15 dae gelede
Layla wil vir Shaun vertel, maar sy kan nie
 ~ 

HALLO, Sonlanders!

Vandag gaan ons voort met die verhaal “Die Geheim” uit die pen van NICOLETTE FOULDIEN. Geniet nou die sesde hoofstuk.

EK WORD wakker van ongemak in my nek. Ek het gedurende die nag in Shaun se arms beland.

Hy lê op sy rug en my been is hoog oor sy middel gegooi.

Ek skuif versigtig van hom weg. Sy oë fladder slaperig oop. Ek spring op en besef te laat dat ek slegs my T-hemp aan het. My onderlyf is ontbloot en die einaklein bikini bedek net die nodige.

Ek vlieg by die deur uit en sak skaam op die toiletpot neer. My mond proe of ’n hond daarin geslaap het. Ek borsel eers my tande voordat ek op my spore terug sluip en hoop dat Shaun weer aan die slaap geraak het. Die hoop beskaam egter.

Hy lê en rook en kyk my onbeskaamd en met tergende oë aan toe ek ingestap kom en die hempie so laag as moontlik oor my heupe probeer trek.

Donna se bed is leeg. Ek skuif maar weer langs Shaun in toe hy die komberse vir my oplig asof hy my gedagte gesnap het.

Hy rook rustig sy sigaret.

Ek vat ’n skyf daarvan voordat ek dit in die asbak op die bedkassie dooddruk.

Ek is spyt toe Shaun opstaan. My oë volg elke beweging wat hy maak en ek kan nie anders as om sy lang, lenige, sexy lyf te bewonder nie. Hy stap na sy kas, krap daarin en kom dan terug met iets agter sy rug versteek.

Hy kom sit voor my op die bed en vra my om my oë te sluit, wat ek verbaas doen. Sy aanraking voel sag teen my nek toe hy my hare oplig en iets fyn en koud kom rus op my bors. Sy lippe kom rus saggies op myne en ek maak geskok my oë oop. Dit ontmoet syne hier vlak by my en ek verdrink byna in die lig groenbruin dieptes. “Geluk met jou verjaarsdag, Layla.”

My mond val oop.

Ek het skoon vergeet! Maar hoe weet hý? En die hangertjie! Dis presies die een wat ek uitgekies het die aand met ons uitstappie! Dit lê blink en ragfyn op my bors. Die goue hartjie met die fyn diamantjies skitter in die dowwe lig en ek besef oorstelp dat dit die kosbaarste en mooiste geskenk is wat ek al ooit van enige iemand, Riaan inkluis, ontvang het.

“Jinne, Shaun … Ek weet nie wat … Dankie!” stamel ek met trane in my oë.

“Dis niks nie, Layla. Dis jou verjaardag en ’n mooi meisie soos jy kan nie verjaar sonder ’n diamant as geskenk nie.”

My hande kruip vanself om sy nek en ek klou soos ’n drenkeling aan hom vas, honger vir die liefde wat hy my bied en wat ek nou so nodig het.

Sy hande vlieg soos vlinders oor my bewende lyf en ek voel hoe die hitte stadig besig is om my te verswelg.

Dis Mandy wat ons wreed tot ons sinne ruk toe sy die kamer binnekom om ’n handdoek te kry.

Sy kyk skaars in ons rigting.

Ek weet nie of ek moet spyt of dankbaar wees vir die onderbreking nie.

Dinge kon só maklik handuit geruk het en ek weet ek sou te hulpeloos gewees het om myself te keer.

“Layla, onthou jy die eerste dag toe julle hier aangekom het? Hoe diep ek in jou oë gekyk en jy ongemaklik jou blik laat sak het?”

Ek knik. Hoe sal ek dit ooit vergeet?

“Ek weet nie presies nie, maar daar was iets in jou oë wat tot my gespreek het. Ek kon so baie dinge daarin sien. Pyn, ontnugtering? Jy het so weerloos gelyk.

“Ek wou jou daar en dan in my arms neem, jou beskerm teen wat ook al jou so laat lyk het. Ek kon nie verstaan wat jy by Mandy maak nie. Julle is so verskillend. Mandy is nie jou soort nie en enige een kon dit ’n myl ver sien. Ek het jou stilletjies begin dophou, gehoop dat jy een of ander tyd uit jou eie sal vertel om watter rede jy tot hier gekom het. Wat die oorsaak van jou pyn is, maar jy het net dieper in jou dop gekruip elke keer as ek probeer uitvis het.

“Ek weet ek kon enige tyd vir Mandy gevra het, maar ek wou nie. Ek wil dit by jóú hoor.

“Ek wil hê jy moes teenoor my oopmaak en sê wie jy werklik is of was voor die ding met jou gebeur het wat jou so seergemaak het.

“Maar jy het nie en ek kon nie keer om desondanks steeds vir jou lief te word nie. Ek wou, en glo my ek het hard probeer, maar ek kon nie my gevoelens van jou weerhou nie. Wat my grotendeels gehelp het om in beheer te bly, was dat ek besef het die enigste mens wat jou so kon seermaak, moet ’n man wees. En as dit so erg was dat jy moes wegvlug, is dit beslis nie ’n maklike storie nie.

“ ’n Mens hardloop tog nie weg vir niks nie, Layla? Ek kan ook aanvoel jy hunker nog en ek wil nie tweede beste wees nie. Wie die man ook al is en wat jul rede mag wees, jy sal my in jou vertroue móét neem.

“Ek het dit nodig om te weet. Dis hoekom ek die hele tyd terughou. Wie sê dis na my wat jy smag? ’n Liggaam is verraderlik, Layla, en seks is nie altyd liefde nie, vra maar vir my, ek weet.

“Ek gaan jou nie druk nie. Ek is bereid om te wag totdat jy reg is om hieroor te praat, maar terwyl ek in die duister is, sal die ander dinge moet wag. Ek kan nie die verhouding verder vat as ek jou nie regtig ken nie.”

Dan draai hy na my. Sy arm skuif om my lyf en ek lê roerloos totdat ek sy reëlmatige asemhaling hoor. Die trane kielie my wang, maar ek vee dit nie af nie. Laat dit net oor my wange loop.

Shaun wil weet! Ag, Here, ek kan hom nie sê nie!

Ek wil nie hê hy moet my só ken nie.

Hy sal nie verstaan nie. Hoe kan ek hom sê ek is as 16-jarige verkrag? Of dat ek later met my verkragter ’n verhouding begin het, al het ek geweet hy is getroud. En dubbel so oud soos ek. Dat ek byna ’n gesin opgebreek het? Hoe vertel ek hom dat ek ‘n swerwer sonder ’n ouerhuis is omdat my familie my verstoot het? Dat ek skande oor ons huis gebring het? Hoe sê ek hom van my en Riaan se dinge?

Dat ek besoedel is op die mees ondenkbare manier. Dat ek ’n stukkende mens was voordat hy my met sy liefde begin heelmaak het? Ek kan nie!

Dinge sal nooit weer dieselfde tussen my en Shaun wees as hy van Riaan moet weet nie! Ek wil nie hê hy moet weet nie. Riaan is die bittere verlede. Ek wil hom heeltemal agter my sit.

Daar is nie plek vir hom tussen my en Shaun nie. Shaun mag nie eens sy naam hoor nie. Ek sal dit ook nooit oor my hart kry om vir Shaun te lieg en sommer ’n storie vir hom op te dis nie.

Ek sal moet hoop en bid hy sal my uiteindelik aanvaar soos ek is. Dat ons liefde sal oorwin en dat ek die verlede finaal agter my kan sit.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters