.

Leila span al haar krag in en hardloop agter die dreuning aan. Sekondes later jaag haar asem.

’n Brandpyn steek in haar bors. Sy blik terug. Bishop het uit die niet verskyn.

Hy is nou ’n paar meter agter haar.

’n Hees gil bars deur haar droë lippe. Sy weet dis tickets as Bishop haar in die hande kry. Dié keer sal hy nie misskiet nie.

Sy wil nie sterf nie. Sy wil leef.

Tonele flits voor haar verby. Sy sien hulle – drie pragtige vroue in die fleur van hul lewe.

Haar boesemvriende, weggeruk deur die koue hand van die dood.

’n Snik ruk deur Leila se bors. Trane vul haar oë.

Cynthia, Natasha en Bianca se ontydige dood rus op haar skouers. Haar man, Dino Maartens, het gesorg dat hul lewenslig vroeg verdoof word. Omdat sy al die reëls verbreek wat hy neergelê het.

Hoe moes sy raai dat daardie sjarmante man inderwaarheid ’n monster is?

Soms moes dié einste Bishop in die middel spring wanneer hy haar in een van sy buie getakel het. Was sy wragtig so naïef om te glo sy leef ’n sprokiesverhaal?

Sy het op hierdie oomblik niks om voor te leef nie. Sy weet blykbaar te veel en Dino wil haar ten alle koste stilmaak.

Bishop het die afstand tussen hulle verkort.

Die dreuning is naby. Leila se voete kry vlerke. Sy bars deur die beboste strook agter die geluid aan.

Bishop gaan haar nou gouer probeer inhaal. Hy moes ook die dreuning gehoor het.

Leila bereik ’n kaal kol in die bos en sien net betyds hoe ’n grys motor vertrek. Angs laat haar vorentoe beur.

Sy skree: “Help my!”

Wonderbaarlik genoeg ruk die motor tot stilstand. Leila skiet soos ’n voëltjie uit ’n kou. Dan is sy by die voertuig en pluk die deur oop. Sy ploeg in die sitplek neer.

“Ry!”

Die donkerkopman agter die stuurwiel staar met pieringoë na haar en trek dan met ’n stink spoed weg. Haar oë skeur oor die omgewing, maar nêrens is daar ’n teken van Bishop nie. Waar het hy so skielik heen verdwyn?

“Wie is jy en wat de hel gaan hier aan?” vra die vreemdeling.

Sy donker oë boor in hare.

’n Beweging in die truspieël waarsku Leila, maar dis te laat. Die glas van die agterruit spat in skerwe. Die volgende oomblik vlieg koeëls verby haar kop.

Dit los ’n massiewe gat in die ruit. Die motor tol al in die rondte en slaan dan op sy sy neer.

Leila word soos ’n lappop uit die voertuig geslinger. ’n Duisternis wil haar oorval toe sy die grond tref. Sy veg verbete daarteen en lig haar beseerde lyf op. Sy moet hier weg voordat Bishop verskyn.

Sy kyk terug. Wat van die man?

Hy is vasgekeer in die motor. Sy kan hom nie aan sy eie genade oorlaat nie.

Hy het immers gestop om haar te help en nou lê hy daar.

Maar hy is blykbaar ’n man wat nie op hom laat wag nie. Hy wriemel homself los uit die sitplek en staan binne sekondes langs haar.

Hy kyk na haar. ’n Kyk wat sy al voorheen by Dino gesien het. Maar sy oë laat nie vrees in haar opstoot soos met Dino nie.

“Vat jouself en ploeter op jou eie aan,” sê hy.

“Ek is jammer,” sê Leila.

“Jammer gaan nie help as ek ses voet ses lê nie. Jy is groot moeilikheid. Dis duidelik uit al die skote wat op my motor geskiet is.”

Leila lig haar betraande oë na hom. “Help my net asseblief om hier weg te kom. Ek smeek jou.”

“Dalk het ek dit nie hard genoeg gesê nie. Bly asseblief uit my pad.”

Toe Leila weer sien, stoom hy van haar af weg. Sy kyk besluiteloos rond, dan hinkepink sy agter hom aan. ’n Paar meter verder gaan hy staan. Dan skud hy sy kop in ongeloof.

Hy staar na die prentjie van die bedremmelde vrou in die skemerlig. Op enige ander dag sou hy nie twee keer gedink het om haar te help nie. Vandag is egter ? ander storie.

Vandag is hy en Yvonne se sesde huweliksherdenking.

Hy wou dit hier by die see vier. Juis gekom omdat hy nie op ’n ander plek wou wees nie. Hier kon hy na die geraas van die branders luister en voortgaan met die skryf van sy brief.

Yvonne sal dit egter nooit ontvang nie, want sy is nie meer hier nie. Die skryf van die briewe hou hom egter aan die gang. Keer dat hy nie in depressie verval nie.

Hy wou hom versuip aan die twee bottels Tequila wat hy saamgebring het. Wou homself ook in die see versuip.

Hy het egter nie met sy planne geslaag nie. Terwyl hy daar in die water rondspartel, was daar telkens ’n onsigbare hand wat hom bo die oppervlak gehou het.

Selfs die see sien nie kans vir ’n stuk gemors soos hy nie. ’n Man wat sy vrou met haar eie suster verneuk het. Dít terwyl sy met kanker op ’n hospitaalbed stry.

Hy besluit toe om op te pak.

Soos die noodlot dit wou hê, slaan die wiele van sy motor in die sand vas. Ná ’n lang gesukkel was hy op pad en toe verskyn die vrou uit die niet.

Hy hoor toe Yvonne se stem in sy ore pleit: “Help haar, Carlo.”

“Kom,” sê hy bruusk. Sy is binne sekondes langs hom, maar hy let ook op hoe sy elke tweede minuut oor haar skouer loer.

Hy wonder of hy nie liewer die geheimsinnige vrou aan haar eie genade moes oorlaat nie. Vir dié tipe moeilikheid sien hy wragtig nie kans nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters